Noem die woord “intimiteit” en die eerste gedagte wat by jou opkom, is slaapkamer-aksie, nie waar nie? Die begrip strek egter veel wyer as blote seks.
Die betekenis van intimiteit sluit woorde in soos nabyheid, bekendheid, vertroue en warmte. So ja, daar is meer as een manier om intimiteit in jou huwelik te bewerkstellig. *Janet vertel hoe die koms van hul eerste baba die intimiteit tussen haar en haar man gesteel het.
“Dit was asof daardie innige band tussen my en my man vervang is deur ons kleintjie. Skielik was dit in háár oë wat ek liefdevol gestaar het, met háár wat ek laatnag gesit en fluister het gedurende voedings en langs wie ek aan die slaap geraak het. Daar was net nie meer intimiteit oor vir my man ook nie en al het ons steeds gereeld seks gehad, het ons huwelik onder daardie ‘nabyheid’ gely.”
Ons gaan nie stry nie – seks ís ’n kragtige middel om daardie intimiteit terug te kry, maar dit is nie genoeg nie en ook nie die enigste vorm van intimiteit waarop ’n gesonde huwelik kan floreer nie.
Vir jou en jou maat om op ’n goeie plek te wees wat intimiteit aanbetref, moet julle op meer as een vlak naby aan mekaar voel. Maak dus seker die volgende tipes intimiteit kry net soveel aandag in jul huwelik:
- Emosionele intimiteit. Dit is daardie nabyheid wat jy ervaar wanneer julle sommige aande ’n bottel rooiwyn oopmaak en op die bank sit en gesels tot vroegoggend (sonder die televisie wat in die agtergrond blêr en kort-kort jul aandag aftrek). Dit is daardie tye wanneer jy ’n bietjie broos raak voor jou maat en julle jul vrese en jul drome deel sonder om bang te wees vir oordeel.
Hoe wen jy emosionele intimiteit? Skakel vir ’n halfuur elke dag die televisie, selfone, rekenaars en I-pads af. Jy kan jou familielede laat weet dat dit ’n staande reëling in jul huis word en dat julle nie vanaf byvoorbeeld agtuur tot halfnege saans beskikbaar sal wees nie. Julle kan dit ook ’n huisreël maak vir die hele gesin.
- Spirituele intimiteit. As julle op dieselfde golflengte is wat jul geloof aanbetref (dieselfde glo, dieselfde aanbid en tot dieselfde mate daarin belê), behoort jul spirituele intimiteit op dreef te wees. Om jul spirituele intimiteit te verbeter, kan julle gereeld praat oor kwessies in jul geloof, soos die Hiernamaals, die viering van Kersfees of Paasfees, of ’n kontroversiële uitlating van ’n geestelike kenner. Hoe julle moeilike situasies saam hanteer op ’n geestelike vlak, spreek boekdele van jul spirituele intimiteit.
Hoe wen jy spirituele intimiteit? Daar is verskeie maniere om die spirituele intimiteit tussen julle te verbeter. Deur weekliks saam kerk toe te gaan en elke dag saam Bybelstudie te doen of te bid, sal definitief hiertoe bydra.
- Intellektuele intimiteit. Is julle intellektueel in voeling met mekaar? Kan julle nugter gesels oor onderwerpe en doelgerig beplan aan jul huwelik? Dis belangrik om te praat oor werk, flieks, boeke, politiek, nuus en debatteerbare kwessie. Deur hieroor te gesels, wys jy aan jou maat dat jy sy mening waardig ag. As julle dit openlik en gemaklik kan doen, is daar beslis ’n mate van intellektuele intimiteit tussen julle. (Om die waarheid te sê, baie paartjies raak seksueel só geprikkel deur intellektuele intimiteit dat daar niks is soos ’n hittige debat om hulle in die luim vir seks te kry nie!)
Hoe wen jy intellektuele intimiteit? Stel ’n jaarplan vir jul huwelik op. Wat is julle doelwitte vanjaar wat leefstyl aanbetref? Hoe wil julle jul lewe verryk? Sit een aand per maand opsy om hierdie doelwitte te monitor en daaroor te gesels.
