Maak julle oë styf toe en smyt alle onmin by die agterdeur uit, want by die voordeur staan die Griekse eiland Santorini en klop. En dis meer as wat julle julle ooit kan voorstel!

Promosie

Dis die stuff waarvan drome gemaak word. Waaroor digters liries raak en argeoloë bokspring, want met ‘n geskiedenis van 4 000 jaar en ‘n oer-oue rots wat majestueus en trots uit die see pronk om die geheim van Atlantis te bewaar, kan jy nie anders as om ook verlief te raak op die soel, wit en vredige eiland nie. Santorini word beskou as die mees romantiese Griekse eiland. ‘n Witgewaste dorpie, gespikkel met blou kerkies en ingekleur deur betowerende sonsondergange.

Die afgelope twee dekades het Santorini ‘n trekpleister vir toeriste geword en naam gemaak wat cuisine en wyn aanbetref. Maar in Griekeland self is daar ‘n eie kultuur. Hulle begin vroeg werk om die hitte in die middel van die dag te vermy en dink niks daarvan om ontbyt oor te slaan nie. Indien dié ete wel aandag kry, bestaan dit sommer uit ‘n koppie koffie (met ‘n sigaret!) en dalk ‘n sny soet brood. Later in die oggend kan jy ‘n koulouri (broodring bedek met sesamesaad) of tiropita (kaaspasteitjie) by ‘n straatstalletjie koop. Ná middagete (gewoonlik voorgeregte, slaaie en vis of moussaka saam met ‘n kraffie rooiwyn) is dit tyd vir ‘n lekker siestatjie!

Dan maak die winkels saans weer oop vanaf halfvyf tot negeuur. Aandete is tussen 20:30 en 21:00. By ‘n taverna is ‘n aandete ‘n viering met borde en borde voorgeregte, slaaie en hoofgeregte vir almal om te deel. Almal neem ‘n happie uit mekaar se borde. Jy sal altyd op ‘n Griekse tafel die volgende bestanddele raaksien of raakproe: olywe, olyfolie, suurlemoen, eiervrug, lamsvleis, heuning en seekos… en natuurlik baie meze’s (klein happies wat enige tyd van die dag saam met drankies bedien word en bestaan uit olywe, feta-stukke, pitabroodjies en spanekopita!

Promosie

Jul Santorini Piekniek Spyskaart

Drie Griekse doopsouse:
Melitzanosalata – Eiervrug-doopsous
Tzatziki –Joghurt en komkommer-doopsous
Humous – Kekerertjie-doopsous

Spanekopita – Spinasiesigare
Keftedes – Frikkadelle
Souvlaki – Hoendersosaties
Griekse slaai
Pita brood
Wynvoorstel: Pinot Noir of Sauvignon Blanc

Heuning en vye saam met roomkaas
Drankievoorstel: Gewürztraminer

Só berei julle voor vir jul heerlike Griekse piekniek!

Van hier af spreek ons manlief aan as Andras (dit beteken “man”) aangesien die Griekse woord vir ‘husband’ en ‘wife’ nie verskil nie. Vroulief, ons noem jou γυναίκα (dit word “Gynaíka” uitgespreek).

Trek só aan:

Onthou, Santorini is ’n warm en droë eiland, so wag vir ’n heerlike sonskyndag en trek ge­maklik en eenvoudig aan. As eenvoudige wit linne en sandale vir julle te koel vir die winter is, laat antieke Griekeland julle inspireer met lieflike lang rokke, lakens en goue linte wat julle om julle kan bind.

Yυναίκα: Gaan beg, borrow or steal ’n blou-en-wit tafeldoek en eetgerei. Jou palet bestaan uit vars blou, wit en ’n bietjie lem­metjiegroen.

Andras: Gaan kry ’n droë Rose, Pinot Noir en Sauvignon Blanc en spring in by die supermark vir pitabrode en ’n klaargemaakte Griekse slaai.

Dekor-idees

  • Wit en blou vlaggies wat wapper in die wind, met spatsels rooi soos malvas.
  • Suurlemoene in ou houtkratte.
  • Wit kanttafeldoeke met antieke eetgerei, vasgebind met meters kant.
  • ’n Titsel goud (eie aan Griekeland). Verf deursigtige glashouertjies.
  • Stapels wit gipsborde (waarop julle kan verf en dit later stukkend gooi!).
  • Kry hout-eetgerei vir jou piekniek in plaas van die gebruiklike plastiek.
  • Versier jou piekniekkombers deur bood­skappe op skulpe te skryf.

