Wat is erotika en hoekom is Fifty Shades só gewild? Is dit okay om jou rooi skoene aan te trek en stoute boeke te lees? En waar trek jy die lyn tussen “veilige” erotiese materiaal en pornografie? INTIEM het gaan ondersoek instel . . .

Promosie

Die Fifty Shades-fenomeen het die wêreld aan die gons. As jy die afgelope jaar in ’n grot gebly het, Fifty Shades is ’n trilogie deur EL James wat beloof om jou te laat bloos, selfs al is jy aan baie gewoond! Met meer as 31 miljoen kopieë wat reeds wêreldwyd verkoop is, word die trilogie die beste Britse boekverkoper ooit genoem en voel ’n mens ook soos ’n grotgogga as jy nóg nie die boek gelees het nie. Ongeag die eksplisiete sekstonele word dit deur lesers verteer as doodgewone hoofstroom-leesstof!

Miljoene vroue se vibrators is afgestof, vele potte rys het verbrand soos wat huis-kokke net gou die rapstoneel klaar gelees het en terwyl talle tannies in hul tee stik, is daar ewe veel manne wat tevrede die vrugte pluk van dié sogenaamde mommy porn . . . Die meeste mense is dit egter eens: Die boek is beslis nie gekultiveerde literatuur-liefhebbers se kos nie en hoewel feministe se bloed kook, ontvlug daar ewe veel vroue na ’n wêreld met ’n man wat mooier as ’n mens is, ryker as ’n sultan is en bereid is om sy donker kant vir haar prys te gee.

Die Fifty Shades-rewolusie

Aan die pluskant het die verskyning van die boeke baie vroue geleer dat seks nie só ’n taboe onderwerp is nie en dat jy maar jou boek op die Gautrein kan lees sonder dat jy tot die ewige hel verdoem sal word (want daar is talle ander mense met Kindles of IPads rondom jou wat waarskynlik by dieselfde hoofstuk trek). Volgens ’n ondersoek onder 400 vroue deur Dotty Bingo, het altesaam 91% van hulle erken dat hulle al minstens een erotiese boek gelees het. En ja, dit bring vroue in voeling met hul seksualiteit, maar ongelukkig het 44% vroue in daardie studie erken dat hulle eerder oor seksuele avonture sal lees as om van hul eie sekslewens ’n avontuur te maak – nie sulke goeie nuus nie.

Promosie

In ’n ondersoek deur ecigarettedirect.co.uk onder 500 mans, het 55% van dié mans boonop erken dat hulle meer druk in die slaapkamer ervaar sedert hul lewensmaats Fifty Shades gelees het. Dit is bykans onmoontlik om met die mooie en ryke en fantastiese Christian te wedywer – veral siende dat hy Anastasia se lyf seksueel opgewek kan kry deur ’n blote kyk in haar rigting!

Ja, die boeke het inderdaad hul merk gelaat op die samelewing – goed én sleg. seekingarangement.com, die wêreld se grootste sugar daddy webtuiste, sê hul getalle het dramaties toegeneem sedert die verskyning van die boeke, noudat almal na hul eie “Christian” soek. Linda Murray, globale hoofredakteur van babycenter.com, sê die boeke is soos ’n seksopkikker vir vroue en verskeie swangerskap- en ouerskap-webtuistes voorspel ’n baby boom as gevolg van Fifty Shades! Blykbaar inspireer die boeke paartjies ook om nuwe dinge in die slaapkamer te probeer (bitrebels.com).

Hoekom smaak verbode vrugte só soet?

