Jy het met albei jou voete daarin getrap. Sy het gevra of jy dink haar suster is aantreklik. Jy het gedink dit sal gemeen wees om ’n familielid te beledig en dat sy jou eerlikheid sal waardeer, maar blykbaar moes jy nie die oortreffende trap van sexy gebruik het nie!
Ons almal ken daardie rusies. Daardie tye wat jy wens jy kon jou woorde sluk saam met die rou broccoli wat jy sedert die geveg in jou bord kry ( jy hou nie eers van gaar broccoli nie…). Nou is daar ’n koue oorlog in die huis. Sy – drama queen wat sy is – plaas ’n strategiese boek oor “huwelike in nood” op jou bedkassie en haar sarkasme ken geen perke nie (dit wat jy hoor wanneer sy met daardie einste suster praat, want teenoor jou geld net stilstuipe). Op dag een is jy vies. Op dag twee begin dit ongemaklik raak. Op dag drie mis jy haar lyf onder jou vel en op dag vier lyk alles net heeltemal belaglik! So, hoe hys jy die wit vlaggie? Ons gee jou ’n paar kreatiewe idees…
- Trek die Scrabble-bord nader. Besluit watter boodskap jy vir haar wil uitspel, verkieslik iets soos: “Kan ons gesels?” of “Ek is jammer, my lief” en los die blokkies op die kombuistoonbank.
- Hys letterlik ’n wit vlaggie! Kry ’n ou, wit kussingsloop uit die kas, kram dit vas om die boonste gedeelte van die besem en plant dit in ’n emmer vol grond voor jul kamerdeur. Wanneer sy die deur oopmaak, moet sy jou kaalbas op die bed aantref, met jou vingers wat die vredesteken wys (’n “V” met jou voorvinger en middelvinger, palm na voor) en jy wat uitroep: “Peace and free love, baby!” As dit haar nie laat lag nie, sal sy minstens jou moeite waardeer.
- Misbruik vir Wagter. As julle albei diereliefhebbers is en jy weet dat sy jul woef met groot liefde gaan groet as sy by die huis kom, skryf ’n nota wat sê: “Is ek nog in die dog box?” en maak dit vas om sy nek.
- Stuur ’n bos wit rose werk toe. Drie redes hoekom dié gebaar gewoonlik werk: Eerstens kan ’n vrou blomme nie weerstaan nie, tweedens gaan sy besef jy het gedink oor die kleur en derdens: ’n Vrou is mal daaroor as haar kollegas sien hoe geliefd sy is!
- Draai die humor aan. As jy nie die airy fairy tipe is nie, gaan dié een werk: Steek ’n paar wierookstokkies in die kamer aan, trek vir jou ’n lang los broek aan (sommer ’n pajamabroek), trek jou hemp uit en draai ’n handdoek om jou kop. Gaan sit nou kruisbeen op die vloer en hummm… As sy inkom en jou vra wat jy doen, antwoord: “Ek is besig met ’n reinigingsritueel, want ek kan nie die bad vibes in hierdie kamer uitstaan nie.” As sy uitbars van die lag, spring regop en sing Good vibrations van die Beach Boys.
- Serenade haar. Staan op in die middel van die nag, kry jou kitaar of jou seun se drommestel en gaan staan buite die kamervenster. Serenade haar met een van die volgende liedjies: Hard to say I’m sorry deur Chicago of Sorry seems to be the hardest word deur Elton John.
- Gee haar ’n olyftakkie. Dit is ’n simbool van vrede of oorwinning en is ’n gebruik uit antieke Griekeland. Plaas ’n olyftakkie op haar kussing saam met ’n wit kaartjie wat bloot sê: “Ek is jammer.” Die eenvoud en opregtheid hiervan sal haar sag maak (mits jy regtig opreg spyt is!).
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: hitchedmag.com