Skoonma: Net die naam alleen is genoeg om vir baie vroue rillings al teen jou ruggraat af te gee. Daar hang ‘n donker wolk oor diè naam en baie vroue kan ‘n ure-lange gesprek met jou voer oor alles wat hulle skoonma verkeerd doen, hoe irriterend sy is, en hoe sy haar neus orals indruk waar dit nie hoort nie. Daar is vroue wat na hulle skoonma verwys as ‘Monster-in-law’ en sommige het glad nie ‘n verhouding met hulle skoonma nie.
Toe ek my man ontmoet het, het hierdie prentjie van ‘n skoonma in my gedagtes rond gefloat. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ek het glad nie uitgesien om iemand (soos bogenoemde) as ‘n skoonma te hê nie.
Maar die dag toe ek vir my man sê “I do” toe kry en nie ‘n skoonma nie, maar ‘n MA. Ja, ons het ons verskille gehad en selfs ‘n tif of twee gehad terwyl ek en my man nog verloof was, maar sy was glad nie die monster wat almal uitgemaak het ‘n skoonma is nie. Sy was my BESTE vriendin – iemand met wie ek alles sou deel. Van my diepste hart geheime tot my wildste drome. Ons sou ure lank saam sit en gesels…sommer oor allerhande dingetjies. Ons sou saam lag en saam huil. Hoekom? Omdat sy GEKIES het om so te wees. Syt altyd gesê dat die dag wanneer haar seuns trou, kry sy nie ‘n skoondogter nie – sy word ‘n dogter ryker.
In ons samelewing word ‘n skoonma dikwels as skyf vir grappies en kritiek gebruik. Maar in die boek Rut lees ons ‘n familieverhaal waarin die hoofkarakters, ‘n skoonma en haar skoondogter, ‘n baie goeie verhouding het. Dit is ‘n verhouding wat selfs onder moeilike lewensomstandighede steeds hegter word omdat die onderbou daarvan besondere menslike eienskappe is. Eienskappe soos lojaliteit en getrouheid aan mekaar en aan familiewaardes, stel Naomi en Rut in staat om nie alleen vir ‘n beter toekoms te beplan nie, maar dit ook met durf en waagmoed te verwesenlik. Deur trou en lojaliteit word nie alleen ‘n sterker gemeenskap gebou nie, maar elkeen wat getrou en lojaal is, baat self ook daarby. Uit standvastige families kom individue met inisiatief en waagmoed wat ook in God se koningkryk nuttige burgers kan wees.
My skoonma is nie meer hier by ons nie. Sy was skielik met breinkanker gediagnoseer in Desember 2015 en het haar stryd teen kanker verloor in Januarie 2016. Party dae hol my gedagtes die vlaktes in; versmoor die verlange my; en voel dit of my trane my wil verdrink.
Aan die van ons wat nog ‘n skoonma gaan word (eendag in die toekoms), kom ons maak ‘n keuse om ‘n goeie skoonma te wees. Kom ons wees ‘n skoonma wat so impak in jou skoondogter of skoonseun se lewe maak dat hulle sal kies om deel van jou lewe te bly – permanent!
Soos Rut wat agter Naomi aangegaan het en die volgende gesê het: “Maar Rut het geantwoord: ‘Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sale k bly; u volk is my volk; u God is my God; Waar u sterf, sal ek sterf en daar begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”
(Rut 1:16+17)
Liefde
M
#VROUWEES
#VSE