Erotiese literatuur, soos Fifty Shades, het ’n sterk aantrekkingskrag vir lesers. Marita van der Vyver, veelsydige en bekroonde romanskrywer wat veral in die vroeë negentigs groot opslae met romans soos Griet skryf ’n sprokie en later ook met Die dinge van ’n kind gemaak het (en ’n hele paar wenkbroue daarmee laat lig het), is bekend vir haar vermoë om erotiese tonele eerlik en straight-forward aan te pak. Hoekom is erotiese materiaal so gewild? Marita meen dit is omdat dit so gehul is in geheimsinnigheid en omdat dit so intiem en privaat is. “Sê vir enige kind of grootmens: ‘Kom ek vertel jou ’n geheim’, en dadelik het jy hulle aandag. Wie kan nou ’n geheim weerstaan?” Volgens Marita het erotika meer met sensualiteit te doen as met seks. “Dit prikkel jou verbeelding eerder as net jou lus. Dit moet jou op een of ander manier laat lekkerkry,” verduidelik sy.

Vir Marita is daar egter twee groot gevare met die skryf van “goeie” erotiese materiaal. “Enersyds dat dit te sentimenteel word en dat geen seksuele orgaan ooit by name genoem word nie. Andersyds dat dit te kru en onoorspronklik word, sodat dit klink soos ’n lang lys vloekwoorde of ’n mediese traktaat. Die goue middeweg lê tussen hierdie uiterstes en kan gevolg word met ’n padkaart van verbeelding en styl,” gee sy raad. Haar suksesresep is om daardie padkaart vir die middeweg te volg. “En my geheime wapen is humor. As ’n toneel dreig om te sentimenteel of te kru te word, ontlont ek dit met humor.”

Vir sommige lesers (en kritici van erotika) is dit moeilik om die verskil tussen pornografie en erotika in te sien. Marita glo dit verskil van mens tot mens en van era tot era. “Gister se pornografie is vandag se erotika. Daarom kan ek dit nie waag om die verskil te probeer vasvat met ’n definisie nie. Dit bly iets uniek vir elkeen van ons.”

Sophia Kapp, bekroonde en gewilde skrywer van liefdesromans, verduidelik die verskil tussen romantiek en erotiek só: “In ’n literêre konteks handel romantiese fiksie primêr oor die ontwikkelende liefdesverhouding tussen twee hoofkarakters – een manlik en een vroulik. Erotiese fiksie handel oor die fisieke, nie oor die verhouding nie. Daar is ’n storie, soms ’n baie goeie en meesleurende storie, maar die boek het in die eerste plek ten doel om die leser seksueel te prikkel en geprikkel te hou. By romantiese fiksie is die leser die heeltyd aan die wonder wat volgende in die verhouding gaan gebeur, maar by erotiese fiksie wonder die leser hoe die volgende sekstoneel gaan lyk. Om dit nou in ’n neutedop te probeer stop: In romantiese fiksie maak hulle liefde, in erotika het hulle seks. Pornografie bevat baie selde ’n storie. Dis ’n aaneenryg van ongemotiveerde sekstonele tussen onbetrokke karakters.”

Moet ek of moet ek nie?

Soos met die meeste dinge in die lewe kan erotiese materiaal óf ’n positiewe óf ’n negatiewe invloed op jou sekslewe hê. Vroue is nie soos ligskakelaars wat met die druk van ’n knoppie seksueel opgewek kan word nie terwyl mans se sekslus instantly kan vlam vat. Volgens Anri van den Berg, ’n sielkundige berader, is die brein ’n vrou se grootse seksorgaan en speel dit wat in haar kop aangaan ’n groot rol in haar sekslewe. Erotiese materiaal kan help om ’n vrou se gedagtes aan die gang te kry. So wanneer manlief toenadering soek vanaand, is jy klaar ingestel op seks. Of dalk is jy teen daardie tyd al self só lus, jy bespring hom sommer.

Erotiese materiaal kan help om die fisiese aspekte van seks makliker te maak en selfs julle sekslewe tot groter hoogtes aanspoor. Vrouens kan interessante idees uit fiktiewe erotiese boeke kry wat kan lei tot ’n positiewe gesprek oor seks met manlief. Of dit kan die avonturier in jou wakker maak en jou en manlief nuwe hot dinge laat probeer.

