Net soos wat elke paartjie in ’n huwelik ’n paar goeie gewoontes kweek (hy bring elke oggend vir jou koffie in die bed), só is daar nare gewoontes wat jou stilweg bekruip en jul huwelik van geluk beroof …

Promosie

“Toe ek en Ian pasgetroud was, het ons alles gedoen om mekaar gelukkig te hou. Ons het elke aand ’n glas wyn saam gedrink, en aan tafel gesit en eet terwyl ons oor alles en nog wat gesels het. Ons het gecuddle op Saterdagoggende en elke week gaan fliek,” vertel Louise.

Met die jare is drie kinders gebore en sy het agtergekom hoe al hul goeie gewoontes begin het om te taan. “Saans het die hele gesin hulle voor die televisie neergeplak en dit was net te veel van ’n gesukkel om hulle aan tafel te kry, so ons het begin om by die televisie te eet. Ian is verknog aan sy DSTV en ons wyn-aandjies is nou net ’n vae herinnering. Met die kinders se besige skedules is ’n weeklikse fliek ook net ’n droom.” Só maklik gebeur dit.

Die goeie nuus is dat dit heeltemal moontlik is om jul slegte gewoontes te vervang met nuwe, goeie gewoontes wat in die begin miskien inspanning en dissipline gaan verg, maar op die lange duur vir julle soveel werd gaan wees. Fokus eers op een van hierdie gewoontes (dit neem tyd!) en beweeg dan na ’n volgende. Probeer die volgende:

Promosie
  1. Soen mekaar hallo en totsiens. Glo dit of nie, hierdie eenvoudige gebruik waai gou by die deur uit, maar om mekaar behoorlik te groet is een van die beste gewoontes wat julle vir jul huwelik kan kweek.
  2. Fokus op jou maat se goeie eienskappe. Ja, soms voel dit of jy ’n vergrootglas nodig het, maar die perspektief op jou huwelik is in jóú beheer. Raak nuuskierig oor jou maat, doen saam temperamenttoetse soos die Marriage Capsule LOFS toets en probeer om die silwer randjie in sy gedrag raak te sien.
  3. Praat oor belangrike dinge. Dit is belangrik vir julle om emosionele en spirituele intimiteit te bou, anders kan die kommunikasie tussen julle maar bra vlak raak. Vir julle om ’n nou band te hê en na aan mekaar te leef, moet julle ernstige kwessies deurwerk.
  4. Maar praat ook oor nonsens. Al julle gesprekke hoef nie swaar te wees nie. Dit is belangrik om oor koeitjies en kalfies te gesels en die vermoë te hê om oor bykans énigiets ’n gesprek aan te knoop.
  5. Wys soggens jou liefde. Sê elke oggend vir jou maat iets wat hom/haar spesiaal en geliefd laat voel, soos: “Dis só lekker vir my om met jou getroud te wees” of “Jy is perfek vir my”. Wat ’n perfekte manier om jou dag te begin!
  6. Praat elke aand oor die dag. Om net tien minute opsy te sit vir ’n lekker koffie-afspraak om oor jul dag te gesels, is ’n goeie gewoonte wat julle in pas met mekaar kan hou. Onthou egter dat dit nie in ’n negatiewe “afpaksessie” moet ontaard nie.
  7. Bid hardop vir mekaar. Vir sommige mense is dit moeiliker as vir ander. Maar as julle tot daar kan strek, is dit ’n goeie gewoonte. Bid vir jou maat se gesondheid, bekommernisse, vrede en wysheid. Matteus 18:20 sê nie verniet nie: “Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
  8. Sê elke dag doelbewus vir jou maat dankie. As jy saans, wanneer julle reeds in die bed is, agterkom jy het nog nie vandag jou maat bedank vir woorde, ’n aksie of ’n ervaring nie, sê dit of skryf dit neer vir hom om te lees.
  9. Hou hande vas. Dit is ’n wonderlike manier om jou maat te laat verstaan jy is lief vir hom en wil graag naby hom wees. Dis kalmerend en daar is bewys dat dit selfs ’n mens se bloeddruk tydelik verlaag!
  10. Beplan seks en romanse! Die lewe raak besig, maar tyd saam met jou maat is ’n prioriteit. Maak dus tyd vir jou man/vrou deur tyd op jul kalender aan te teken. As ’n mens getroud is, beteken dit nie jy kan ophou om te date en romanties te verkeer nie.

Deur hierdie gewoontes toe te pas, kan jy jou huwelik versterk en verbeter. Sommige hiervan moet daadwerklik aangeteken word op jou kalender en ander sal, deur net ingestel te wees op jou maat se behoeftes, gou deel van jul interaksie word.

Artikel deur Annelize Steyn