Jy kan nie onthou wanneer laas jy ʼn middel gehad het nie, en as jy nou jou CV moet opdateer, sal Lemon Meringue-koningin heel bo-aan staan. Die televisiekamer is knusser as die gimnasium en die skaal is diep weggebêre … maar hoe lyk dinge in jou slaapkamer?
Fisieke aantrekking is noodsaaklik vir seksuele vonk. Een persoon se gewigstoename kan ʼn verhouding dramaties beïnvloed. Miskien het jou maat se seksdrang die laaste tyd baie getaan — dit laat jou dalk onaantreklik en onbegeerlik voel. Wanneer ʼn mens se lewensmaat sy/haar sekslus verloor, wonder jy vanselfsprekend wat verkeerd is met jou, terwyl dit eintlik by jou maat kan lê. En dikwels is die oorsaak nie té min sakke sout nie, maar té veel sakke suiker! Hier is ʼn paar dinge om in ag te neem:
• Vier uit vyf mans met erektiele disfunksie (ED) het ʼn liggaamsmassa-indeks groter as 25. (ʼn LMI van meer as 30 word as obees beskou.)
• Oorgewig mans met ʼn 28.7 LMI het ʼn 30% groter kans om ED te ontwikkel as ʼn man met ʼn normale gewig, aangesien ʼn hoër gewig gelykstaande aan swak bloedvloei is,wat weer ED veroorsaak.
• Oorgewig vroue se seksualiteit word ook deur swak bloedvloei geaffekteer, omdat dit ʼn vrou se lyf baie minder reaktief laat en eindelik tot lae begeerte lei.
(Dié feite is deur WebMD verskaf.)
Daar word geskat dat 30% oorgewig mense ook aan probleme met hul sekslewe, of lae, seksuele drange en prestasie lei, en daar word beweer dat hierdie probleme direk met obesiteit verband hou. Mense wat oorgewig is, het hoë hoeveelhede cholesterol in hul bloed, iets wat seksuele prestasie kan inhibeer. Insulienweerstandigheid en tipe 2-diabetes het ook ʼn negatiewe effek op seksuele prestasie (www.cocyberty.com).
Omdat jy dalk jou gewigsprobeem mettertyd ontwikkel het en jou seksuele begeerte ook stelselmatig afgeneem het, sien jy nie noodwendig ʼn verband tussen hierdie twee elemente nie, maar dit is definitief daar. Seksprobleme ontstaan omdat oormatige liggaamsvet die are wat bloed na die penis voorsien en die funksionaliteit daarvan verminder of stopsit. Dit het ook ʼn effek by vroue, omdat ʼn vrou se seksuele reaksie en begeerte negatief geaffekteer word as die bloedvate wat na ʼn vrou se klitoris lei, vernou word. En natuurlik het obesiteit ook ʼn negatiewe uitwerking op jou selfbeeld!
Asof dit nie genoeg is nie, is bevind dat oormatige liggaamsvet tot hoër vlakke van die sekshormoonbindende globulien lei, wat die liggaam se sekshormoon, testosteroon, inhibeer. Daar is egter goeie nuus. ʼn Studie wat in 2005 by ʼn wetenskaplike vergadering van die Obesiteitsvereniging voorgehou is, het getoon dat meer as 1000 oorgewig mense probleme met seksuele genot, seksdrang en seksuele prestasie gerapporteer het, of gesê het dat hulle seks heeltemal vermy, teenoor slegs vyf persent van hul eweknieë wat ʼn normale gewig gehandhaaf het.
Die goeie nuus wat uit die studie vorendag gekom het, is dat selfs net matige gewigsverlies ʼn positiewe impak op ʼn mens se seksualiteit kan hê. Daar is nie bepaal of hierdie probleme sielkundig of fisiologies is nie, maar daar is definitief gevind dat gewigsverlies oorgewig vroue meer selfversekerd laat voel, het Martin Binks, hoofnavorser, gesê (www.healthyplace.com). Gewigsverlies van slegs 5 kilogram kan alreeds genoeg testosteroon vrystel om die seksdrang ʼn hupstoot te gee (www.cocyberty.com). By die vergadering is onthul dat mense wat slegs 10 persent van hul totale liggaamsgewig verloor het, gerapporteer het dat die gehalte van hul sekslewens dramaties verbeter het.
Voor die studie het vroue gesê dat hulle onaantreklik voel en nie bereid is om kaal deur Manlief gesien te word nie. Teen die einde van die studie het slegs 25% van hierdie vroue steeds seksueel onaantreklik gevoel, nádat hulle 12 % van hul aanvanklike gewig verloor het. (www.weightloss.about.com)
Wat maak jy as jou maat, of jou eie obesiteit jou sekslewe beskadig?
Om die kwessie van gewig met jou hartlam te bespreek, is ʼn sensitiewe saak. Natuurlik gaan Manlief nie van oor tot oor glimlag as jy vir hom vra of hy regtig daardie ribbetjies behoort te eet ná die gewig wat hy die afgelope tyd aangesit het nie. So graag as wat jy wil, kan jy hom nie verplig om die droëwors met selderystokkies te vervang, of elke oggend tien kilometer te gaan draf nie.
Gewigspraatjies moet op die regte manier en op die regte tyd benader word. Manlief weet baie goed wat reg en wat verkeerd vir sy lyf is. Jy vertel hom niks nuuts as jy hom oor die vingers raps oor daardie ses biere nie — hy weet goed ʼn bier is gelykstaande aan ʼn brood. Jy moet hom aanvaar en waardeer vir wie hy is, sodat hy ontvanklik vir jou waarskuwings sal wees wanneer die tyd reg is.
Onthou dat wanneer jou man se selfbeeld in die hek duik, sy seksdors ook daaronder ly en dan gaan dit vir hom moeilik wees om in die bui vir seks te kom. As hy boonop aanvoel dat jy hom veroordeel, gaan hy byvoorbeeld nie entoesiasties wees om voor jou uit te trek nie.
As dit jy is wat die addisionele gewig met jou saamdra, onthou dat seksuele geluk baie met houding te doen het. Moet jouself dus nie té veel opdraande gee nie. Studies toon dat bykans 30% oorgewig mense seksuele probleme het, maar ook dat ongeveer 70% oorgewig mense bevredigend in die slaapkamer vaar (www.advice.askmarsvenus.com).
Dit is egter belangrik om jou gewig dop te hou. Gewigsverlies mág dalk net jou sekslewe verbeter, en boonop is vetsug sleg vir jou gesondheid. Daar is ook bewys dat oefening baie voordele vir jou sekslewe kan inhou. Joga, fietsry of vinnig stap kan bloedvloei na die spiere in die dye, bekken en boude stuur, wat goed is om seksuele begeerte en reaksie op te bou. Oefening wat bloedvloei na die genitalieë aanhelp, word aanbeveel, want dit lei tot beter opwekking en ereksie, beter vloei van natuurlike smeermiddels en ook beter orgasmiese funksionering.
So, as jy effens benoud voel oor wat die Desembervakansie aan jou lyf gedoen het, vermeerder jou opsitte, trek aan jou draftekkies en kort voor lank voel jy weer vuur en vlam buite sowel as in die bed!