Sophia sê: “Die samelewing waarin ons leef verander voortdurend en lesers se behoeftes verander dienooreenkomstig. Sowat 50 jaar gelede sou dit ondenkbaar gewees het dat ’n boek soos Fifty Shades of Grey op ’n ‘ordentlike’ boekhandelaar se rakke sou staan, maar nou is dit nie net aanvaarbaar nie, dit is te verwagte. As daar ’n mark bestaan, sal ’n uitgewer dit publiseer. Daar is met ander woorde nie ’n ‘reg’ of ‘verkeerd’ aan die publikasie van erotika nie, maar ’n mens moet perspektief behou – ek kan erotika lees en die vreugde daarvan verstaan, maar dis nie noodwendig iets wat ek vir my tienerkind gaan gee om in die vakansie te lees nie. Sy opvattings oor wat vroue is en hoe hulle in die samelewing en in sy lewe inpas, word nog gevorm en ek wil nie hê hy moet rondloop met die idee dat seks bloot ’n lyflike ding is en dat ’n vrou ’n apparaat is wat daardie lyflike plesier kan/moet verskaf nie. Dit bly dus, soos met alle ander sinnelike plesiere in hierdie lewe, iets wat ’n mens met omsigtigheid en volwassenheid moet hanteer.”

Wat is lesers se kommentaar?

Rhoda, ’n INTIEM-leser, geniet dit om erotika te lees. Nadat sy erotiese literatuur begin lees het, kon sy haar skaamheid in haar sak steek. Sy het vir die eerste keer die moed gehad om met haar man oor hulle sekslewe te praat. “Ek kon vir hom sê wat vir my issues is in ons sekslewe. Ons het na die gesprek ’n plan van aksie opgestel sodat ons sekslewe weer aan die gang kon kom. Ek het nooit geweet hoe om oor seks te praat nie. Ons het hierdie idee dat net ‘wilde’ vroue allerhande dinge in die slaapkamer probeer. Deur só te dink, mis jy soveel uit in jou huwelik.” Erotiese literatuur het haar gewys daar is geen rede hoekom haar sekslewe, al ís sy getroud, voorspelbaar hoef te wees nie.

Alida, nog ’n leser, sê elke vrou soek heimlik ’n ekstatiese seksuele ervaring. “Ons soek nie elke dag dieselfde gewone, vervelige seks nie. Ons raak ook verveeld en dan raak vroue koud in die bed.” Na háár mening bied erotika vroue die geleentheid om te sien baie ander vroue dink ook “wilder”. Dit is normaal om ’n meer opwindende sekslewe te wil hê. Oor waar om die lyn te trek, reken sy elkeen moet vir hom/haarself besluit. “Jy hoef nie alles te doen wat in boeke staan nie. Maar mens moenie bang wees om te waag met jou seksualiteit nie.”

Janina Oberholzer, radio-aanbieder by Jacaranda FM, reken vroue en mans hoef nie skaam te wees oor erotiese literatuur nie. Sy erken sy het ’n paar warm gloede gekry toe sy die Fifty Shades-reeks gelees het, maar sy het nie dadelik na ’n erotiese winkel gegaan en “speelgoed” gekoop nie. “Indien erotiese literatuur nie vir jou is nie, maak die boek toe en lees verder aan jou John Grisham.”

Uit die oogpunt van die Adams . . .

Die algemene siening is dat vroue, wat seks betref, emosioneel ingestel is, terwyl mans geneig is om visueel gestimuleer te word. Dis hoekom vroue baie meer ontvanklik is vir opregte liefdesverklarings en die gebare waarmee ’n man sy liefde en waardering vir sy vrou probeer bewys – of hy nou vir haar blomme koop of aanbied om die kinders te bad – as andersom.

