“Ek en my man is al tien jaar gelukkig getroud, met wonder­like kinders. Die grootste gedeelte van ons getroude lewens woon ons egter saam met sy ouers onder een dak. Die afgelope twee jaar knaag die frustrasie aan my en ek het dit al met my man bespreek, maar hy beweer (en ek verstaan dit) dat sy ouers dit nie kan bekostig om op hul eie te bly nie. Seks buite die slaapkamer is onmoontlik. ’n Romantiese ete vir my man ook – want ek sal hulle moet nooi! Ek is baie lief vir my skoonouers, maar hierdie situasie werk nie meer vir my nie. Hoe benader ek dit? Staan ek die kans om my verhouding met my man te belemmer? Gaan hy my later daaroor verwyt? Ek voel voortdurend rusteloos, want my huis is nie meer mý ruimte nie. Gaan ek meer verloor as wat ek kan wen? Is ek selfsugtig? En hoe hanteer ek verwyte van die res van die familie wat ek wéét gaan kom? Die Bybel sê tog duidelik die man sal sy ouerhuis verlaat…”

Promosie

Gustav en Elna van Healthy Relationships (www.healthyrelationships.co.za) antwoord:

Om saam met skoonouers onder een dak te bly sal menige vrou frustreer. ’n Vrou se huis is immers die plek waar sy haar vrouwees uitleef en haar moederlike stempel afdruk, en dit is nie selfsugtig om só ’n behoefte te hê nie.

Dit is prysenswaardig dat jy graag meer wil hê vir julle huwelik en dat jy dit nie roekeloos benader nie. Jy vra die regte vrae en is versigtig om nie familieverhoudings te benadeel in die soeke na ’n oplossing nie.

Promosie

Die beste manier om dit te benader, is om dit op die regte manier te bespreek. Julle oplossing lê aan die ander kant van ’n paar goeie gesprekke hieroor. Hou in gedagte dat mans graag probleme wil oplos en as hulle nie dadelik ’n oplossing het nie, sal hulle die gesprek oor die probleem probeer vermy. Sê vir hom jy wil net oor die saak gesels sonder om dit te probeer oplos. Só ’n benadering sal ruimte skep vir die bespreek van verskillende opsies en dan sal die oplossing vanself duidelik raak. Die finansiële beperkings wat hy raaksien is nie die begin en die einde van die op­lossingsmoontlikhede nie. Die oplossing begin dalk by iets eenvoudig soos beter grense binne die huishouding wat jou die vryheid en ruimte gee om jouself meer vrymoedig­lik uit te leef.