Is dit waar wat hulle sê oor mans: Dat hul speelgoed net duurder word? Of kán jy die seunskind in jou man verander . . . en die belangrikste vraag: Wíl jy?
Terwyl jul oudste kind sy verjaardaggeskenk oopmaak, kyk jy skuins na manlief. Skielik blink sy oë, jy kan sweer sy hartklop versnel en dit is moeilik om sy opgewondenheid mis te kyk, terwyl hy jul vyfjarige help om die blink papier met geweld van die geskenk af te skeur. Voor jy jou oë uitvee, gryp hy die inhoud van die pakkie – ’n radiobeheerde motorboot – en hol swembad toe. Dan onthou hy om sy kind, wie se geskenk dit eintlik is, ook aan die hand te gryp, hy maak ’n U-draai en woerts uit by die deur. ’n Uur later vang Seun weer goggas en Pappa speel voort. Jy staan verstom! Kan ’n uitgegroeide man regtig só begeesterd raak oor iets wat jy by Toys R Us gekoop het?
Ja, glo dit of nie, maar hy kán!
In hul boek The Man Whisperer (Adamsmedia) skryf Donna Sozio en Samantha Brett dat elke vrou getroud wil wees met ’n mán, nie ’n seun nie. Jou man kan waarskynlik nie verstaan wat fout is daarmee om heeldag Playstation te speel, die toiletsitplek op te los en air guitar te speel saam met Metallica nie, maar selfs mánlike manne gedra hulle steeds soos seuns. En terwyl jy dit as kinderagtig beskou, sien hy dit as deel van wie hy is. En hy is reg – alle mans is inherent seuntjies. Hulle hou van speelgoed, gadgets, ’n aand saam met die ouens en hulle wil nie hê jy moet hulle uit die speelgoedfabriek verwyder nie …
’n Hedendaagse Peter Pan is ’n man wat probeer “man” wees in die werkplek, maar nooit by die huis grootword nie. Hy maak finansieel staat op vroulief en sal date night skip ter wille van die rugby. Hy dink boonop die rusbank is die mees romantiese plek ter wêreld! So, wat maak jy met ’n Peter Pan? Donna en Samantha meen die geheim is om vir jou man te “fluister” sodat hy sy jong gees kan behou sonder om die verhouding te saboteer!
Die een groot reël wat die basis van alles vorm …
Moet hom nooit verhoed om te doen wat hy wil nie, maar moet hom ook nie heeldag sy sin gee nie. Hoe meer jy vir hom “mamma-mamma” speel, hoe meer bederf raak hy en, meen die skrywers, bedorwe mans is geneig om te soek na groener weivelde. Hoekom? Vir manlief om ’n “grootmens” te word, moet hy sy ma “verraai” deur haar te los en groot te word.
Sommige ma’s gee hul seuns nie daardie vryheid nie en baie dikwels dink sulke mans dat hulle die wêreld invaar teen mamma se wense in. Hy probeer om sy skuldgevoelens teen te werk deur een ma vir ’n ander “ma” te verruil. En wie is dit? Jy! As jy daardie rol vervul, maak jy die situasie net erger. Hoekom moet hy sy eie besluite neem as jy dit vir hom doen? As jy alles vir hom doen, het hy geen rede om uit te gaan en enigiets te bereik nie.
Kan jy ’n seunskind in ’n man verander? Die antwoord is eenvoudig: Nee.
Maar jy kan ’n seunskind inspireer om te kies om soos ’n man te begin leef. Al wat jy kan doen, is om sy kinderagtige gedrag af te keur en om hom te prys wanneer hy wel soos ’n grootmens optree. As jy hom mooi laat verstaan wanneer hy oulik opgetree het, sal hy probeer om jou selfs meer tevrede te stel. Maar die enigste een wat hom in ’n man kan laat verander, is hy self.
So, is manlief ’n seunskind of ’n man?
Daar is heelwat verskille tussen ’n seun en ’n man. ’n Man gee jou duidelike seine en sê wat hy wil hê, terwyl ’n seun vir jou wag om die leiding te neem. Terwyl jy ’n seunskind moet vermaak, besluit ’n man op die datum en plek van dates (maar neem jou voorkeure darem in ag!). Hy beskou homself as ’n voorsiener en ’n beskermer wat vir jou sorg, terwyl ’n seunskind gelate al jou geld en geskenke sal aanvaar en van jou sal verwag om sy gevoelens te spaar. ’n Man dien jou en neem besluite om jou tevrede te stel, terwyl ’n seun net homself tevrede wil stel en van jou verwag om hom te bedien. ’n Man is reguit en eerlik en bly by sy woord, terwyl ’n seun hom nie veel hieraan steur nie. Hy werk hard aan sy status en bied jou meer as net sy penis (’n seun dink sy penis is die grootste geskenk wat hy jou kan gee!). ’n Man is vrygewig, lojaal en in beheer van sy emosies. ’n Seun is lojaal aan sy lieste!