Vir ’n man is dit voldoende om sy vrou in ’n stywe mini by hom te sien verbyloop. Dis dié verskil tussen mans en vroue wat maak dat erotiese verhale vroue prikkel: lees is ’n emosionele ervaring. Mans verkies pornografiese tydskrifte en films. In ’n studie waar 120 manlike en 120 vroulike studente gevra is om erotiese fiksie te lees, het vroue in die 24 uur nadat hulle die voorgeskrewe leesstof gelees het, veel meer seksueel geprikkel gevoel en was hulle meer geneig om seks te hê as die manlike deelnemers.

Maar toe die Black Lace-reeks – erotiese boeke wat deur vroue, vír vroue geskryf is – die wêreld ’n paar jaar gelede op loop gehad het (volgens gerugte gaan dié boekies eersdaags weer hul verskyning maak), was die uitgewer geskok toe hy agterkom dat ’n groot deel van dié reeks se lesers manlik was, na bewering omdat mans wou uitvind hoe vroue oor seks voel. Maar dalk is dit nie só eenvoudig nie: Vandag is daar heelwat erotiese boeke wat spesifiek op mans gerig is (erotika, nie pornografie nie) op die mark. Mans is dalk veel meer in voeling met hulle “vroulike kant” as wat mense dink!

Maar hoe voel mans daaroor wanneer hulle vroue erotiek lees? Het dit enigsins ’n effek op hulle sekslewe? INTIEM het twee Weskus-vissermanne, rooibloedmans in die volle sin van die woord, hieroor uitgevra. Albei mans is skippers wat soms weke lank nie tuis is nie.

“My vrou wil niks van sulke boeke weet nie, maar ek lees Mills & Boons by die grootmaat wanneer ek op see is en die tyd moet omkry,” sê Brendt. “Teen die tyd wanneer ek weer my vrou te sien kry, is sy vir my só mooi dat ek skaars my hande van haar kan afhou!” Johannes het die teenoorgestelde probleem: “Ek begin skoon bewe wanneer ek sien my vrou het weer een van dié boekies beet. Sy wil alles wat sy lees op my beproef en ek sukkel om by te hou.”

Is dit onchristelik om erotiese materiaal te lees?

God het seks tussen ’n man en vrou geskape, wat sensuele en erotiese dade tussen getroudes insluit. Egpare mág mekaar geniet! Dis ’n opdrag van God. Huweliksmaats kan mekaar in die privaatheid van hul huwelik eroties opwek en sensueel en seksueel bevredig. Timothy Kieswetter, ’n Bybel- en seksualiteitskenner, sê as dié element die dag uit jou huwelik verdwyn, is dit net ’n kwessie van tyd voordat seks nie meer fun is nie. Erotika is een van die boublokke van seksuele plesier. En dis Bybels! Kyk maar na Hooglied, dis gevul met erotiese en kunstige beskrywings van die vroulike liggaam. Timothy beklemtoon dat dit vir getroudes gesond is om mekaar se behoeftes en begeertes op ’n intieme en sensuele wyse te ontdek. “Skep erotika in jou huwelik. Strip vir mekaar, maak jul eie video’s en neem stoute foto’s van mekaar of belê in ’n groot spieël vir jou slaapkamer! Wees sommer net kinky! Laat toe dat sensualiteit en pret tussen julle lewe! Sonder die Bybelse Eros-liefde is jul verhouding platonies.”

’n Huweliksberader, pastoor Chris Morey, sê dit gebeur dat paartjies iets in ’n tydskrif lees en byvoorbeeld met boeie wil eksperimenteer. Die man kan ook fantaseer oor orale seks, of sy vrou wonder hoe dit sou voel om geblinddoek te wees terwyl haar man haar lyf sensueel liefkoos. Julle sal dalk nooit weer dieselfde na roomys kyk nie! Dink net aan die moontlikhede!

