Wanneer dinge teen ’n pas hardloop, is dit maklik om mekaar as vanselfsprekend te aanvaar en te vergeet van die wonderlike maat en huwelik waarmee jy geseën is. Maar dankbaarheid kan ingeoefen word en die vrugte wat jy pluk deur dankbaarheid in jou huwelik toe te pas, is legio!
Na ’n paar huweliksherdenkings sien ’n mens nie meer daardie koffie langs jou bed raak nie. Jy glimlag nie meer wanneer jou maat jou nadertrek nie en jy kerm sonder ophou oor julle nie nóú daardie ekstra kamer kan aanbou nie.
Maar, meen kenners, om dankbaar teenoor jou maat te leef, is een van die wonderlikste gewoontes wat jy deel van jou huwelik kan maak. Ja, dit is ’n gewoonte waarin jy bewustelik kan belê. Dit help jou om jou maat (en jou huwelik) deur ’n ander bril te aanskou en kry jy dit onder die knie, sal jy verbaas wees oor die wonderlike maat met wie jy nou eintlik getrou het!
Dankbaarheid is boonop goed vir jou! Het jy geweet dankbare mense leef tien jaar langer as diegene wat nie dankbaar is nie?
Volgens BeWellBuzz op die webtuiste symbis.com kan dankbaarheid jou immuunstelsel versterk, vir jou meer vreugde bring en jou gelukkigheid verhoog. Dié webtuiste meen daar is twee oorsake wat die wortel is van al die probleme in jou lewe. Die gevoel van “ek is nie goed genoeg nie” en die gevoel van “ek het nie genoeg nie”. Ook die gedagte dat ’n mens tevrede sal wees “as jy maar net . . .”. Want wanneer jou materialisme oorneem, verdwyn jou dankbaarheid en versterk negatiewe emosies soos bekommernis en ontevredenheid net ’n mens se lewe soos dit tans is.
Wanneer jy egter waarlik kies om die goeie gawes raak te sien waarmee God jou maat geseën het, sal jy oorvloed raaksien en sal die tevredenheid in jou huwelik toeneem. Het jy al gedink aan hoeveel daar is om voor dankbaar te wees as jy in ’n huwelik is?
Afgesien van die asem wat langs jou lê in die nag, die gesig wat groet en saam met jou bly is oor jul kinders se eerste treë, kan jy ook rus in die wete dat jy ’n maat en vennoot vir ’n leeftyd het. En as jy gelukkig is, is dit iemand wat jou verstaan, aanvaar en jou sinne voltooi – selfs al voel dit of die hele wêreld téén jou is!
Hulle sê dankbaarheid is ’n wilsbesluit. In haar boek The How of Happiness sê Sonja Lyubomirsky dat 50% van ons geneigdheid tot gelukkigheid geneties gegrond is (iets waaraan ons nie veel kan doen nie), dat 10% gebaseer is op ons lewensomstandighede en dat 40% bewustelike aktiwiteite is wat ons kan manipuleer! Deur dus die ’n kopskuif te maak, kan jy jou vlakke van gelukkigheid met sowat 40% verhoog. Nie sleg nie . . .
Só beteken dit dat jy jou huweliksgeluk kan vergroot? Waarskynlik, ja. Deur slegs aan jou eie vlakke van dankbaarheid te werk, kan jy meer empaties, meer energiek, meer vergewensgesind en meer behulpsaam word – wat alles positief tot jou huwelik kan bydra. En hoekom wil jy ’n dankbare huwelik leef?
- Want dankbaarheid bring die skoenlappers terug. Dit help jou om te onthou waarom jy in die eerste plek gedink het daardie kuiltjie op sy wang is onweerstaanbaar. Of dat jy nie sonder haar eiesoortige humorsin kan klaarkom nie! Om jouself te herinner aan waarom jy op jou maat verlief geraak het, kan julle deur moeilike tye dra.
- Dankbaarheid is goed vir jou geloof. Deur dankbaar te lewe, kan jy met waardering ontvang en met meer hart gee. Om in die huwelik wedersyds te gee en te neem, reflekteer die manier waarop God sy vrygewigheid teenoor ons toon. Hierdie namaak van God se gesindheid skep ’n spesiale soort intimiteit tussen ’n man en ’n vrou.
