Is die pret skoonveld? ‘n Verlangse herinnering? En het jy ophou moeite doen om dit terug te kry? Dan is dit tyd om ernstig plan te maak.
Wanneer jy na jou sussie luister, raak jy groen van jaloesie. Sy en haar man is die tipe paartjie wat elke paartjie wil wees. Jy sien hulle kort-kort iewers in die huis, besig om ‘n soen te steel – sommer net. Hy skryf vir haar liedjies wat almal na trane dryf. Sy bak vir hom hartvormige koeke wat lyk soos modderkoeke, maar hy vertel haar dis die mooiste wat hy nog ooit gesien het! Hy bederf haar met spontane wegbreeknaweke om Gorillas te gaan kyk en sy het laas week sy naam onder haar naeltjie laat tattoeëer… hulle is super romanties en hul huwelik is super-opwindend.
Kyk jy na liewe ou Ben langs jou, wonder jy wanneer laas jy ‘n blom gekry het. Jy bak nie – jy koop. Al wat jy skryf, is jou kinders se toesprake en die meeste wat hy jou bederf het was twee jaar terug, toe hy droog verklaar het: “Bespreek vir ons plek by daai bosveldhuis ‘n uur se ry van hier af. Ek hoor daar’s ‘n big screen vir die rugby.” Waar is die opwinding heen? Waar is die pret? En is dit jou lot vir die res van jou lewe?
Op sy blog skryf Kevin Thompson: “Die huwelik is nie veronderstel om prettig te wees nie. Nie elke dag nie. Nie in elke seisoen nie. Maar oor die breë spektrum van saam leef, moet die huwelik gedefinieer word deur vreugde en blydskap – meer gereeld as wat dit gedikteer word deur worsteling, frustrasie en ontevredenheid. Alles is elemente van gesonde huwelike, maar die positiewe karaktereienskappe moet die negatiewe eienskappe ver oorheers.”
Prediker 9:9 sê: “ Leef gelukkig saam met die vrou wat jy liefhet, solank die sinlose lewe aanhou wat God jou onder die son gegee het. Dit kom jou toe in die lewe, onder al jou geswoeg onder die son.”
Ja, dit is maklik om pret in jou huwelik te hê wanneer julle pas getroud is en julle julle nie hoef te bekommer oor kroep, werks-evaluasies, huispryse en cholesterol nie. Boonop vind die jong millenials dit makliker om pret te hê, omdat daar nie soveel waarde geheg word aan aardse besittings as aan lewenservaringe nie. Jy maak egter ‘n fout as jy aanneem dat pret nie saak maak nie. Of dat dit julle nie beskore is nie. Want dít is wanneer ‘n paartjie vergeet om van pret ‘n prioriteit te maak. En pret móét ‘n prioriteit wees in elke huwelik.
Hoekom is pret noodsaaklik?
Want dis lekker! Natuurlik! Maar pret help ons ook om moeilike tye te verduur. Dit dra ons deur seer tye, tye wanneer dit onmoontlik voel om te lag. Eindelik is lag die beste ding wat jy kán doen om die seer weg te neem of die spanning te verlig. Paartjies wat deur moeilike tye geworstel het, het die vermoë om die goeie raak te sien en te waardeer. Dit is in die taaiste tye van jou lewe wanneer jy lag die heel nodigste gaan kry. Dit herinner ons daaraan dat ons nie alleen is nie, dit is ‘n manier om jou maat te erken en met hom/haar te konnekteer en dit wys jou kinders dat jy en jou maat mekaar se geselskap geniet! Ongelukkig is dit so dat baie paartjies heelwat pret het in die eerste maande of jare van ‘n huwelik en dat die pret daarna taan.
So, hoekom verloor ons pret in ons huwelike?
- Want iewers is vertroue geskend. ‘n Mens kan slegs pret hê met jou maat as jy by hom of haar veilig voel. Kevin vergelyk dit met soldate in ‘n oorlog. Geen soldaat wat besig is om te veg, kan in daardie oomblik pret beleef nie, want hy/sy verkeer in ‘n toestand van erns en beskerming. Hy waak en is op sy hoede. As dit is waar jy tans in jou huwelik is, beleef jy waarskynlik soortgelyke emosies en is dit moeilik om te fokus op pret. Die vertroue moet eers herstel word, sodat die skild kan sak en die pret weer raakgesien kan word.