Chris stem saam en sê daar is niks verkeerd met erotiese liefkosing tussen ’n getroude man en sy vrou nie. Die probeem ontstaan egter wanneer een party nie deel van ’n speletjie wil wees nie of as sy as ’n voorwerp beskou word wat aan haar man se drange en begeertes onderwerp word. Dan word dit ’n magspel en nie ’n daad van liefde nie. Proponent Ensie Enslin van Kimberley sê as seksspeelgoed byvoorbeeld jou maat vervang, begin dit jou huwelik bedreig en moet jy gevaarligte sien flikker. “As jy in iets twyfel of dit jou ongemaklik laat voel, los dit eerder uit. Op die ou end gaan dit oor ’n heilige verhouding voor God. Enige iets wat dit skaad, kan nie reg wees nie.” Dr Etienne sê ook altyd: As dit jou emosioneel, fisiek of geestelik skade aandoen, los dit eerder.

Waarna moet ek oplet as ek erotiese materiaal koop?

Anri van den Berg waarsku dat as ’n mens gebruik maak van eksterne hulpmiddels om jou seksueel te prikkel, jy daarteen moet waak dat seks nie net bloot ’n fisiese ding word en jy die emosionele band met jou maat afskeep nie. Maak ook seker dat jou maat gemaklik is met dit wat jy in die slaapkamer inbring. Wanneer jy erotiese materiaal aanskaf, hou altyd in gedagte dat dit ’n fantasiewêreld is wat jy betree. Die karakters in hygromans is fiktief – moenie fantaseer oor die boek se held wanneer jy en jou man seks het nie. Alles wat jy lees is ook nie noodwendig bedoel om uitgevoer te word nie.

Dr Etienne Kok, ’n seksuoloog van Pretoria, sê dít wat in erotiese materiaal beskryf word, kan strek vanaf eenvoudige hofmakery en vry tot gesuggereerde of eksplisiete seks. Dit kan verder ook strek van “gewone” seks tot verskillende vorms van abnormale gedrag. Dus, lees baie mooi wat op die omslag van ’n erotiese boek of DVD staan. Sodra jy dinge raaklees wat teen Christelike waardes is, soos threesomes, multiple partners of bestiality – sit dit onmiddellik neer! Gaan soek vir resensies op die Internet. Vind uit presies waaroor die erotiese materiaal gaan en lees ander mense se kommentaar daaroor.

Volgens Etienne is ’n fantasie “veilig” en nie-bedreigend terwyl dit net ’n fantasie bly, maar as ’n mens elke fantasie wat jy ervaar uitleef, kan dit jou of jou maat fisieke of emosionele skade berokken. Erotiese materiaal sou “veilig” wees om fantasieë aan te help en dalk jou sekslewe op te kikker as die inhoud daarvan nie op die vlak van die abnormale, afwykende, perverse of banale is nie.

Waar kan ek veilige erotiese materiaal aanskaf?

Red Hot Monogamy: Beskikbaar op hotmonogamy.com. Dié boek is geskryf vir Christene deur Christene met die doel om seksuele hulp te verleen aan getroude paartjies. ’n Man en vrou is veronderstel om die boek saam te lees en lekker “huiswerk” te doen na elke hoofstuk.

No More Headaches: Enjoying Sex & Intimacy in Marriage: Beskikbaar by amazon.com. Die skryfster neem jou en manlief op ’n reis om die “nie vanaand nie, ek het hoofpyn” probleem te bestry.

Holy sex: Song of Solomon: Beskikbaar by christianbooks.com. Die Hooglied van Salomo soos jy dit nog nooit gelees het nie. Geniet die wonderlike geskenk van seks wat God aan ons gegee het.

’n Christelike seksforum: Beskikbaar op marriageromance.com. Die forum is vir Christene om hulle eie seksuele ervarings met mekaar te deel in die vorm van gedigte of kort verhaaltjies. Duidelike aanduidings is beskikbaar oor die vlak van die erotiek in die inhoud.