Kan ’n tweede huwelik met dieselfde persoon suksesvol wees? INTIEM het gesels met lesers wat dié paadjie gestap het.
Na 12 jaar van die getroude lewe, waarin twee pragtige seuntjies gebore is, het Anzel en Gerhard se paaie geskei.
“Gerhard en ek het net kontak verloor, ons albei het lang ure gewerk en al ons ekstra tyd saam met die kinders deurgebring – ons het net verby mekaar begin leef. Na drie jaar van aanploeter, moes ons dit maar erken: Ons huwelik het net heeltemal verbrokkel.”
Ná die egskeiding het Anzel weer tyd op haarself begin bestee, met nuwe stokperdjies begin en nuwe fasette van haarself ontdek. Sy het met kunsklasse begin en vinnig haar vriende se huise en haar eie vol van haar skeppings gemaak. Sy was op ’n reis van selfontdekking op soek na eiegeluk.
Vir die kinders se onthalwe het Gerhard en Anzel steeds gereeld kontak gehad en belangrike dae, soos die seuns se verjaarsdae, saam deurgebring. Hulle het soms vir koffie ontmoet en die seuns se vordering bespreek, of waar die kinders die vakansie deur gaan bring. Maar die onderwerpe het mettertyd verander na terugblikke van goeie, getroude dae, liefdesteleurstellings, en dié tyd wat hulle saam spandeer het,het amper weer ‘normaal’ gevoel.
Kort voor lank het Gerhard vir Anzel vertel hoeveel hy haar mis, en hy en Anzel het saam ’n tweede troue oorweeg.
Meer as net vriende?
Sodra die ink op die egskeidingsdokument droog is, sien baie geskeide paartjies uit na ’n toekoms van nuwe mense ontmoet en later ook nuwe verhoudings begin. Sommige vind dit wel moeilik om afstand van die voormalige huwelik te kry. Dit kan wees as gevolg van kinders in die huwelik, of net ‘n afhanklikheid van mekaar, hetsy finansieel, emosioneel of seksueel.
Vriendskap tussen ’n geskeide paartjie is natuurlik ’n goeie ding, veral in gevalle waar kinders betrokke is. Die kinders word gerusgestel dat ma en pa mekaar nog respekteer, al bly hulle nie meer onder dieselfde dak nie.
Maar sal die geskiedenis nie net homself herhaal as paartjies ’n tweede keer trou nie?
“Nie altyd nie,”sê Denise Knoetse, ’n huweliksberader van Johannesburg.
’n Gedeelde geskiedenis
”Om ’n gedeelde verlede te hê, is ’n groot aanwins vir enige verhouding,” verduidelik Denise.
“Paartjies wat getroud was, ken en verstaanmekaar soveel beter, en dis natuurlik baie belangrik vir ’n suksesvolle verhouding.
“Hertrou is ’n goeie idee indien albei partye, in die tyd toe hulle weg van mekaar was, selfondersoek gedoen het en gewerk het aan die elemente wat tot die egskeiding bygedra het. Soms voel mens hulle ’verloor’ hulself in ’n huwelik en ná die egskeiding fokus hulle dan weer op aktiwiteite en mense wat vir hulle belangrik is. Só herbelyn hulle weer hul belangstellings en drome. Deur dit te doen,is jy nie dieselfde persoon wie jy in die huwelik was nie en jy het ’n beter kans om dit die tweede keer te maak werk.
“Tog belangriker as selfondersoek is die paartjie se bereidwilligheid om van die tweede probeerslag ’n sukses te maak. Die paartjie moet ’n doelgerigte poging aanwend om dié kans te laat uitwerk. Dis maklik om terug te val in ou gewoontes saam met iemand wat jy so goed ken, maar as dit gebeur, gaan die verhouding nie werk nie.”
Wanneer paartjies besluit om hul huwelik weer ’n kans te gee, wil almal altyd weet: “Hoekom het julle dan in die eerste plek geskei?”
In sommige gevalle is ’n egskeiding ’n drastiese, maar suksesvolle, manier om vir die egpare te wys wat hulle eintlik gehad het in hul huwelik, en dit gun hul ook die geleentheid om ruimte te kry en dinge in perspektief te kan plaas sodat hulle ’n weldeurdagte besluit kan maak.
Tyd om te herfokus
“Sommige geskeide paartjiesvind, met die verloop van tyd, dat hulle afstand kry om te herfokus op die goed wat hulle oorspronklik aangetrokke teenoor mekaar gemaak het, en die perspektief om die kat uit die boom te kyk en die redes vir die egskeiding in perspektief te kan plaas.”
Dis soos die ou gesegde sê: Jy weet nooit wat jy het, voor jy dit verloor nie. Dis moontlik ook waarom seks met die eks altyd so aanloklik lyk – om te weet daar is iets wat jy nie kan kry nie, maak dat ’n mens dit tog soveel meer wil hê.
Daar is egter dié wat hul gevoelens versigtig ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle wel terug by hul vorige huweliksmaat wil wees. Is dit dan werklik nodig om weer deur ’n troue en die wettige en finansiële verpligtinge te gaan, eerder as om net saam te wees?
Tweedetroue of tweedekans?
”Vir sommige paartjies is ’n volskaalse troue ’n manier om van voor af met hul geliefde te begin, opnuut beloftes af te lê en ’n skoon blad om te slaan,” verduidelik Denise.
