Elke man weet dit: Jy het waarlik ’n behoorlike kaart of gehalte GPS nodig om by jou vrou se hart uit te kom. En as jy slim is, bly jy op die snelweë en probeer jy die afdraaipaadjies miskyk . . .
Jy wil in jou vrou se goeie boekies bly. Nie omdat jy vir haar bang is nie (hoewel daar hier en daar ’n Adam is wat nie sal skroom om te erken dat dit wel die geval is nie!), maar omdat daar soveel voordele aan verbonde is. As jy mooi soet was, kyk sy vir jou met ’n sexy glimlag, buk ekstra laag voor jou, trek vir jou mooi goedjies aan en verras jou meer gereeld met ’n laat aand. As jy minder soet was, kry jy die koue skouer en die wind van voor. Heeldag. Heelnag. Vir weke . . . so nee – dít is nie ’n opsie nie.
Dit is geen geheim dat ’n vrou ’n komplekse wese is nie – daarom dat ’n kaart na haar hart vir die gemiddelde man so ’n reuse bedreiging inhou. Daar is allerlei kortpaadjies, maar gewoonlik is daar ’n catch en dink jy net jy het so pas ’n oulike een ontdek, besef jy te laat dit is ’n grondpad met talle bulte en gaan die ryery maar met hikke en stote (soos wanneer jy ’n wit leuentjie vertel om haar horisontaal te kry). Daarom lig ons vir jou die vyf betroubare snelweë na vroulief se hart uit. Dit gaan jou relatief vinnig neem om daar uit te kom, en jy kan daarop staatmaak.
Die snelweg van tradisie
Noem die naam Clark Gable of Frank Sinatra, en kyk na die meeste vroue se gesigsuitdrukkings. Oud en jonk. Ja wat, sedertdien het talle Gladiators, Mr Smith’s en Braveheart’s in die prentjie gekom, maar ongelukkig het nie een van hulle daardie ouwêreldse sjarme wat vroue se knieë destyds lam gemaak het nie. Miskien het dit iets daarmee te doen dat saam met gelyke regte wat intussen gebore is, mans nie meer gemaklik voel om vroue te “verower” nie, wie weet?
Maar hier is iets wat jy altyd moet onthou: Elke vrou wil graag hê haar man moet vir haar daardie ekstra tree stap. Om ’n vrou te verower, sal dalk vereis dat jy moet terugblaai in jou argiewe en gaan kyk hoe jy gevoel en opgetree het toe jy haar destyds probeer beïndruk het. Jy het (hopelik!) vir haar die deur oopgemaak, aan haar lippe gehang. Jy het deur die tranetrekkers gesit en langtand aan Griekse disse geëet. Jy het jou laaste sente op ’n bos blomme uitgegee en vir haar ’n liedjie vol spelfoute geskryf.
En weet jy wat? Dit is deels die rede hoekom jy haar gewen het. Maar toe die jagtog verby is, het jy teruggeleun en lui aan jou prooi gesmul. As jy regtig jou vrou gelukkig wil maak, is dit egter nodig om jou sjarme af te stof. Maak haar jou nommer een prioriteit en sien hoe haar houding teenoor jou verander.
WENWENK: Druk haar vas in die gang deur haar hande bo haar kop vas te hou en haar hartstogtelik te soen. Moenie veel verder verwag nie. As jy haar klaar gesoen het, draai om en stap weg maar maak seker jy bestel ’n bos lelies of ’n orgidee saam met ’n mooi nota oor hoe verlief jy steeds op haar is.
Die snelweg van bewondering
Hierdie snelweg vereis dat jy soms die afstandbeheer sal moet bêre, want ons almal weet dat multi-tasking vir mans ’n uitdaging inhou. Sy wil egter hê jou mond moet letterlik oopval wanneer sy in haar nuwe skemerkelkie-rok te voorskyn kom. Dat jy “Wow!” moet sê wanneer sy haar hare gesny het en dat jy by die braai openlik moet vertel watter fantastiese ma sy is – mits jy werklik só dink.