- Dit kan jou sekslewe ’n hupstoot gee! As jy en jou maat dankbaar teenoor mekaar lewe, sal jul spirituele band vanselfsprekend verdiep. En wanneer ’n paartjie mekaar waarlik waardeer, verdwyn die weerloosheid en kry die paartjie ’n dieper verbintenis.
- Dit maak dít wat hard is sag. Om in dankbaarheid te lewe, kan die kritiek in jul huwelik versag. Harde woorde maak seer en kan ’n huwelik vernietig, maar wanneer woorde van bevestiging en dankbaarheid integraal deel word van ’n huwelik, lê dit ’n grondslag van vertroue wat harde woorde versag.
Só leef jy ’n dankbare huwelik:
- Kies om dankbaar te wees. Dit kom nie altyd vanself nie, maar is ’n vaste, bewustelike keuse. Deur jou te bekommer oor wat jy nié het nie, mors jy kosbare oomblikke. Jy voel nie altyd dankbaar wanneer manlief met sy bierboep voor die televisie lê en burp nie, maar probeer dit miskyk en eerder raaksien wanneer hy jou voertuig vir ’n diens neem.
- Behou die pret. As julle in ’n stadium in jul huwelik is waar alles in ’n hittige argument eindig, skep asem. Soms moet jy en jou maat leer om mekaar nie so ernstig op te neem nie en saam met mekaar te lag. Vergeet die groot gebare van goedheid en fokus op klein gebare. Waardeer jou maat elke dag met ’n kompliment, ’n oogknip, ’n drukkie op die skouer . . . en sorg dat jou dankbaarheid minstens een keer per dag verbaal is.
- Koop ’n gewone hardebandboek en hou dit in die bedkassielaai. Begin jóú dankbaarheidsjoernaal aan die een kant en vra manlief om syne aan die ander kant van die boek te begin. Skryf aan die einde van die dag neer waarvoor julle dankbaar is – in jul huwelik en in jou maat. Die ander party kan hierna kyk wanneer hy/sy ’n hupstoot nodig het.
- Kyk om julle rond. Nie net om dít raak te sien waarvoor jy dankbaar kan wees nie (in ons land is dit maklik – dit verg net een kyk na die verbrande gesig van ’n karwag), maar ook in die natuur en in die Bybel, vir voorbeelde van geduld en dankbaarheid. Bome wat braaf die storms trotseer, ’n blommetjie wat opstaan na ’n haelbui. Kyk na die detail en jy sal soveel voorbeelde van dankbaarheid raaksien.
- Bid saam. ’n Daaglikse roetine waarin julle saam voor God staan, selfs net vir ’n paar minute, en Hom bedank vir mekaar en die lewe wat Hy julle gegee het, kan wondere verrig vir jul geloof en jul huwelik.
- Hersien jou taal. Kyk krities na die manier waarop jy praat. Ons almal het spesifieke woorde wat ons spraak deurspek. Wanneer iemand jou vra hoe dit gaan, antwoord jy: “Dit help nie om te kla nie” of “Ag, orraait”? Hoe gereeld sug jy uit frustrasie? Hoe gereeld blaas jy op jou toeter! Dankbare mense het ’n spesifieke linguistiese styl wat die taal van seëninge, geluk en oorvloed weerspieël.
’n Dankbare huwelik gaan oor ’n positiewe gesindheid. As jy dit moeilik vind om in dié stadium dankbaar te wees vir ’n huwelik waarin dinge dalk nie nou klopdisselboom verloop nie, begin by jouself en leef as individu ’n lewe van dankbaarheid deur jou aandag te vestig op al die mooi dinge waarmee jy omring word. Die kanse is goed dat dit binnekort sal oorspoel na jou huwelik, sonder dat dit eers jou doel was.
Dankbaarheid hou net voordele in. En as jy besef hoekom jou maat vir jou so kosbaar is, sal jy nie ’n kans op daardie tien pasella-jare saam met hom van die hand wys nie!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.symbis.com, www.hungryforchange.tv.