Om gemaklik te wees met mekaar in die huwelik, is ’n goeie ding. Maar té veel van ’n goeie ding is nooit goed nie . . .

Toe julle mekaar pas ontmoet het, het jy jou beste voetjie voorgesit. Jy het seker gemaak hy vermoed nie dat jy (soos ander vroue) beenhare groei nie. As jy op sy skoot gesit het, het jy gesorg dat jou voete aan die grond raak sodat die meeste van jou gewig deur jou tone ondersteun word! En jy het vir ál sy grappe gelag. Hy weer, het élke keer die deur vir jou oopgemaak, sy bierpens so ver as moontlik ingetrek en vir jou net sy béste grappe vertel. Tien jaar later en die prentjie lyk heeltemal anders!

Ja, dit is goed (en onvermydelik) dat julle ’n punt van gemaklikheid in die huwelik sal bereik. Die wete dat hierdie persoon met jou getroud is – deur dik en dun (van Weigh-Less tot by Weight Watchers), in siekte en gesondheid (van deurweekte snesies tot by uitslae wat enigeen die skrik op die lyf sal jaag!), tot die dood julle skei. Maar soms vat paartjies dit ’n bietjie té ver . . .

Julle kan té gemaklik met mekaar wees as:

  1. . . . daar geen skaamte is nie. As jy voor jou maat in jou neus krap, en allerlei liggaamsreuke en -klanke sonder skaamte tussen julle verwissel word, flits die rooi ligte. Só ook as alle maniere by die deur uitwaai en hy kyk of hy ’n hele skyf pizza in een hap kan verorber, of wanneer jy hom vra om jou te help om jou bikinilyn te waks!
  2. . . . jy die kilo’s laai soos Sannie se Sewe Sakke Sout. Dit is normaal om ná jou troue ’n paar kilo’s aan te sit, maar as jy kyk hoe vinnig jy jouself in ’n Orosmannetjie kan omskakel, is dit nie net sleg vir jou gesondheid nie, maar ook vir jou verhouding.
  3. . . . die waardering weg is! As jy nie meer opkyk wanneer hy by die deur inloop nie en minder omgee as hy vir julle lasagne maak, as hy nie meer dankie sê wanneer jy sy bord wegdra of opkyk van die kassie wanneer jy in jou onderklere paradeer nie, is moeilikheid op pad.
  4. . . . jy die hippie-leefstyl omarm. Hoewel ons glo daar is waarde en waarheid aan ’n hippie-leefstyl op die regte tyd en plek, gaan dit jou geen gunsies doen om jou hare in dreads te laat groei en dae lank nie te bad nie. Daar ís ’n plek vir seep, ’n skeermes en deodorant – in jul badkamer.
  5. . . . hy vir jou blomme bring en jy summier vra: “Wat soek jy?” Wanneer romanse tot só ’n mate by die deur uitgewaai het dat dit jou skok wanneer dit wel die dag gebeur (of jy twyfel in jou maat se bedoelings), is julle té gemaklik met mekaar.
  6. . . . die badkamerdeur nóóit toe is nie. Sekere badkamer-funksies is bedoel om agter ’n geslote deur te gebeur. As julle Boetie se derde kinderpartytjie bespreek terwyl manlief op die troon sit en jy jou ingroeihaartjies uitpluk, moet julle dalk die grense in jul verhouding oordink.
  7. . . . seks ’n roetine word. “Elke Saterdagaand om agtuur.” Wanneer paartjies lank getroud is en gemaklik met mekaar raak, is die seks ook geneig om voorspelbaar te raak. Dis nie net nadelig nie! Dit is immers goed om mekaar se voorkeure, afkeure en gunsteling-posisies te ken, maar daar is beslis ’n plek vir passievolle, onvoorspelbare roetine-brekende seks!
  8. . . . julle mekaar se puisies uitdruk. Dis moeilik om die beeld van twee bobbejane wat mekaar se luise soek te vermy wanneer ’n mens hieraan dink. Jip, terwyl dit handig is om iemand byderhand te hê wat kan help met daardie swartkoppie in jou oor, probeer dit liefs vermy of laat die taak oor aan die skoonheidsterapeut aan wie jy nie romanties verbind is nie!
  9. . . . jy jou Bridget Jones-broekie broekie dra. Dag in en dag uit. Ons gaan nie stry nie. Daar ís ’n plek vir ’n Bridget Jones-broekie, maar kom ons wees eerlik: Dit is nie wat manlief se polsslag gaan opjaag nie. Solank hy darem so nou en dan ’n flits van daardie sexy, swart kantnommertjie ook kry, en die kans kry om die rooi nommertjie met sy tande uit te trek, mag jy maar so nou en dan jou BJ-broekie dra.
  10. . . . jy nie meer smag na alleentyd nie. Jy het nie nodig om hierna te smag nie, want jy eet ’n halfliter roomys vóór hom op en het geen skaamte om herhalings van die Kardashians op ’n streep te kyk sonder om te blik of te bloos nie.