- Operasionele intimiteit. Om operasionele intimiteit te vestig, moet julle dinge saam doen. Dink aan lekker uitdagings soos om saam ’n Warrior Race te voltooi of te leer sushi maak. Dit behels gedeelde belangstellings of enige aktiwiteite wat julle saam kan beoefen en waar spanwerk ter sprake is. Gaan speel ’n potjie tennis, ry tandem-fiets of leer dans. (Om saam te gaan fliek, is nie noodwendig ’n goeie aktiwiteit nie omdat julle nie gehaltetyd saam spandeer wat julle nader aan mekaar kan bring nie en omdat dit nie spanwerk vereis nie.)
Hoe wen jy operasionele intimiteit? Kry ’n gesamentlike stokperdjie. Ja, dit is goed vir ’n man en vrou om verskillende belangstellings te hê en tyd op hul eie deur te bring, maar kry één gedeelde belangstelling wat julle op ’n gereelde basis kan beoefen, waaroor julle kan gesels en waarvan julle die prestasies/eindprodukte kan vier!
- Finansiële intimiteit. Dit behels die deel van dinge wat jul finansies raak. Dit behels hoofsaaklik finansiële beplanning en die vryheid om eerlik en openlik met jou maat hieroor te gesels. (Geen weggesteekte strokies vir uitspattige skoene of ’n nuwe jaggeweer nie!) Vir finansiële intimiteit moet julle deursigtig wees met mekaar en toegang hê tot mekaar se finansiële state.
Hoe wen julle finansiële intimiteit? Stel saam ’n begroting op en doen een keer per maand saam administrasie. Dit is ’n minder aangename taak, maar as julle dit as ’n span hanteer (en julself bederf met ’n uiteet of ’n fliek daarná), kan julle dit gouer afhandel en kan hierdie tye as’t ware iets word waarna julle uitsien!
- Fisieke intimiteit. Hoe leef jy en jou maat in mekaar se ruimtes? Dit gaan oor hoe jy en jou maat mekaar se behoeftes aan persoonlike en gedeelde tyd aanvul. Fisieke intimiteit sluit ook aanraking in. ’n Soen op die voorkop, ’n paar minute snags se styf teen mekaar lê, hande vashou in die winkelsentrum, ’n uitgerekte soen in die kombuis. Ja, noem dit voorspel as jy wil! Aanraking as ’n vorm van fisieke intimiteit kommunikeer soveel meer as begeerte. Dit spel ook aanvaarding, dat jy die ander persoon waardig en belangrik ag en dat jy kies om hom/haar goed te laat voel.
Hoe wen julle fisieke intimiteit? Deel ’n bank! Ja, dit is so eenvoudig soos om langs mekaar te sit/lê. Ons is geneig om gemak voorop te stel en dikwels lei ons intimiteit daaronder. Jy kry te warm om styf teen jou man te lê. Hy wil sy bene uitstrek en dus alleen ’n hele rusbank beset. Maak dit ’n gewoonte om na aan mekaar/naby mekaar te wees in jul fisieke teenwoordigheid en kyk hoe groei die intimiteit tussen julle!
Sommige vorme van intimiteit sal vir julle makliker wees om onder die knie te kry as ander. Julle is dalk goed daarmee om fisiek aandag aan mekaar te gee, maar voel nie noodwendig intellektueel asof julle op dieselfde golflengte is nie. Dalk kom spirituele intimiteit vir julle vanself, maar julle sukkel om ’n aktiwiteit te kry wat jul operasionele intimiteit kan bevorder.
Geniet die vorme van intimiteit wat vir julle maklik kom en kyk tot watter mate julle die moeiliker dele kan verbeter. Onthou, intimiteit is ’n dinamiese proses. Wat nou dalk moeilik kom, kan dalk oor ’n paar jaar floreer sonder dat julle twee keer daaroor dink!