- Want julle raak mettertyd gewoond aan mekaar. Dié een is onvermydelik. Nadat jy en jou maat ‘n geruimte tyd lank getroud is, begin julle gewoond raak aan mekaar se gesigte, mekaar se lywe, mekaar se gewoontes en mekaar se sê-goed. Onbekendheid is opwindend, bekendheid kán vervelig wees – hoewel dit nie hoef te wees nie. In ‘n huwelik bring bekendheid ‘n ander tipe dinamika na vore. Dit bring intimiteit en veiligheid wat jou en jou maat toelaat om jul wapens te laat sak. Maar wanneer dit voel asof die bekende vervelig raak, is dit dalk tyd om jou maat met iets ongewoons te verras.
- Daar heers nie wedersydse respek nie. Respek is nog ‘n noodsaaklike bestandeel vir ‘n pret-huwelik, want dit bemagtig jou om met jou maat te konnekteer. Speelsheid gedy wanneer daar gelykheid is. Dink bietjie mooi hieroor: Wanneer jy nie gerespekteer voel deur jou maat nie, kan jy nie soos sy/haar gelyke voel nie. En as jy nie soos jou maat se gelyke voel nie, kan jy nie tyd saam met hom of haar geniet nie. ‘n Tekort aan wedersydse respek verhoed dus ‘n paartjie om pret te hê.
- Julle verkeer onder druk en spanning. Wanneer jy gespanne is of onder druk verkeer, vernou jou visie en al waarop jy kan fokus, is die bron van die druk. Natuurlik sal daar seisoene wees en geen paartjie kan voortdurend sonder druk deur die lewe gaan nie, maar dis belangrik dat julle daadwerklik onnodige stressors vermy. Dit wat jy nié kan bestuur nie, mag nie jou pret steel nie. Skuld is een van daardie onnodige drukpunte wat jy ten alle koste moet vermy om seker te maak dat spanning nie jou lewe oorheers en pret in die spervuur bly nie.
- Daar is nie genoeg tyd nie ... Tyd is een van die grootste pretrowers wat daar is. Dink mooi oor die tyd wat jy en jou maat saam deurbring en van watter gehalte hierdie tyd is. Is dit flenter-tyd? Is julle tyd saam kosbare tyd, of is dit tyd wat julle toevallig deurbring terwyl julle dit deel met kinders grootmaak, geld maak en reëlings tref? Baie paartjies het nie eers genoeg tyd vir interaksie nie en gewoonlik geskied pret net gedurende die Desembervakansie wanneer daar genoeg tyd is om mekaar te geniet.
- Julle het in ‘n swak gewoonte verval. Dink aan die betekenis van ‘roetine’. Roetine kan sleg of goed vir jou wees en as julle in die gewoonte verval het om nie meer pret te hê nie, sal julle hierdie gewoonte voortsit tot iets daadwerklik verander. Gesonde paartjies maak van pret ‘n gewoonte en doen moeite om hierdie gewooonte vas te moet. Hulle ontwikkel vaardighede om maniere te kry om pret in hul lewens in te werk. As jy dus werklik daarvan ‘n prioriteit maak om interaktief met jou maat te wees, sal daardie fokus jou verhouding radikaal transformeer.
Hoe kry jy die pret terug?
- Besluit om pret te hê. Sonder intensie, sal tyd jou van jou vreugde roof. Sonder intensie sal slegte gewoontes altyd in ons lewens teenwoordig wees. Herken dat pret ‘n intensionele aspek van ‘n gesonde verhouding is en kies aksies wat die kanse op pret sal verhoog. Pret is ‘n keuse. As ‘n paartjie kan julle altyd kies of ‘n pret-aktiwiteit pure pret of loutere frustrasie sal wees. Dit hang af van jul ingesteldheid en van wat julle uit jou omstandighede skep. Op die webtuiste Focusonthefamily.com skryf Ted Cunningham: “Wanneer pret ‘n uiteinde en nie ‘n keuse is nie, word die gehalte van jou huwelik deur die woorde en aksies van ander bepaal. Wanneer pret ‘n keuse is en nie ‘n uiteinde nie, word die gehalte van jou huwelik slegs deur jou houding bepaal.” Pret hoef nie spookasem en pretparke te wees nie. Dit kan wees om op die N1 vas te sit, op die strand te lê en Kentucky op jou voorstoep te eet. Die keuse is joune.