As dit bloot nie is wie jy is nie (soms sukkel mans om entoesiasme te toon, dit het te doen met daardie emosie-ding), kan jy jou bewondering toon deur dit te wys. Deur na haar te kyk asof jy elke sentimeter van haar lyf begeer wanneer sy halfkaal bed toe kom, deur gereeld vir haar te glimlag, haar hand vas te hou en jou arm om haar lyf te sit asof jy sê: “Hierdie wonderlike vrou is mýne . . .”
Dit is natuurlik om ander vroue se skoonheid te bewonder (’n man is nie ’n klip nie), en dit is vanselfsprekend dat jy ook uitsonderlike bewondering vir ander vroue in jou lewe het, soos jou ma en jou pragtige klein dogtertjie, maar sy moet weet daar is niemand wat jy op dieselfde manier en vlak bewonder as vir haar nie.
Dit is jou taak om haar deur die rooskleurige bril te sien waardeur sy soms sukkel om haarself te sien. Jy moet haar foute aanvaar (daardie dinge wat saam met al haar perfekte eienskappe van haar die unieke vrou maak wie sy is) en klem lê op haar positiewe eienskappe. Hoe meer jy haar ophef, hoe meer gaan sy jou vertrou en die beste geskenk wat jy haar kan gee, is die wete dat daar ’n getroue man aan haar sy is wat haar altyd veilig sal laat voel.
WENWENK: Wanneer julle weer in die openbaar is (by ’n partytjie of ’n familie-ete), sit jou arm om haar lyf en trek haar styf teen jou vas. Sonder dat jy dit direk vir haar sê, kommunikeer hierdie gebaar dat jy trots is op die vrou met wie jy getroud is en haar steeds bewonder.
Die snelweg van kommunikasie
Oe, ons weet: Julle haat hierdie woord, want elke gesprek oor verhoudings word met “kommunikasie” gepeper. Maar daar is ’n rede hiervoor. Vroue wil praat en mans wil swyg, en dít maak kommunikasiestyl dikwels een van die grootste verskille tussen mans en vroue. Vroue glo dat swak kommunikasie ’n verhouding bedreig en statistiek toon dat die Evas reg is. Dit is een van die grootste oorsake van egskeidings en verbreekte verhoudings.
Dit maak nie saak wat jy sê nie, maar praat met jou vrou! Dit laat haar spesiaal voel wanneer jy openlik met haar gesels en selfs bereid is om jou weerloosheid te toon. Om oor jou onsekerhede te praat, maak nie van jou ’n swakker man nie – inteendeel. As jy met haar praat, laat dit haar belangrik voel, want sy weet jy vertrou haar genoeg om jou hart teenoor haar oop te maak. En luister. ’n Vrou voel gekoester wanneer sy kan sien jy is regtig geïnteresseerd in wat sy sê sonder om te wonder wat jy volgende gaan sê of watter raad jy gaan uitdeel.
WENWENK: Begin ’n nuwe ritueel in julle huis. Elke dag as julle albei by die huis is, skakel die ketel aan, maak vir haar ’n koppie koffie en gaan sit oorkant haar. Maak oogkontak en vra haar hoe haar dag was. Luister na elke woord – so mooi dat jy na die tyd volpunte vir ’n begripstoets sou kry!
Die snelweg van respek
Wat beteken respek in jul huwelik? Eerstens – dat jy haar menings waardig ag en haar intelligensie op die prys stel. Daar word dikwels gesê dat ’n vrou geseënd is met intuïsie. In haar boek, The idiot’s guide to pleasing your woman, skryf Eve Salinger dat wat eintlik bedoel word, is dat vroue ’n groot hoeveelheid kreatiwiteit het gekombineerd met common sense.
