Mens hoor gereeld van die Menslike Papilomavirus inenting. Wat is dit, wat moet ek daarvan weet en hoe kan dit moontlik my kind beskerm?
In 2014 het die Departement van Gesondheid ’n Menslike Papilomavirus (MPV) inentingsprogram uitgerol in staatskole in Suid-Afrika om die voorkoms van servikale kanker te verlaag.
Servikale kanker is die tweede mees algemene kanker wat voorkom onder vroue in Suid-Afrika en 99% daarvan word veroorsaak deur die MPV infeksie van die genitale area.
Wat is die Menslike Papilomavirus (MPV)?
MPV is ’n virus met meer as ’n honderd verskillende serotipes en kry sy naam van die vratte (papilomas) wat deur sekere tipes van hierdie virus veroorsaak kan word. Dit word versprei deur vel-tot-vel kontak gedurende vaginale, anale of orale seks.
Meeste mense met die MPV infeksie sal asimptomaties wees en hulle immuunstelsel verdedig hulle teen die virus. In gevalle van verlaagde immuniteit (soos met MIV) en aanhoudende infeksie met hoë-risiko tipe MPV kan selle abnormaal raak en voorgangers tot kanker selle word.
Watter siektes word veroorsaak deur MPV?
• Laë-risiko MPV (tipes 6 en 11) veroorsaak genitale vratte in mans en vroue. Genitale vratte is groeisels wat binne die vagina of buite op die vulva, anus en op die penis kan groei. Dit is nie-kwaadaardig en kan nie in kanker verander nie. Medikasie of chirurgie kan gebruik word vir behandeling.
• Hoë-risiko MPV (tipes 16 en 18) kan kanker van die serviks, vagina, vulva en penis veroorsaak, sowel as anale en keel kanker. MPV tipe 16 en 18 is verantwoordelik vir 70% van servikale kanker gevalle wêreldwyd.
MPV Inenting:
Daar is tans twee inentings in Suid-Afrika beskikbaar om hierdie siekte te help voorkom:
• ’n Bivalente inenting, wat serotipes 16 en 18 dek
• ’n Kwadrivalente inenting wat serotipes 6, 11, 16 en 18 dek.
Beide inentings is hoogs effektief om infeksie met MPV tipes 16 en 18 te voorkom, sowel as om servikale letsels met voorganger kankerselle te voorkom. Die kwadrivalente inenting is ook baie effektief om genitale vratte te voorkom.
Beide MPV inentings is versigtig waargeneem tydens kliniese proewe om seker te maak dat dit veilig is en dit word nogsteeds deurlopend gemonitor.
Ligte newe-effekte soos pyn, rooiheid of swelling in die area waar die inenting toegedien is kan ervaar word. Koors, hoofpyn, naarheid, spier- of gewrigspyn is ook al ervaar. Daar is enkele gevalle van persone wat flou geval het na die inenting, maar dit kan gebeur na enige mediese prosedure. Dit word aanbeveel dat mens sit of lê vir so 15 minute na toediening van die inenting.
Wie mag dit kry en wanneer?
Die teikenmark vir hierdie inenting is jong tieners tussen 9 en 13 jarige ouderdom.
Slegs twee dosisse, 6 maande uitmekaar, word benodig as dit voor 13 jaar toegedien word, wat help met koste implikasies. Vir persone ouer as 13 jaar word drie dosisse benodig op 0, 1 of 2 maande en 6 maande (afhangende van die gekose inenting). Ideaal moet die inenting ook toegedien word voor ’n persoon seksueel aktief is, maar indien mens reeds blootstelling gehad het tot een tipe van die virus, sal die inenting steeds kan help beskerm teen die ander tipes.
Daar is bekommernis onder sekere groepe dat die inenting mag lei tot vroeër seksuele aktiwiteit onder tieners, maar verdere studies van tieners wat ingeënt is, het dit nog glad nie getoon nie.
Vrouens tussen die ouderdom van 9 en 45 jaar mag die bivalente inenting ontvang. Tans word die bivalente inenting toegedien in meisies as deel van Suid-Afrika se staatskole inentings program.
Vrouens (tussen 9 en 45 jaar) en mans (tussen 9 en 26 jaar) mag die kwadrivalente inenting ontvang.
Die kwadrivalente inenting voorkom infeksie met die mees algemene tipes MPV wat genitale vratte en kanker van die penis in seuns kan veroorsaak. Kanker van die penis is egter skaars, dus selfs al is die inenting voordelig vir seuns, is dit nog nie deel van die amptelike inentingsprogram nie.
Die inentings is gekontraïndikeer in persone wat ’n vorige lewensbedreigende reaksie gehad het tot enige van die bestandele in die inenting, insluitende gis wat gebruik word om die kwadrivalente inenting te maak. Dit is tans teenaangedui in swanger vrouens, maar is veilig gedurende borsvoeding.
Gereelde papsmere, soos riglyne aanbeveel, bly steeds belangrik om kanker en voorganger kankerselle vroegtydig te identifiseer, selfs al het jy die inenting ontvang. Addisioneel tot die inenting kan jy jouself beskerm van MPV infeksie deur jou hoeveelheid seksuele metgeselle te beperk en deur die gebruik van ’n manlike of vroulike kondoom.
Die MPV inenting bied jou die geleentheid om jou kind te beskerm teen servikale kanker, sowel as genitale vratte en ander kankers. Bespreek gerus die inenting en sy voordele met jou huisdokter of klinieksuster vir meer inligting en om te help om ’n besluit te neem.
Artikel deur Dr Christa Rocher, Algemene Praktisyn in Pretoria