Jy sien hulle in die restaurant sit. Hy sê iets… duidelik onbeskof. Sy rol haar oë voor sy haar trane wegknip. Later soek hy toenadering, maar sy trek haar hand weg en raak besig met haar selfoon. Iets in jou wéét dat hierdie nie ’n eenmalige scenario is nie – dat hierdie huwelik al só vergiftig is dat omdraaikans ’n groot uitdaging sal wees. Keer dat jy en jou maat in dieselfde bootjie eindig deur bedag te wees op die volgende foute. Pleeg hierdie tien sondes en jou huwelik sál ’n stille dood sterf…

Promosie
  1. Hou op om jou binnekant met jou maat te deel.

Ben en Alida kyk elke aand saam TV, Saterdae speel hy gholf en sy gaan kyk na die kinders se sport,

maar as jy hulle vra: “Wat maak jou maat regtig opgewonde? Hoe kan jy jou maat regtig bederf? haak hulle so ’n bietjie vas voordat hulle kan antwoord.

WENK: Onthou, om emosioneel intiem te wees, verg ’n sekere hoeveelheid kwesbaarheid teenoor mekaar. As julle mekaar kan laat veilig voel wanneer julle kwesbaar is, is dit moontlik vir julle om emosioneel intiem te wees.

Promosie
  1. Hou op om waardering vir jou maat te wys.

Jackie en Gerrit klim elke aand saam in die bed, het gereeld seks, maar as jy hulle vra wat hulle van mekaar waardeer, is dit vir hulle ’n moeilike vraag om te beantwoord. “My kollegas vertel my ek lyk mooi, my vriendinne sê ek is ’n goeie ma, maar dit voel vir my Gerrit neem alles wat ek doen maar net as vanselfsprekend aan.” Dís wat Jackie vertel.

WENK: Leer ken jou maat se liefdestaal en sorg dat jy jou waardering vir hom/haar op hierdie maniere wys.

  1. Wees oneerlik met jou maat.

Ansia jok oor die inkopiesakke in haar klerekas. Werner vertel haar hy is op die gholfbaan terwyl hy eintlik by vriende kuier. En albei dink dis “onskuldige leuentjies”. Om egter oneerlik met jou maat te wees, kan groot probleme in ’n huwelik veroorsaak.

WENK: Sorg dat jy eerlikheid altyd op die prys stel. Daar is nie iets soos “goeie” of “wit” leuentjies in ’n huwelik nie en kort voor lank word klein leuens reusagtig.

  1. Word beter vriende met ’n persoon van die teenoor-gestelde geslag as met jou maat.

Ons almal ken die verleiding – Julie vertel dat haar kollega, Hendrik, en sy mekaar net só verstaan. Dit raak vir haar baie maklik om dinge met haar kollega te bespreek en naderhand word Gert se betrokkenheid by sy ma, sy hantering van sy honde (wat vir Julie grensloos irriteer), sy onkunde oor musiek en sy vreemde smaak in boeke ook met Hendrik bespreek. Mettertyd word die emosionele afstand tussen haar en haar man groter en die afstand tussen haar en Hendrik al hoe kleiner…

WENK: Jou maat moet jou beste vriend van daardie geslag wees. Besluit om altyd éérs met hom iets te bespreek en vermy vriendskappe met die teenoorgestelde geslag, veral as jy jou maat met daardie persoon begin vergelyk.

  1. Hou op om om te gee of jou maat jou begeer.

Lise se seksdrang het begin kwyn, maar omdat sy dit ook gemis het, het sy Johan gevra om haar te help om dit terug te kry. Só het hy besef hy het ook die mag in sy hande en daar is hoop. ’n Lae seksdrang wat vir ’n lang tydperk aanhou, is ’n simptoom van iets wat nie reg is in die verhouding nie.

WENK: Albei persone in die verhouding het ’n verantwoordelikheid om na hierdie simptoom te luister en iets daaraan te doen. As hulle nie daaraan werk nie, sal seks net werk word, die wonder daarvan sal verdwyn en beide persone sal waarskynlik onvervuld in die verhouding begin voel.

  1. Verneder of verkleineer jou maat (veral voor ander).

Gewoonlik gebeur dit voor ander mense, soos Suleen wat by die braaivleis vertel het: “Oe, maar Peet is nie meer die man wat hy altyd was nie! Nê, my man – dinge is maar net nie so warm soos altyd nie?” Dit is vir geen mens lekker om voor ander verkleineer te word nie. Só iemand bou ’n wrok op en byt terug of onttrek homself.

WENK: Doen die teenoorgestelde! Vertel vir almal (wanneer jou maat binne hoorafstand is) hoe oulik, slim, goed, vaardig of romanties hy is.

  1. Val jou maat gedurig aan of blameer jou maat aanhoudend.

Alle mense reageer met onttrekking of ’n teenaanval as hulle aangeval of beskuldig word – al is dit op ’n subtiele manier! As jy meestal nie jou behoeftes of bekommernisse kan uitdruk sonder om jou maat aan te val of te beskuldig nie, is die kans goed dat jou maat skielik of subtiel mettertyd gaan onttrek of ’n teenaanval op jou gaan loods.

WENK: Gebruik “ek-taal”. In plaas daarvan om jou maat te verwyt, verwoord eerder die emosies wat jy ervaar as ’n gevolg van sy optrede.

  1. Breek dinge af wat vir jou maat kosbaar is.

Kobus het ’n spesiale band met sy familie, maar Diane (wat nie baie familievas is nie) kon dit nooit verstaan nie. Elke keer wat sy ’n snedige aanmerking gemaak het oor die een of ander familielid of sy ma gekritiseer het, het sy as’t ware dinge aangeraak wat vir hom “heilig” was. Hy het stelselmatig begin om wrokke op te bou en haar al meer begin verwyt.

WENK: Jy hoef nie oor alles met hom saam te stem nie of van al dieselfde dinge of mense te hou waarvan hy hou nie. Wees net baie bewus van die dinge wat vir hom kosbaar is en wys vir hom jy respekteer dit!

  1. Hou op om saam te groei.

Ester en Johan het eendag, ná ’n huwelik van twee dekades, skielik ontdek dat hulle verskillende mense was. In Ester se pogings om die kinders groot te kry, het haar wêreld al verder van Johan af gegroei en skielik was hulle op ’n plek waar hulle mekaar nie meer geken het nie.

WENK: In ’n huwelik behoort julle te kan groei op soveel verskillende vlakke, op verskillende tye. Moet nooit ophou soek vir geleenthede om te groei nie en hou vol met julle pogings om te groei en te ontwikkel.

  1. Hou op om mekaar te verras.

Freek stel dit só: “Ek het op ’n stadium net agtergekom dat Sunet en ek jare laas iets gedoen het wat nie soos roetine gevoel het nie – op emosionele vlak, wat ons gesprekke met mekaar betref, wat ons hantering van die kinders betref en ook in die bed. Alles was vreeslik voorspelbaar en vervelig. Dit het gevoel asof ek haar verveel – nie ’n goeie gevoel nie.”

WENK: Behou die vonk deur mekaar soms te verras met die onvoorspelbare – dit kan iets so eenvoudig wees soos ’n nota in ’n baadjiesak, wat die verskil kan maak tussen roetine en opwinding!

Ja, huweliksdoders is soos plantgif wat plante geleidelik laat kwyn en kan mense geleidelik emosioneel laat doodgaan. Wees op die uitkyk vir hulle, vermy hulle en kweek gedurig teengif vir elkeen.

 

Deur Wilmé Steenekamp