Elke vrou is wys en as jy haar wysheid erken, voel dit vir haar of jy haar respekteer en verstaan. Sy wil hê jy moet soms na haar opkyk. ’n Vrou wil nie voel asof sy haarself herhaaldelik moet bewys nie, maar dat jy moet weet sy is nie jou mindere nie. Sy wíl graag onder jou beskerming staan – nie omdat sy aan jou ondergeskik is nie, maar omdat sy ’n vrou is en omdat jy haar graag wíl beskerm.
Jy moet leer hoe om haar soos ’n vrou te laat voel sonder om meerderwaardig teenoor haar op te tree. As jou vrou ’n uitvoerende direkteur, oorlogskorrespondent of brandbestryder is, moenie haar taaiheid oorskat nie. Sy wil steeds hê jy moet haar vroulikheid erken. Jy mag haar nie verwyt vir haar trane nie, want dit maak haar nie minderwaardig nie, maar ’n spesiale, empatiese wese wat tot alles in staat is waartoe jy in staat is, maar wat tog ook op soveel gebiede van jou verskil – en dit is goed.
WENWENK: Volgende keer, as jy met ’n taai situasie by die werk sit waar jy byvoorbeeld twee kollegas moet afdank, praat met haar. In plaas daarvan om in jou grot te kruip en te wonder hoe jy hierdie situasie gaan hanteer, se vir haar: ‘Kan ek jou opinie vra?’ En hoor hoe sy die saak sou benader. Die feit dat jy haar mening waardig ag, sal meer vir haar beteken as wat jy ooit sal besef.
Die snelweg van erkenning
Daar is nie iets soos ’n vrou wat nié besig is nie. As jy wil stry aangesien jou vrou nie ’n salaristrekker is nie, maar ’n voltydse ma, wil ons jou uitdaag om een dag in haar skoene te staan! Die meeste vroue het ’n huishouding wat bestuur moet word, kinders wat versorg moet word en die rol van eggenoot om te vervul. Baie van hulle is ook ’n werkende ma/vrou/eggenoot.
’n Vrou is emosioneel beskikbaar vir haar gesin én haar vriendinne. Sy bring baie ure op haar knieë deur om vir haar gesin se beskerming te bid en sy doen klein goedjies waarvan jy waarskynlik nie eers altyd bewus is nie (soos om ’n snyplek beter te soen of ’n verjaardaggeskenk vir jou sussie se kind uit te soek).
Behalwe vir die druk om goed te dóén, is daar die druk om goed te lýk – vir jou. So, hier is iets om te onthou wat deur jou hele lewe vir jou baie kan beteken: Dit maak nie saak hoe onafhanklik en emosioneel sterk jou vrou is nie, géén vrou kan gelukkig en vervul voel sonder enige erkenning nie. Sy het nodig dat jy dít wat sy doen, raaksien. Gee vir haar ’n kompliment. Tap vir haar ’n bad. Gaan lees vir die kinders ’n storie. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel liggaamlike energie ’n vrou wat emosioneel vol is in haar reserwetenk bêre!
As jou vrou dalk nie die laaste tyd is wie jy graag wil hê sy moet wees nie, of as die sekssessies ’n bietjie few and far between raak, gaan terug na die kaart toe en bekyk jou roete met ’n vergrootglas as dit moet. As die tannie van jou interne GPS praat, luister, al maak dit nie sin nie! Sy mag dalk net ’n punt beethê.
WENWENK: Gaan koop vir haar iets wat sy lankal in die winkelvenster begeer. Dalk ’n mooi rok, ’n paar skoene, ’n boek, of ’n stelletjie oorbelle. Draai dit op jou heel mooiste toe (hierdie deel is baie belangrik!). Bestee geld op mooi geskenkpapier, ’n kaartjie en ’n strik en gee dit vir haar. Sê vir haar: ‘Iets vir jou, sommer net omdat ek waardeer hoeveel jy vir my doen/dink.’, ‘Jy is ’n goeie ma vir ons kinders’, ‘Dankie dat jy die laaste tyd so swaar gedra het aan ons almal se drama’s’, of net ‘Sommer omdat jy jy is.’
Geïnspireer deur: The idiot’s guide to pleasing your woman, deur Eve Salinger.