Vanjaar het die somer ons soos ’n dief in die nag bekruip. As dit jou ook onkant gevang het, probeer dié tien wenke om gesond, sexy en vol energie (natuurlik vir bedpret) te bly:
- Water, water en nóg water! Jou liggaam bestaan grootliks uit water en daarom is dit nodig om genoeg water in die somer te drink sodat jy nie dehidreer nie. Die voordele van genoeg water is legio – dit help onder meer om daai lastige kopseer die hasepad te laat kies en dit was gifstowwe uit jou liggaam. Werk vir jou ’n waterprogram uit, byvoorbeeld: drink ’n glas as jy opstaan en dan weer 10:00, met middagete, teetyd, voor aandete en wanneer jy gaan slaap.
- Eet reg vir energie. Beperk jou inname van vet en suiker en kies eerder koolhidrate, vrugte en groente. Pak ’n appel in in plaas van ’n pakkie biltong vir ’n happie by die werk.
- Begin die dag met ontbyt. Ja, ons weet dié deuntjie is al ’n bietjie afgesaag, maar daar is ’n rede voor – dit werk! Ná ’n lang nag se slaap is dit belangrik om jou liggaam weer aan die gang te kry. Probeer volgraanbrood met grondboontjiebotter op, joghurt met vrugte, kaas op roosterbrood en vrugte op graankos vir ’n voedsame ontbyt.
- Slaap genoeg. Nie net wanneer jy op verlof is nie, maar maak dit ’n algemene reël. Sewe tot agt ure per nag behoort vir jou genoeg energie te gee om produktief deur die hitte van die somer te kan werk. Maak dit deel van jou gesin se roetine: sorg dat julle elke aand teen 22:00 in die bed is (as julle 06:00) opstaan. Dit maak dit makliker as jy dit nie alleen hoef te doen nie.
- Koel klere. Dra ligte, lospassende uitrustings om jou te help om koeler te bly. Bêre sommer al jou donkerklere weg vir die winter sodat daar net ligte items in jou kas hang. As jy ’n katoenbroek kry wat lig is en mooi sit, koop sommer drie in verskillende kleure.
- Beskerm jou oë. Dra ’n sonbril wanneer jy buite is of bestuur om jou oë teen die skadelike UV-strale van die son te beskerm. Koop ’n paar sonbrille. Sit een in jou handsak, een in jou kar, een by die huis, een by die werk, ensvoorts om te verseker dat jy altyd een byderhand het.
- Blok die son. Gebruik ’n sonbrandmiddel daagliks (veral op jou gesig) om jou vel te beskerm teen sonbrand. Dit sal jou ’n jonger voorkoms vir langer gee en die pyn spaar om van ’n seer, gebrande vel ontslae te moet raak. Maak dit deel van jou skoonheidsroetine: sit elke oggend sonbrandroom op voordat jy grimering aansit.
- Versorg jou hare. Son, hitte, humiditeit en chloor beskadig jou hare. Dit word droog, bros en frizzy. Moenie te lank buite bly nie en gebruik haarprodukte wat sonbeskerming in het. Moenie te veel bleikmiddels in die somer gebruik nie. Versorg en beskerm gekleurde hare ekstra goed. Maak jou hare nat voordat jy gaan swem – dit absorbeer dan minder chloor.
- ’n Bord vol kleur. Wanneer jy ’n groot verskeidenheid groente en vrugte eet, help dit jou om voedingstowwe in te neem wat jou beskerm teen allerhande kwale. Hou dié gebruik sommer reg deur die jaar vol deur elke week byvoorbeeld drie soorte groente/vrugte te koop met verskillende kleure.
- Pret in die swembad. Wanneer jy ná werk of tydens jul vakansie in die swembad afkoel, maak ’n paar bottels vol water en swem met dit rond. Doen ’n paar oefening met hulle as jy wil. Die bottels bied weerstand en dit help om jou spiere sterker te maak.
Kry sommer vir Manlief om saam met jou die wenke te gebruik. As hy nie lus is nie, sê vir hom dis om te sorg dat jy ’n sexy diva is. Julle kan dan altyd elke aand tussen die lakens oefen om ’n paar ekstra kalorieë te verbrand!
Bronne: library.thinkquest.org; mamashealth.com; Girlgetstrong.com; Revolutionhealth.com