Met die skrikwekkende skei-syfer wat heers, is dit belangrik om te besef dat geen huwelik veilig is nie. Jou huwelik word voortdurend bedreig en jy moet pro-aktief veg teen die aanslae – op ‘n spirituele vlak.
Ester en Jaco was agt jaar lank dolgelukkig getroud. Op een somers-oggend in 2017 het hul hele perfekte kaarthuis egter inmekaar getuimel, toe Jaco afkom op ‘n intieme selfoon gesprek tussen Ester en ‘n ander man. Wat hy nie geweet het nie, was dat Ester ses maande vantevore kontak gemaak het met ‘n ou skoolvriend op Facebook. Wat doodonskuldig as ‘n Facebook-vriendskap begin het, het kort-voor-lank ontwikkel in ‘n emosionele affair. Jaco was uit die veld geslaan. Volgens hom was hy en Ester dolgelukkig getroud en was daar nooit enige teken wat kon dui op ontrou nie. Ook Ester kon nie glo wat gebeur het nie.
Vandag sukkel die paartjie steeds om die brokstukke van ontrouheid op te tel. Ester vertel dat die emosionele affair ‘n baie subtiele verleiding was… dit was nooit haar intensie om by iets ernstigs betrokke te raak nie. Dit was ook nie die intensie van die ander man (ook getroud) nie. Maar die duiwel is listig en geestelike oorlogvoering is ‘n baie relevante realiteit. Sedertdien het Ester en Jaco weer bewus geraak van die belangrikheid van geestelike bekerming oor hul huwelik.
Hoekom geestelike oorlog voer?
Adam en Eva was perfek belyn – met God en met mekaar. En watter groter verleiding is daar vir Satan as perfeksie, orde en vrede? Die huwelik is ‘n verklaring van glorie aan God, so die duiwel verdeel graag gelukkig getroude paartjies om te bewys dat God se idee van die huwelik nie beter is as die wêreld se siening daarvan nie, meen Nikki Walker op marriedandyoung.com.
Hy streef daarna om paartjies van God en van mekaar te skei. “Of ons daarvan bewus is of nie, sodra ons ons toewy aan ‘n leeftyd saam, word ons verenig in ‘n geestelike oorlog,” staan geskryf op die blog christianfamilylife.com/blog.
In Ef 6:10-12 staan immers geskryf: “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in Sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” So, in kort: Die duiwel wíl ons huwelike vernietig en om sy aanslae te beveg, het ons geestelike wapenrusting nodig.
Hoe lyk jul wapenrusting?
Volgens Ef 6:10-20 lyk die wapenrusting wat jy nodig het in jou lewe (en jou huwelik) soos volg:
Die gordel van waarheid: Waarheid is jou huwelik se integriteit en getrouheid. Dit is deursigtigheid op elke vlak in jou huwelik, dit is eerlikheid (selfs oor die klein dingetjies, daar is nie plek vir wit leuens as jy geestelike oorlog voer nie). Hoe spreek jy waarheid oor jou huwelik? Is jy eerbaar in jou karakter en in al jou optredes wat jou huwelik aan betref? Kan jy waarheid van leuen onderskei? Die enigste manier om Satan se leuens te beveg is deur al jul vertroue in God se waarheid te plaas. Ons moet Sy woord elke dag bestudeer.
Die borsharnas van geregtigheid: Die borsplaat beskerm ons harte en simboliseer die geregtigheid wat vanaf ons geloof in God kom. Dit is die heiligheid wat ons elke dag in ons huwelik (moet probeer) beoefen en waarsonder ons harte en ons lewens weerloos is vir die ergste aanvalle van die vyand. Die duiwel sal als doen wat hy kan om onvergewensgesindheid, trots en ander taktieke in te span om liefdevolheid tussen jou en jou maat uit te dryf, maar as ons die borsplaat van geregtigheid dra, sal Sy woord ons hoof invloed wees en sal ons emosies daaruit vloei. Ons sal deur God se wil gelei word en nie deur ons gevoelens nie.
Die skoene (evangelie) van bereidwilligheid om die evangelie van vrede te verkondig: Jou en jou maat se huwelik moet ‘n getuienis van God se goedheid wees. ‘n Pragtige prentjie van God se volmaakte liefdesverhaal. Deur in vrede, vryheid en harmonie te leef, skep jy só ‘n huwelik. Liefde sterk genoeg om alle kwaad te beveg. Ons kan slegs vasstaan teen die aanvalle van die duiwel as ons ons lewens volkome in die hande van God geplaas het. Dan kan ons vrede beleef en slegs dán sal ons voete vasstaan in die skoene van Vrede.
Die skild van geloof: Aanvaar jou maat in geloof deur hom/haar toe te laat om te wees wat God van hom/haar verwag om te wees. Vertrou in God se goedheid en krag vir die sukses van jou huwelik. Geloof is ons beskerming. As God tussen julle en die vuurpyle van die duiwel staan, sal geen wapen jul tref nie.
Die helm van verlossing: Ons moet ons gedagtes bewaar en gefokus bly op God en op Sy wil. Deur die Woord van God te bestudeer, help ons om seker te maak ons gedagtes is in lyn met Sy ontwerp vir die huwelik, soos in 2 Kor. 10:3-5 staan. Die beskerming hou ons fokus op Hom en ook die besef dat Sy weg die enigste is wat ons kan lei tot die sterk huwelik wat ons begeer en wat Hy vir ons begeer
Die swaard van die gees is God se woord: Deur die swaard van die Gees kan ons aanvalle van Satan afweer. Dit is lewendig en sterk genoeg om die vyand se leuens en wapens te vernietig. Wanneer jy en jou maat dit verklaar en toepas op jul huwelik, sal die vyand nie anders kan nie as om van jul huwelik af weg te vlug nie.
Die krag van gebed: Bid saam en glo in die krag van die Heilige Gees. Ons moet elke dag in gebed hierdie wapenrusting aantrek, gereed vir enigiets wat Satan na ons huwelike kan werp. Geeneen kan vandag die spirituele oorlog veg sonder hierdie wapenrusting nie. Ons moet God daagliks vra om ons ten volle toe te rus sodat ons ‘n huwelik van oorwinning kan hê wat Sy naam vereer.
As jy meer wil lees oor die geestelike wapenrusting, besoek die blog www.simplyoneinmarriage.com waar David en Sabra Penley ‘n volledige reeks hieroor gepubliseer het.