Beplanning:

  1. Maak al jul doopsouse en plaas dit in die yskas.
  2. Gaan koop die wyn en pitabrode.
  3. Maak die souvlaki en plaas dit in die yskas, reg vir die braai.
  4. Maak die spanekopita gaar in die oond.

Hier volg jou resepte:

Tzatziki (maak 300ml)
250ml Griekse joghurt
1 Baba komkommer, geskil en fyn gesny in blokkies. (Jy kan dit ook rasper op die growwe kant, maar druk soveel as moontlik water uit – ’n perfekte werkie vir manlief.)
1 Knoffelhuisie, fyn gekap
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
7,5ml Olyfolie
7,5ml Suurlemoensap
15ml Vars dille, fyn gekap
7,5ml Vars origanum, fyn gekap
15ml Vars mint, fyn gekap

Só maak julle:
Andras, kombineer al die bestanddele in ’n mengbak. Meng goed, bedek en verkoel vir ten minste een uur voor bediening. Plaas in ’n doopsousbakkie reg vir julle piekniek.

Humous (maak 375ml)
Tradisioneel word humous met ’n sesame-pasta (tahini) gemaak. Hierdie resep is so ’n bietjie aangepas en sonder tahini, maar vreeslik lekker.
1 Blikkie (400g) kekerertjies (chickpeas)
’n Groot knippie fyn komyn
2,5ml Gedroogde rooi brandrissie-vlokkies
1 Knoffelhuisie, fyn gekap
1 Suurlemoen, sap uitgedruk
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
60-90ml Olyfolie

Só maak ’n mens:
Yυναίκα, plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker of stokkie blitser. Manlief, ’n gekontroleerde takie vir jou: Gooi die olyfolie stadig by om alles los te maak terwyl vroulief klits tot dit ’n romerige tekstuur het. Kry ’n lepeltjie en proe vir genoeg sout en peper of selfs nog ’n bietjie suurlemoensap. Skep dit uit in ’n doopsousbakkie en plaas dit in die yskas vir julle piekniek. Bedien jul doopsouse saam met pitabrode.

Spanekopita – Spinasiesigare (bedien 2 mense)
250g Baba-spinasie
15ml Olyfolie
60ml Sprietuie, gekap
70ml Fetakaas, gekrummel
15ml Pietersielie, gekap
125ml Roomkaas
1 Eier
’n Knippie neutmuskaat
½ Pak filodeeg
125g Gesmelte botter

Só maak ’n mens:
Manlief, skakel die oond aan om te voorverhit tot by 180°C.

Yυναίκα kan die spinasie met koue water was. Plaas dan die nat spinasie in ’n groot kastrol oor medium hitte tot dit lyk asof dit heeltemal verwelk het, sowat vyf minute, en hou aan om dit rond te beweeg. Verwyder die spinasie van die hitte, skep die verwelkte en gaar spinasie uit en plaas tussen twee borde om al die water uit te druk. Hier kan Andras sy spiere bult terwyl al die water uitgedruk word. (Na die verwoedelike spierebult moet julle definitief so ’n teugie of twee wyn drink.)

Andras, wys vir vroulief jou asemrowende mes-tegnieke en kap die spinasie fyn.

Yυναίκα, gebruik sommer dieselfde kastrol waarin jy die spinasie gestoom het, braai die sprietuie in ’n bietjie olie tot sag en voeg dan die gekapte spinasie by en verwyder van die hitte.

Terwyl Yυναίκα die uie braai, kan Andras die fetakaas, eier, pietersielie, roomkaas en sout en peper saam meng. Andras, gebruik sommer jou vingers om die fetakaas te krummel.

Op ’n skoon werksoppervlak stapel vroulief drie lae filodeeg op mekaar met gesmelte botter wat jy tussen elke laag verf. Sny die deeg in drie stroke in die lengte, plaas ’n eetlepel vol op die bopunt van elke strook, vou die filodeeg oor die mengsel en vou die lang kante van die filo in asof jy ’n soom vou vir die filo.

Saam-saam rol julle nou die filo van waar die spinasievulsel is tot aan die onderpunt van die strook.