Dit is ’n goeie plek om te wees

Moet ons nie verkeerd verstaan nie: Gemaklikheid met mekaar is iets waarna elke paartjie behoort te streef! Dit is daardie plek in ’n huwelik waar elkeen homself/haarself kan wees sonder die vrees om veroordeel te word. En solank albei van julle gelukkig is met die stand van sake en die passie steeds hoog loop, het julle nie veel om julle oor te bekommer nie.

. . . maar dit kan gevaarlik raak

Op eharmony.com skryf  Monique H Honaman sy en haar maat gedy in die wonderlike gevoel wat gemaklikheid in ’n verhouding laat.

“Maar dit gesê, ons is ook bewus daarvan dat wanneer die familiariteit van gemaklikheid oorgaan na verontagsaming en ’n tekort aan respek, dit tyd is om die verhouding weer te evalueer. Dit is wanneer verhoudings verander van gemak na selfvoldaanheid, wat baie paartjies verwyderd van mekaar, ongewaardeerd en minderwaardig laat voel.”

Gemaklikheid in die slaapkamer

Terwyl dit goed is om mekaar se lywe te ken en só gemaklik met mekaar te wees dat julle openlik in die bed kan kommunikeer, is dit ook gevaarlik wanneer gemaklikheid in die vorm van luiheid intree. Dit is maklik om mekaar as vanselfsprekend te begin aanvaar en dán word seks uitgestel, en later afgestel. In sommige gevalle raak seks selfs bloot ’n lyflike bevrediging in plaas van ’n eenwording van siele.

Só voorkom jy dit om te gemaklik in jou huwelik te raak

Wees bedag op die waarskuwingstekens. As jy weet wat die tekens van te veel gemak is, kan jy dit eien voor jy in so ’n situasie is en dadelik met jou maat praat as jy ongewaardeerd voel of sonder respek behandel word. Of sommer net as dit voel asof die passie kwyn.

Begin deur sélf jou gemaklike gewoontes te laat vaar. En as julle te gemaklik geraak het in die slaapkamer, is drastiese stappe nie noodwendig nodig om dinge te verander nie, sê Moushumi Ghose op goodtherapy.com.

“Dit verg net ’n klein bietjie moeite om ‘ja’ te sê in plaas van ‘nie vanaand nie’.” Selfs al is jy nie in die bui nie! Volgens hom hoef “ja” nie seks of ’n orgasme te beteken nie. “Ja” kan beteken om vir vyf minute lank te soen of jul klere uit te trek en kaal langs mekaar te lê om oor jul dag te gesels. “Ja” kan beteken om saam te bad . . .

Soms is die druk om seksueel te presteer met jou beste maat ná ’n huwelik van tien jaar ’n bietjie uitdagend. En soms moet julle die verwagtinge laat vaar en net leer hoe om op ander intieme maniere te konnekteer om weg te doen met te veel gemaklikheid.

As jy effens “ongemaklik” voel met die “gemaklikheid” tussen jou en jou maat, tree op. Behou die vonk, maar wees ook gerus in die wete dat niks so lekker is soos ’n maat wat jou lief het vir wie jy is nie – boots and all!

 

Deur Annelize Steyn