Jy sien hulle op ’n bankie in die park sit – verrimpeld en steeds dolverlief! Sal dit julle wees oor 50 jaar? INTIEM het gaan gesels met paartjies wat al hul 40ste of 50ste herdenking gevier het om eerstehandse, eerlike raad te kry.

Promosie

Goue huweliksherdenkings is ’n “bedreigde partytjie”. Paartjies trou op ’n al hoe hoër ouderdom. ’n Paartjie wat vandag op 35 trou, sal dus eers hul goue huweliksherdenking kan vier op die ouderdom van 85 (mits hulle gespaar bly!). Om dus jou 50ste huweliksherdenking te kan vier, is ’n groot prestasie en seën.

Lyk jou goue huweliksherdenking myle ver weg? Asof jy nog ’n hele paar botteltjies Rescue Remedies sal moet wegsluk voor dan? Moenie glo nie. Dié wat weet sê dat hoewel hulle ’n paar keer moord oorweeg het, eerder as egskeiding, dit nie só moeilik is om die huwelik te laat hou nie – en dat dit heerlik is om daardie mylpaal te bereik! So, lees solank hierdie wenke deur mense wat die lisensie het om raad te kan gee en begin spaar vir daardie goue partytjie.

Maak van die huwelik ’n avontuur

Promosie

Joyce* en Ted* is 60 jaar getroud! Hulle meen dit is ’n kwessie van gee en neem. “’n Mens moet dinge bespreek en verskeie dinge doen. Dit maak die lewe interessant. Ek en Ted hou van dieselfde tipe dinge. Ons het baie gereis en ons hou albei daarvan om te kamp. Dit help ook as beide aan dieselfde kerk behoort of geloofsoortuigings deel.” Uiteindelik kom dit neer op erns en pret. Die huwelik kan maklik onderskep word deur ’n besige skedule, maar dit kan ook baie prettig wees – mits jy daarvan ’n prioriteit maak!

Deel kernwaardes, maar bly individue

Annemarie* en Karel* is 41 jaar getroud. “Ons het lank uitgegaan voordat ons getroud is. Ons het mekaar dus goed geken. Ons ouers was vriende en ons het dieselfde agtergrond, geloof, kultuur en opvoeding gehad. Ons waardes is dieselfde. Ons het mekaar ruimte gegee. Ek het skoolgehou en was ’n musiekonderwyseres, so wanneer ek by ’n konsert moes wees, sou hy na die kinders kyk. Om mekaar te vertrou is ook ’n baie belangrike ding. Respekteer mekaar, ons praat nooit lelik met mekaar nie. Verskil ‘netjies’. Praat dinge uit en los dit op. Ons was skrikkerig oor hoe dinge ná ons aftrede sou werk, maar dit werk uitstekend. Ons het elkeen ons eie motor en is steeds twee individue, maar ons help mekaar. Ons deel alles, ons het nie ’n geval van ‘myne en joune’ nie.”

’n Goeie humorsin is ’n reddingsboei!

Rosie* en Peet* is 43 jaar getroud. “Ons is 43 jaar getroud en het mekaar darem nog nooit aangerand nie! Alle grappies tersyde. Die volgende werk beslis vir ons: ’n Goeie humorsin is noodsaaklik! Kenners meen dat humor baie konfrontasie kan oplos. As jy kan lag vir die argument of situasie en daarby verby beweeg, doen jy iets positiefs ter wille van jou huwelik. Sorg net dat jou maat weet jy lag vir die situasie en nie vir hom nie! As jy kan lag in die moeilike tye, stel dit dikwels dinge in perspektief en skep dit ’n lekker atmosfeer tussen julle.”

Doeltreffende kommunikasie is ’n noodsaaklikheid

Rosie en Peet meen ook: “Goeie kommunikasie… en dit beteken om te praat oor dinge wat pla en wat noodsaaklik is, maar terselfdertyd ook te luister na wat jou maat op die hart het. Moenie onnodig kritiseer nie en maak tyd vir mekaar om lekker dinge saam te doen. Gee om vir jou maat se geluk en welstand en wys dit elke dag.”

Volgens kenners is dit die moeilikste aspek om onder die knie te kry – kommunikasie. Sommige pare erken dat dit selfs ná 50 jaar nog ’n uitdaging is. Voldoende kommunikasie is egter wanneer jy eerstens jou maat probeer verstaan voordat jy eis dat hy jou moet verstaan.

Kobie* en Louis* is 49 jaar getroud en sê dat liefde en respek kernwoorde is. “’n Mens moet mekaar ook ruimte gee. Ons het ook nooit regtig baklei nie. Ons ken nie eintlik die woord baklei nie. Dit is eintlik iets kosbaars wat jy vir jou kinders kan gee om nie voor hulle te baklei nie. Ons sê mekaar nooit sleg nie.”