Vir ander, soos in Marike en Bert se geval, is dit nie altyd nodig nie.
”Ná ons egskeiding het ons vir ’n ruk lank probeer om mekaar te vermy, en letterlik net gepraat as ons moes. Daardie jaar was vir my baie moeilik. Ek was ’n enkelouer wat voltyds gewerk het en in die middae nog my kinders moes gaan oplaai en aflaai het, net om hulle eers weer laat die aand te sien. Ek het in dié tyd soveel van myself en my eie vermoëns geleer– diep binne my het ek nooit gedink ek sou ooit die krag hê om uit ’n huwelik te loop wat nie gewerk het nie, wat nog van voltyds werk en na twee seuns omsien!
”Ek dink ook nie Bert het ooit gedink ons sal skei nie, al het ons gedurig daaroor gepraat en gedreig. Die feit dat ek deurgedruk het daarmee, het hom laat skrik en hy het besef dat hy ook aan homself gaan moet werk indien hy ooit weer ’n suksesvolle huwelik wil hê.”
Dít het hy gedoen: Hy het vir berading gegaan, weer begin oefen, en meer tyd aan sy kinders bestee. Hy het, soos in die ou dae, weer begin vlerksleep by haar. Hy het haar op afsprake uitgeneem, wegbreek-naweke bespreek, blomme aangedra . . .
”Ons het weer by mekaar ingetrek en soos man en vrou geleef. Die kinders was verjeug, maar ookskrikkerig en het op eiersgeloop as ons twee strygekry het. Ons het wel besluit om nie weer te trou nie – in my kop is hy my man en ek sy vrou. ’n Huweliksdokument gaan my nie anders oortuig nie. Dit is nou al agt jaar later en ons is nog baie gelukkig saam. Getroud of nie, ek is lojaal teenoor dié man en sal nooit daarvan droom om weer die pad te vat nie – party goed is die moeitewerd om hard aan te werk.”
Maar as dit nie werk nie?
“Die kans dat ’n huwelik die tweede keer nie gaan werk nie, is nie veronderstel om enigsins groter te wees as die kans dat die eerste huwelike onsuksesvol sal wees nie. Dis nou as julle hard werk aan die mense wat julle geword het, en wegbly van die slaggate van die verlede,” stel Denise gerus.
“Daar is wel dikwels gevalle waar die paartjie terugval in hul ou gewoontes en dieselfde probleme weer na vore kom. Hier herhaal die geskiedenis homself en die paartjie staan kort voor lank weer in die skeihof.
“Dit is dus baie belangrik om ’n nugter besluit te maak oor om weer te trou, al dan nie. ’n Goeie idee is om saam na ’n huweliksberader te gaan en jul planne en vrese met hom of haar te bespreek, sodat hulle julle hierop kan voorberei.”
Vertrou jou sesde sintuig. As jy, ná alles, in jou hart voel julle hoort bymekaar en die egskeiding was ’n fout, is dit gewoonlik wys om die gevoel te vertrou.
“Instinktief weet ons watter persoon reg is vir ons. As die oorpronklike seksuele aangetrokkenheid weggekwyn het en die persoon is nie reg vir jou nie, sal jy dit weet,” meen Denise.
Kliek hier vir die struikelblokke en voordele om weer te trou.
Maar wat van die kinders?
Kinders word diep en permanent deur ’n egskeiding geraak. Dis julle werk as ouers om die proses so pynloos moontlik vir hulle te maak.
Waar baie jong kinders die droom dat hul ouers weer saam sal kom, koester, is ’n mislukte poging nóg meer skadelik vir hulle as wat die oorspronklike egskeiding was. Wees dus seker van julkeuse voor julle dit met hulle bespreek sodat dit nie onnodige verwagtinge skep en hulle dan teleurstel nie.
Ouer kinders kan skepties oor die tweede poging wees en, as ’n manier om nog seerkry te vermy, dit hewig teenstaan. Neem dit in ag wanneer julle die nuus vir hulle breek en benader hul verse ook liefdevol en met respek.
Kry mekaar in die middel
Gerhard en Anzel het hul huwelik weer ’n kans gegee en in die somer van 2005 weer getrou. Hulle is vandag nog gelukkig getroud en sien elke dag as ’n geleentheid om meer van mekaar te leer.
”Ons het albei ’n duur les deur die egskeiding geleer, en gee dus nou elke dag 110% om die huwelik te laat werk. Ons kommunikeer baie beter as tevore, ons neem mekaar se behoeftes in ag en probeer in alle opsigte mekaar in die middel kry. Tyd alleen is netso belangrik soos tyd saam met ons kinders, en ons probeer om elke twee maande vir ’n naweek alleen weg te gaan. In die tye wat ons wel stry, probeer ons dit so volwasse en goed moontlik oplos en ons waak daarteen om nooit persoonlik te raak nie, maar eerder sáám vir ’n oplossing te soek.
”Ons is gelukkig en lief vir mekaar, en ons kinders sien dit raak. Ons is spyt oor die pyn wat ons vir hulle en onsself veroorsaak het, maar dit het ons nader aan mekaar gebring en ons hard laat werk vir dit wat vir ons belangrik is. Daarvoor sal ons altyd dankbaar wees.”
Addisionele bronne: helium.com, associatedcontent.com, ezinearticles.com