Begin klein en eindig groot. Dit klink baie abstrak, nie waar nie? Maar deur met babatreë te begin, kan jy binne ses weke groot veranderinge in jou huwelik bewerkstellig. Dít is hoe . . .
Daar is twee tipes mense onder ons – diegene wat ’n taak met oorleg aanpak: Hulle doen voorbereiding, oorweeg alle scenario’s en doen die ding stap vir stap, geduldig. Die ander tipe is holderstebolder. Hulle soek groot resultate – vinnig.
En ja, die ideaal is om ’n goeie huweliksboek saam met jou maat te lees en ná die neersit van daardie boek oornag ’n omwenteling van jou huwelik te beleef. Daar ís gevalle waarin wonderwerke oornag plaasvind, maar kom ons vertel jou ’n geheim: In die meeste huwelike is dit ’n geleidelike, tydsame proses en verbeter jy jou huwelik deur veranderinge te maak wat eintlik belaglik klein lyk, maar uiteindelik ’n dramatiese verskil in jou huwelik kan maak.
Op sy blog simplemarriage.net skryf Corey, die stem agter Simple Marriage en ’n gelisensieerde huweliks- en gesinsterapeut en berader, die volgende: “Belaglik klein is die roete om te kies. Toe ek en my vrou saam op ons laagste punt was, het ons hierdie idee toegepas sonder dat ons dit eers geweet het. Ons het geweet ons soek iets beters, maar dit het só ver gevoel.
“Só ons het klein begin. Ons het ’n paar dinge van ons kalenders afgehaal, vir berading gegaan, gesels en tyd saam deurgebring. Ons het nie oornag ’n beter huwelik gehad nie, maar ons het die reis begin – en dit is die punt. Ons het – só jy kan ook.”
Soms kan groot doelwitte jou oorweldig en teleurstel. Oorweeg dus om jou groot doelwit op te breek in klein, doenbare doelwitte en só jou reis na grootheid te begin.
STAP 1: Stel ’n oorkoepelende doelwit vas!
Wat is jul oorkoepelende doelwit vir jul huwelik op hierdie oomblik? Dit kan enigiets wees. Gaan sit met ’n pen en papier en skryf dit neer. Die oorkoepelende doelwit vir ‘n huwelik verskil van paartjie tot paartjie. Julle s’n kan byvoorbeeld een van die volgende wees:
- Ons doelwit is om ons huwelik uit te bou en op te bou tot op die plek waar ons in vrede en harmonie met mekaar leef, en sodat ons elke dag gelukkig en vervuld kan opstaan.
- Ons doelwit is om ons huwelik weer op die plek te kry waar dit in die eerste drie jaar na ons troudag was.
- Ons doelwit is om die Goddelike roeping vir ons huwelik te soek – daardie roeping waarvoor God ons bymekaargevoeg het.
- Ons doelwit is om net weer met mekaar te práát en nie meer by mekaar verby te leef nie.
- Ons doelwit is om ons goeie huwelik nóg beter te maak sodat ons as rolmodelle vir ons vriende en in ons kerk kan optree.
STAP 2: Dink prakties wat julle nodig het om hier te kom
Terwyl bogenoemde stap baie abstrak is en amper as ’n missiestelling dien, moet julle nou dink wat julle nodig het om by bogenoemde stelling uit te kom. Byvoorbeeld:
- Ons het meer tyd nodig om nader aan mekaar te beweeg.
- Ons kommunikasiestrategie het meer werk nodig.
- Ons moet leer hoe om konflik op ’n daadwerklike manier uit te stryk.
- Ons moet meer opwindende dinge saam met mekaar doen.
- Ons moet leer om weer na mekaar te kyk deur die oë van pasgetroudes.
- Ons moet meer stiltetyd saam hou sodat ons nader aan ons roeping kan kom.