Verstaan mekaar se rolle in die huwelik

Rita* en Kobus* is 60 jaar getroud. “Beide van ons se ouers was Godvresende huwelikspare met ’n lewenslange verbintenis. Hulle was ons rolmodelle en as ons terugkyk na al die foute wat ons gemaak het, weet ons hulle gebede het ons as huisgesin deurgedra. Ná die groot verliefdheid kom die ‘bed en tafel deel’-storie waardeur ons geworstel het. Die liefde het gehou en is met wedersydse vertroue en respek vir mekaar aangevul. As ’n mens jou maat kan vertrou en respekteer, kom jy ’n lang pad. Twee mense in die huwelik, ’n man en ’n vrou, staan gelyk, daar is nie base nie. Ons manne moet net onthou, agter elke man is ’n vrou. My vrou was die ware tuisteskepper vir die gesin en saam het ons die fondament gelê en die rigting beplan vir ons kinders. Ek was die broodwinner en het gesorg vir ’n goeie huis en mooi tuin waarin die hele gesin saam kon werk en ontspan. Ek het ook gehelp met die sleurtake en ’n ma wat 24 uur aan diens was. Ons was laas jaar 60 jaar getroud. My vrou se gesondheid het baie afgeneem, maar met haar kop en hande is ons nog in ons huis en kan ons mekaar help. Ek sluit af met Koos du Plessis se gebed: ‘Wat ons het, is net sy genade en wat ons besit, het Hy ons geleen.’”

Ondersteun mekaar en neem mekaar in ag

Antoinette* en Michael* is 46 jaar getroud. “Liefde en respek. Jy kan níks doen sonder respek nie. Ondersteuning is ook baie belangrik. Ons is nou albei siek, so ons moet mekaar ondersteun. Ons doen ook dinge saam. Ek help hom en hy help my. Ons neem ook besluite saam. Een kan nie sy eie pad loop en die ander een loop ’n ander pad nie. Ons geniet alles saam. Neem mekaar in ag.” Michiel voeg tong in die kies by: “Jy moet sorg dat jy darem goed genoeg lyk dat sy haar nie hoef te skaam nie, maar darem ook nie só goed dat ander vroue vir jou kyk nie, dit is ’n fyn skeidslyn.”

Annalie* is al 45 jaar met Frik* getroud en sy vertel: “Ek en my man is twee teenoorgestelde pole. Aanvaar mekaar soos julle is. Die krisisse en hartseer wat oor ’n mens se pad kom, is uiteindelik die gom wat jou gesin saamsnoer. Ons het ook vier wonderlike kinders wat ons as man en vrou aan mekaar bind. Ons glo nie aan egskeiding nie, egskeiding bring net verdere probleme.”

Maak van geloof jou steunpilaar

Erika* en Gert* is 53 jaar getroud. Hulle meen: “Daar is een basiese vereiste. Een van die twee partye, verkieslik albei, maar ten minste een, moet aan die Here glo. Die lewe is nie altyd maklik nie, en dit was vir my wonderlik om ’n steunpilaar in my geloof te hê, behalwe vir my man. Op my eie kan ek nie, ’n mens het daardie Rots nodig wat jou tot alles in staat stel.”

In sy navorsing oor wat paartjies by mekaar hou, het Scott Postma, ’n ervare pastoor van Nevada in Amerika, bevind dat elke paartjie met wie hy gesels het wat die 50-jaar merk gehaal het, bely het dit was God wat hulle in staat gestel het daartoe om 50 jaar lank getroud te bly. “Hy was teenwoordig in elke liewe een van die 50+ suksesstories. Hy was hulle Koning, hulle Redder en altyd hulle hulp in moeilike tye. Dit was Christus wat vir hul sondes gesterf het en daarom Christus vir wie hulle geleef het om Hom tevrede te stel. En deur te lewe om Hom tevrede te stel, is hulle geseën en deur Hom versorg.”

Behou daardie vonk – chemistry kán 50 jaar lank hou!

Erika en Gert meen ook: “En daar moet ook chemistry – daardie vonk – wees. Ons is nog nét so verlief soos 53 jaar gelede. Wanneer Gert veral onverwags ’n vertrek binnekom, is dit asof daar iets in my aangesteek word. Ek was voorheen ’n biologie-onderwyseres, ons twee het daardie simbiose. Ons teer op mekaar tot wedersydse voordeel.”

Nog ’n paar vinnige wenke:

  1. Stap weg as dinge té hittig raak. Soms raak die atmosfeer ’n bietjie gelaai (en selfs dan help ’n goeie grappie nie!). In só ’n geval, stap weg en kry ’n bietjie alleentyd. Gaan blaas stoom af in die tuin of werk aan jou stokperdjie voor jy terugkom en julle bedaard oor die situasie gesels.
  2. Leer om te deel. En nou praat ons van álles: van tandepasta tot hartseer. Om jou persoonlike ruimte te deel, is nie altyd maklik nie, maar as jy leer deel, dra dit by tot ’n ander vlak van intimiteit.
  3. Leer om te sê jy is jammer. Dit beteken allermins dat jy die handdoek ingooi, “oorgee” of die mindere is. Wat dit beteken, is om te erken dat jou huwelik groter is as hierdie probleem. Die lewe is te kort om wrokke te koester. Maak vrede sodat julle kan aanbeweeg.
  4. Onthou jou maniere. Dit klink dalk nou simpel, maar dit loop hand aan hand met respek. Doodeenvoudige woorde soos “asseblief” en “dankie” wys dat jy jou maat nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar hom beskou as ’n persoon wie jy respekteer.
  5. Moenie glo dat alles perfek is nie. Onthou, geen huwelik is altyd perfek nie. Moenie onrealistiese verwagtings koester nie, want dan gaan jy die hasepad wil kies met die eerste opdraande in jou huwelik. Bly realisties en sien elke struikelblok as ’n instrument wat julle huwelik gaan brei – tot die dag wat julle daardie glasie klink op jul 50ste herdenking!

 

*Skuilname gebruik
Deur Ernalize Groenewald en Annelize Steyn
Addisionele bronne: janinehuldie.hubpages.com; scottpostma.net