Plaas die spinasie-filosigare op ’n gesmeerde bakplaat met die voukant na onder, verf die bokant weer met ’n bietjie gesmelte botter en plaas in die oond vir ongeveer 20-30 minute of tot goudbruin gebak.

Laat die spanekopita eers afkoel voor jy dit verpak vir julle piekniek, anders gaan dit sweet en pap raak.

Souvlaki – Hoendersosaties (bedien 2)
400g Ontbeende hoenderborsies (of vark of lamsvleis), gesny in 2,5cm blokkies
15ml Vars origanum, gekap
15ml Vars roosmaryn, gekap
40ml Olyfolie
30ml Vars suurlemoensap
¼ Suurlemoen se skil gerasper
½ Knoffelhuisie, gekap
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2,5ml Fyn paprika
2,5ml Gedroogde brandrissievlokkies (opsioneel)
4-6 Sosatiestokkies, geweek in water vir ten minste 30 minute
Suurlemoen-wiggies vir bediening

Só maak ’n mens:
Yυναίκα, kry ’n groot mengbak, meng die hoender (of ander vleis) met al die bestanddele, bedek met kleefplastiek en verkoel vir ten minste ’n uur om te marineer.

Andras, ryg dan die blokkies hoender (of ander vleis) in die geweekte sosatiestokkies en hou die oorblywende marinade eenkant. Plaas die sosatiestokkies in ’n lugdigte houer reg vir julle Griekse piekniekbraai.

Maak kole vir ’n lekker braai of verhit ’n swaarbodem braaipan tot medium hitte. Dit gaan so om en by 10-20 minute neem, roteer die vleis soos jy braai en verf so af en toe as jy dit omdraai met die oorblywende marinade om seker te maak dit word eweredig gaar.

Bedien onmiddellik met suurlemoen-wiggies, pitabrood, doopsouse en slaai.

Etiket-wenk!

  1. Dit is gebruiklik om saam uit een bord te eet. Om kos te deel, is die norm in Griekeland!
  2. Gewoonlik stel die gasvrou ’n heildronk op gesondheid in deur die uitdrukking “Stinygiasou!” te gebruik.

En vir nagereg…

Griekeland is ’n land van son, pret en onverantwoordelikheid, so hou dié tema liefs vir vroeg-somer. Tog werk hulle hard aan hul huwelike danksy romanse, antieke tradisies en hul geloofsvastheid. Hulle glo nie in egskeiding of tweede huwelike nie en praat sake uit. Die Grieke is melodramaties, romanties en lojaal. Laat dít julle inspireer. Ná jul piekniek, ’n luilekker swemsessie (bostukloos is ín in Santorini – daar is gewoonlik méér kaalbas swemmers as diegene met ’n volledige baaikostuum of bikini), ’n kort middagete en lekker wyn, is dit tyd om jul dansskoene uit te haal. In die tuin.

Onthou, dié is jou enigste buitelug-ete, so maak gebruik van die buitelug. “Om seks buite te hê, hernu die sintuie,” meen Sandor Gardos, ’n seksterapeut. “Die gevoel van ’n bries op jou vel, die geur van varsgenyde gras… plus, die vrees dat julle dalk uitgevang kan word, maak dit ekstra lekker.” So, raak ontslae van jul klere vir ’n dansnommertjie in jul naakte waarheid.

Nóú verdien julle poeding

1. As ’n mens aan Griekse poeding dink, dink jy vanself­sprekend aan lekkernye met joghurt, heuning, neute en vye, wat so eie aan dié land is. Sorg dat julle vooraf al hierdie bestanddele bymekaar maak. Rangskik dit in verskillende bakkies en gaan lê langs mekaar op die piekniekkombers.

2. Elkeen van julle het nou die geleentheid om self sy/haar piekniek op te skep. Jul poedingbakkies? Elke kontoer van jul lywe! Verbeel julle julle is Adam en Eva in die paradys, breek die vye oop en voer mekaar. Kry lepels om die heuning mee te drup en die joghurt mee op te skep. Gebruik ’n kook-kwassie (wat jy vir marinade sou gebruik) om jou maat met joghurt te versier en besluit self waarmee en hoe jou poeding die lekkerste gaan smaak. Bedrup, besmeer en besprinkel jou maat se lyf. Geniet elke oomblik!