Daar was ‘n man wat ‘n ope hartoperasie moes ondergaan en die man was uiters gespanne oor die hele prosedure. ‘n Vriend het hom aangeraai om met die hartchirurg te gaan praat en hom uit te vra oor die hele prosedure. Die dokter moes alles vir hom in detail vertel. Die dokter het en toe hy by die deel kom waar die dokter sy borskas oopmaak om by sy hart uit te kom, het die man baie aandagtig geluister. Die dokter het vertel hoe hy die man se hart sal uithaal uit sy borskas. Net voordat die dokter egter kon aangaan het die man die dokter gestop en gesê: “Hier is my hart” (Hy het sy vuis na die dokter uitgehou) Hy vra toe: “Hou my vuis vas soos wat jy op daardie oomblik my hart gaan vashou” Die dokter het gedoen wat die man gevra het en nadat die man vir ‘n paar oomblikke sy oë toegemaak het, het hy vir die dokter gesê dat hy nie verder die prosedure hoef te verduidelik nie, want as hy op so hierdie manier sy hart sal vashou, dan vertrou hy die dokter met die hele prosedure.

Promosie

In ‘n huwelik hou ons mekaar se harte vas, ons word op ons troudag vertrou met ons maat se hart. Harte is baie delikaat, maar gee die lewe en sorg dat die bloed wat die liggaam nodig het al die plekke bereik waar daardie lewe nodig is. Die hart moet te alle tye beskerm word, want as dit seerkry, dan word jou die lewe direk aangetas. Daarom dat die hart een van die bes beskermde organe in ons liggaam is. Hy word weggesteek en toegevou deur die ribbe en ons borskas vorm as’t ware die veilige holte waar die hart kan rus en sy werk kan doen, sonder enige bekommernis van aanvalle en seerkry. In die huwelik is ons daardie ribbekas en sagte omhulsel wat ons maat nodig het om die beste te kan wees in die huweliksverhouding wat hulle kan wees.

Om veiligheid en geborgenheid in jou huwelik te ervaar is iets waarna elke paartjie moet strewe. Die spasie wat tussen twee mense is, is die spasie waar veiligheid nodig is. As ‘n paartjie daardie veiligheid ervaar sal hulle bereid wees om enige iets in daardie spasie neer te sit. Daardie spasie tussen twee huweliksmaats  kan vergelyk word met ‘n stuk grond. Die paartjie moet altyd sorg dat die stuk grond tussen hulle vrugbaar en sag bly. As die stuk grond hard en onvrugbaar is, sal die paartjie daardie hardheid direk ervaar in hulle eie lewens.

Neem byvoorbeeld ‘n stuk grond in jou tuin en bedek dit met ‘n seil, sodat gee water naby dit kan kom nie. Trap nou een keer ‘n dag vir ‘n jaar lank hard op hierdie stuk grond. Na ‘n jaar sal daardie stuk grond hard wees en jy sal baie moontlik ‘n tuinvurk nodig hê om die grond om te dolwe. Die spasie tussen twee huweliksmaats kan vergelyk word met so ‘n stuk grond, dink ‘n bietjie hoeveel keer paartjies hard op daardie stuk grond trap in een dag deur dinge wat gesê  en gedoen word teenoor mekaar. Paartjies bedreig dus self hierdie spasie waar hulle mekaar se harte moet vashou sonder om die implikasie van hierdie stappe te besef.

Promosie

Greg Smalley het ‘n proefsteek gedoen en uitgevind dat paartjies veilig by mekaar voel as hulle van die volgende ervaar:

  • ‘n Gevoel van algehele sekuriteit
  • Aanvaarding vir wie jy is.
  • Ontspanne en gemaklik
  • Vry om uitdrukking te gee aan wie jy werklik is
  • Onvoorwaardelik liefde
  • Respek
  • Vertroue
  • My huweliksmaat is daar vir my
  • Ek word verstaan
  • Waardering en eer
  • Geen veroordeling
  • Foute word aanvaar as deel van die pakket
  • Oop kommunikasie

Maar watter voordele hou veiligheid dan in?

Dit kommunikeer waarde

Elke mens wil ervaar dat hy of sy waarde het. Die eerste  plek waar jy dit moet kry is by die Here en dan moet daardie waarde bevestig word deur jou huweliksmaat.

Dit vestig gesonde jaloesie.

Gesonde jaloesie het te doen met die eksklusiwiteit en priorteit in die huwelik wat almal soek. Die Here is ‘n jaloerse God en dit is ‘n eienskap van Hom wat daarop dui dat Hy nommer 1 wil wees. Net soos ons maats die nommer 1 wil wees in ons lewens. Veiligheid skep hierdie wete dat daar niemand en niks anders is wat daardie prioriteitsplek inneem nie.

Veiligheid veroorsaak dat daar meer intimiteit in ‘n huwelik is.

Intimiteit dui op kwesbaarheid en deursigtigheid. Dit dui op die oopmaak van wie jy is teenoor iemand en die 100% aanvaarding van wie jy is. Ware intimiteit vind plaas in die wete van sekuriteit en absolute aanvaarding, sonder enige voorgee.

Dit skep ‘n gesonde atmosfeer vir oop gesprek en kommunikasie. Paartjies kom in ‘n spasie waar hulle mekaar hoor en mekaar wil hoor.

Die grootste behoefte wat paartjies het is om gehoor te word.

Hoe kan ons veiligheid in ons verhouding help vestig?

  1. Bid saam as ‘n paartjie en vra jou maat se inspraak en opinie in sake.
  2. Kies om daaraan te werk: Veiligheid kom nie van self nie.
  3. Moet nie belangrike besluite neem sonder mekaar nie.
  4. Kommunikeer gereeld oor jou behoeftes en maak seker dat jou maat presies weet wat dit is en ook hoe dit aangespreek kan word. Komplimenteer mekaar as dit wel aangespreek word.

Vrae wat jy vir jouself kan vra om vas te stel of daar wel veiligheid in julle verhouding is, is:

  1. Is daar enige deel of aspek van jou lewe wat jy jou maat nie in toelaat of sal toelaat om oor te praat of jou oor terreg te wys nie?
  2. Is daar enige deel in jou lewe waarmee jou maat nie saamstem nie en wat jy nie bereid is om te laat gaan of op te offer nie?
  3. Is daar dinge wat jy gereeld vir jou maat wegsteek?
  4. Is daar woorde van blamering, kritiek, vernedering of oordeel tussen jou en jou maat?

Veiligheid is ‘n gedeelte waaraan baie min aandag in ‘n deursnee huweliksverhouding gegee word, alhoewel dit die grootste faktor is wat effektiewe konneksie in ‘n huwelikspaartjie aanspreek.

Kies veiligheid en die huis van julle huwelik sal ‘n skuilplek vir beide van julle wees teen die storms van die lewe.