Die struikelblokke en voordele om weer met jou eks te trou
Om weer te trou: Die struikelblokke
Julle albei moet verstaan wat in die eerste huwelik gebeur het, waar dit verkeerd gegaan het en waaraan julle albei sal moet werk om dié keer ‘n suksesvolle huwelik te hê. ”’n Egskeiding is in 98% van gevalle beide partye se skuld en julle albei moet verander en lesse uit die verlede leer,” verduidelik Denise.
Is jy seker jy wil saam met die persoon wees, of is die verlange na hom eintlik maar net weens vrees om alleen te wees? Soms, as gevolg van die vrees vir nuwe ervarings, nuwe mense en verandering, wend ons onsself na iets wat ons ken – ’n plek, soos jou huwelik, waar jy veilig voel. Met deeglike selfondersoek kan jy uitvind wat die werklike redes is, en sodoende julle albei seerkry (en regskoste!) bespaar.
Moenie aanneem dinge sal soos die eerste huwelik verloop nie. Julle het gegroei en verander, en daarom is dié huwelik ’n heel nuwe ervaring. Benader die verhouding soos jy enige nuwe verhouding sal benader –’n mens draai nie die horlosie terug nie, ’n mens koop ’n nuwe een.
Om weer te trou – die voordele
Julle deel ’n geskiedenis, dus hoef julle nie deur die lang proses te gaan om mekaar te leer ken nie. Die feit dat julle saam deur die trauma van ’n egskeiding gegaan het en saam gewerk het om die verhouding te herstel, is ’n groot pluspunt in die toekomende huwelik.
Daar was ‘n rede dat jy, jare gelede, hals-oor-kop verlief was en besluit het om met hom te trou. Julle kan weer daardie geluk ervaar, mits julle altwee bereid is om daaraan te werk.
Die beste ding wat julle vir jul kinders kan gee is ‘n ma en pa wat mekaar lief het. Indien julle seker is dat julle weer hierdie opadjie wil stap en die keer ‘n sukses van julle huwelik sal maak, gaan julle kinders ook hieruit baat. Die ‘tweede kans’ sal hulle ook belangrike lesse van vergifnis en aanhou-probeer leer.