- Wees avontuurlustig. Mense het verskillende persoonlikhede. Sommige mense is meer avontuurlustig as ander. Om die vreugde in jou huwelik te verhoog, verg dat jy soms buite jou gemaksone sal moet tree en kanse waag. Sien ook die geleenthede vir pret raak! Dink jy julle gaan meer pret hê in by ‘n luukse oord of op ‘n witwaterroei-ekspedisie (hier is nie ‘n regte antwoord nie, dit hang af van jul persoonlikhede! Maar dink aan wat die mees onverwagse scenario’s kan skep – dít is gewoonlik die pretmakers!).
- Behou die speelsheid. Speelsheid is ‘n kopskuif, ‘n poging om jou bui te verlig – ook gedurende moeilike tye. Dit kan jou help om ‘n swaar vrag te dra! Dra speletjies oral met jou saam – letterlik! Jy kan baie pret hê met ‘n dobbelsteen, ‘n pak kaarte en ‘n notaboek met twee penne. En dit neem nie baie plek in jou handsak nie! Speel “Sal jy eerder …” met jou maat – enige plek, enige tyd. Dit behels dat jy jou maat vrae vra soos: “Sal jy eerder op ‘n meer of op die oseaan wil bly?” Of “Sal jy eerder ‘n spinkaan of ‘n sywurm verorber?” Speel speletjies soos kringetjies en kruisies, of Rummy.
- Wees genadig teenoor mekaar. Kevin meen dat hoewel dankbaarheid en pret nie sinoniem is met mekaar nie, dit wel verband hou. Só dat ons, wanneer ons voel dat ons onverdiend ontvang, genade teenoor ander sal betoon. “Selfgelding vernietig vreugde, maar genade laat dit floreer. As ‘n poging om pret tot ons verhoudings toe te voeg, sal ons slaag en misluk. Ons moet mekaar genade wys wanneer dinge anders as volgens plan verloop.” Leef dus uit dankbaarheid en die kanse is goed dat pret hieruit sal vloei.
- Beplan en begroot vir pret in jou huwelik. Beplan pret soos wat jy vakansies en feestye en aankope beplan. Ja, jy kan pret in alledaagse oomblikke kry, maar hoe meer jy hiervan kry, hoe meer gaan jy hierna smag in groter dosisse. Skeduleer een pret-aand per maand waarin julle iets lafs kan gaan doen, soos om te ysskaats of te gaan trampolien spring. As jy wag vir pret om net te gebeur, of nie behoorlik beplan nie, sal daar dalk nooit geld wees vir die pret wat jy wil hê. Werk pret dus formeel by julle begroting in. Wanneer mense vir Ted vra wanneer hy sy mini-voertuig [met amper 300 000km) op die odometer gaan vervang, antwoord hy: “Ek gaan dié een ry tot sy wiele afval, want ek’s mal daaroor om my vrou te date!” Hy verduidelik: “Ons voertuig val dalk uitmekaar, maar ons huwelik is sterker as ooit.
Elke gelukkige paartjie beleef ‘n mate van pret, vrolikheid en genot. Ted meen dat hoewel die huwelik harde werk is, dit nie na soveel werk sal voel as julle genoeg pret het nie. Pret is ‘n natuurlike byproduk van ‘n paartjie wat mekaar liefhet. Natuurlik sal sekere seisoene gedefinieer word deur worsteling, maar eindelik moet jy terug kan kyk op die grootste gedeelte van jou verhouding en daaroor kan glimlag.
Addisionele bronne: www.kevinathompson.com; www.focusonthefamily.com
Artikel deur Annelize Steyn
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!