Hoe om ’n seun in ’n man in te “fluister”: Vyf stappe! Onthou dat jý hom nie kan verander nie, maar dat jy die proses van hóm wat homself wil verander, kan versnel:
- Hou op om sy gevoelens te probeer spaar. Vertel hom hoe jy voel en wat jy nodig het. Hou aan om dit te doen en sê dat hy hiermee moet deal – só kry hy selfvertroue.
- Bly stil en laat hóm dinge regmaak, oplossings soek, planne maak … Practice makes perfect!
- Waardeer die aksiestappe wat hy neem om ’n man te word. Jy sal sien hoe hy stelselmatig begin om die leiding te neem, meer planne vir julle maak en verantwoordelikheid neem sonder om bakhand voor jou te staan.
- Wees geduldig. Besluit hoeveel tyd jy bereid is om hieraan te bestee en hoe lank jy bereid is om te wag.
- Weet wat is jou tydlyn. Jy stel ’n innerlike ultimatum en sodra daardie sperdatum verby is, kan jy dit met hom deel. Vertel hom dat jy besig is om ongeduldig te raak en dat hy ’n plan moet maak om te shape!
Het hy slegs ’n jong gees?
Maak seker jy weet wie is jou man. Is hy ’n onverantwoordelike Peter Pan wat weier om groot te word, of is hy ’n verantwoordelike, volwasse man wat steeds ’n jong gees het? Volwasse mans kan ook speels wees, grappe maak en hou van blink karre! As joune laasgenoemde is, moedig hom aan om selfs méér jonk van gees te wees. Dit verminder manlief se stres en help hom om langer te leef. As jy onseker is of hy in hierdie kategorie val, vra jouself drie belangrike vrae:
- Wat doen hy om jou te koester en vir jou te sorg?
- Wat doen hy om jou lewe veilig en gemaklik te maak?
- Watter pogings wend hy aan om jou gelukkig te maak?
As jy antwoorde hierop kry wat jou tevrede stel, is hy volwasse genoeg. ’n Volwasse man weet wie hy is, want hy weet hoe om oplossings te kry, omdat jy hom toelaat om die probleem te hanteer. Hy gebruik sy krag en vaardighede om die beste woning vir sy vrou en kinders te skep. Onthou: ’n Man ken slegs sy krag as hy kans gehad het om dit te demonstreer – jy moet hom toelaat om dit te wys.
En as ’n vrou ’n man het wat die meeste van die tyd volwasse optree, behoort sy hom so nou en dan die vrypas te gee om uiting te gee aan die seunskind in homself. As jy dus tevrede is met manlief, is dit onnodig om te kla as hy vra om op ’n kamp-uitstappie of visvang-trip te gaan. Want as jy dit nie doen nie, is daar die risiko van die boy-in-the-man backlash, wanneer hy besluit om in elk geval te doen wat hy wil, selfs sonder jou goedkeuring, omdat hy dit só graag wil doen dat hy bereid is om jou straf te trotseer …
Dink mooi daaroor – dit is lekker om getroud te wees met ’n man wat jonk van gees is. Hulle is groot pret! En hulle help jou om ook pret te hê – solank hulle weet wanneer om die pretknoppie weer af te skakel en verantwoordelik te wees.
Nog ’n belangrike reël: Moet hom nie simpel laat voel nie!
’n Man het nodig om te weet dat ’n vrou sal saamspeel met die seunskind binne-in die man. Dat jy na sy drome en planne sal luister sonder om dit af te maak as simpel. Onthou, dit gaan nie oor die Formule 1-resieskar of die Harley Davidson nie … dit gaan oor die onvervulde seunskind-droom. En daar was altyd ‘n pragtige vrou langs hom in daardie boot of kar – dis jy! Luister na sy drome en probeer om dit – op ’n manier – waar te maak. Vir jou lyk dit dalk na geldmors, maar dit kan sy gedagtes, gees en hart ’n hupstoot gee. ’n Hupstoot wat daardie jeugdigheid en energie kan terug kanaliseer in jul huwelik in!