STAP 3: Begin met belaglike klein veranderinge
Stap drie is om selfs nóg meer praktiese te raak. Dink aan watter gewoontes ’n daadwerklike verskil in jul huwelik kan maak. Dink klein en probeer om twee hiervan per week in jul huwelik te implementeer:
WEEK 1:
- Hou jul slaapkamer sensueel. Julle hoef nie derduisende rande te bestee aan ’n nuwe slaapkamer nie – klein veranderinge kan ’n groot verskil maak. Verwyder al die kinderspeelgoed uit jul kamer. Doen weg met papierwerk en onnodige ornamente wat jul kamer onnodig vol en onromanties maak.
- Teken een afspraak in jul dagboeke aan. Julle hoef nie nou ’n weeklikse (of selfs ’n maandelikse) afspraak aan te teken nie – maak net een datum in die nabye toekoms vas. En as dit in jul lewens beteken dat julle die kinders slegs twee ure by vriende kan gaan aflaai om alleentyd te hê, is dit vir eers genoeg.
WEEK 2:
- Laai ’n toep op jul slimfone af waarmee julle ingeteken word om een enkele Bybelvers per dag te ontvang. Wanneer julle jul oë oopmaak, lees hierdie Bybelvers hardop vir mekaar.
- Wanneer jou maat met jou gesels, sit jou selfoon neer. Dit is ’n eenvoudige stap tot beter kommunikasie en wys vir jou maat dat jy hom/haar jou onverdeelde aandag gee.
WEEK 3:
- Begin met beter maniere. Let vir een dag op hoe jy met jou maat praat en lê klem op basiese maniere, soos om “Asseblief”, “Dankie” en “Ek is jammer” te sê.
- Dink aan een ding oor jou lewensmaat waarvoor jy dankbaar is. Dit kan iets wees soos “Dankie vir my man se geduld met my” of “Dankie dat hy vandag raakgesien het dat ek moeg is en aangebied het om die kinders sport toe te vat”. Dank God hiervoor – en sê ook vir jou maat dankie.
WEEK 4:
- Verander een klein gewoonte van jouself wat jou maat irriteer. Is dit die feit dat jy jou handsak op die kombuisblad neersit, of jou naels voor die televisie vyl? Verander hierdie week net dié een klein dingetjie en kyk na jou maat se reaksie.
- Doen moeite om aan jou maat te raak. Dit hoef nie dramatiese omhelsings te wees nie, maar aanraking met jou voete in die bed, ’n hand op sy been in ’n geselskap, ’n piksoen terwyl sy kosmaak, ’n drukkie voor slaaptyd . . .
WEEK 5:
- Praat met jou maat in sy/haar liefdestaal. Dit hoef nie ’n reuse gebaar te wees nie, maar hê jou maat dié week lief soos hy/sy liefgehê wil word:
- Gee ’n geskenke-mens ’n blommetjie of ’n sjokolade.
- Vertel ’n woorde-mens hoeveel jy hom/haar vandag waardeer het.
- Help ’n diensbaarheid-mens met ’n taak wat hy/sy haat.
- Spandeer vyf minute per dag ekstra met ’n tyd-mens.
- Bederf ’n pret-mens met ’n paar ballonne of ’n kielie-marathon.
- Sit saam met ’n aanraking-mens op een bank.
- Verdubbel jul aksie in die slaapkamer. Is julle gewoond daaraan om twee keer per week seks te hê? Doen dit dié week vier keer. Klink een keer per dag meer soos julle koppie tee? Wat van twéé keer per dag? Onthou, seks is meer as fisieke pret – dis intimiteit.
WEEK 6:
Kyk eerlik na hoe julle die afgelope vyf weke gevaar het. Watter van die veranderinge het gewoontes geword en watter sal julle graag gewoontes wil maak? Watter hiervan het ’n groot impak op jul huwelik gemaak en watter het nie juis nie? Hou dít wat waardevol was en skrap dít wat nie juis gehelp het nie – tensy jy voel dat jy ’n bietjie meer tyd nodig het hiervoor om ’n impak te maak. Begin nou met jul nuwe, hersiene, vyfweek-siklus en kyk hoe jul huwelik met ’n paar klein verskille gróót resultate kry!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.calmhelathysexy.com, www.simplemarriage.net.