GROOTfm 90.5 se motto was nog altyd “GROOT in die klein” geskoei op Mat.25 se “sover julle die klein dingetjies (soos ‘n broodjie of slukkie water deel) aan die geringste van mense gedoen het, het julle dit aan Jesus gedoen.” Ons stasie se #GROOTindieklein fokus beteken dat ons te midde van die oorweldigende nood en binne die groter prentjie van wat werklik saak maak, nooit nalaat of moeg word om die klein dingetjies getrou met groot liefde aan te pak nie! Ons neem eienaarskap en aanvaar verantwoordelikheid vir die gemeenskap waarvan ons deel is en is bereid om oplossings te bied vir probleme wat ons nie eers veroorsaak het nie, sodat ons ons stad en land daagliks, maar ook uiteindelik eendag beter kan agterlaat as wat ons dit gekry het.
Soos ons stasie ons 6de verjaarsdag en die aanbreek van ons 7de jaar in Pretoria vier, is dit ook ‘n goeie tyd om onsself uit te daag met die vraag: “Hoe is Suid-Afrika ‘n beter plek vandat ons hier is?”
En daarom gaan ons hierdie jaar, in plaas van ‘n groot gesamentlike projek op een plek, soveel as moontlik mense aanspoor om elkeen op hulle unieke manier sy/haar “plek van invloed” (omgewing, werk, skool, kerk, gemeenskap) met ‘n klein (of groot) gebaar van omgee ten goede te gaan beinvloed… sodat ons uiteindelik eendag kan sê: ek het die straat of gemeenskap waar ek gewoon het, selfs die vakansieplek waar ek gaan rus het, die werkplek of kerk waar ek gedien het en die skool waarvan my kinders deel was saam met elke mens wat my pad gekruis het – beter gelos as wat ek dit/hulle gekry het!
Ons wil met hierdie veldtog en viering van Madibadag en ons 6de Verjaarsdag (en aanbreek van 7de jaar) op die 5de Augustus weereens die saadjie kom plant van die GROOT verskil wat klein dingetjies maak. Al voel dit soms ons kan nie die (hele) wêreld verander nie, sal ons nooit moeg word of ophou probeer om die wêreld en spesifiek ons stad en sy mense beter te maak en uiteindelik eendag beter te los as wat ons dit gekry het nie!
Ons wil as span saam met ons vriende en vennote minstens 67 projekte vanaf 18 Julie vir ‘n tydperk van 18 dae lank aanpak, maar ons hoop om met die boodskap en bewusmaking van hierdie veldtog, ‘n hele nuwe kultuur van “Los’it Beter” te vestig!
Die verbetering kan enigiets wees van:
- OMGEWING: papiere optel of ‘n sypaadjie skoonmaak, ‘n boom of groentetuin plant, ‘n watertenk borg of ‘n herwinningsprojek begin.
- MENSE: Waardering wys vir ‘n kollega of ‘n versorger soos ‘n verpleegster, maatskaplike werker of polisieman, ‘n karwag verras met ‘n sakkie kruideniersware of ‘n petroljoggie se dag maak met ‘n ekstra groot footjie.
- BOU: ‘n Klimraam ophelder met ‘n vars lagie verf of ‘n stukkende teel of gat in die muur regmaak, ‘n wendyhuis of container borg of ‘n dogtertjie se kamer mooi maak.
- PERSOONLIK: ‘n Oefenprogram of nuwe studierigting aanpak, ‘n goeie gewoonte begin terwyl jy ‘n slegte een afleer, ‘n kas regpak of ‘n garage se goed weggee.
- STELSEL: Bied jou diens, ervaring en kennis om vir ‘n organisasie of projek ‘n stelsel te help verbeter, hetsy ‘n rekenaarstelsel of ‘n stelsel wat herwinning bevorder. Miskien was jy net die skottelgoed, verf die vloekwoord teen die muur toe of ruil die toiletrol by die publieke badkamer omdat niemand dit ooit wil doen nie.
Ons doen dit nie vir applous of ‘n klop op die skouer nie, maar sodat ons vir elkeen wat dalk al moed en hoop verloor het kan wys wat moontlik is as ons nie net as verbruikers vat wat ons nodig het of wil hê nie, maar gestuur word as verskilmakers wat waarde toevoeg waar ons ook al gaan! #LositBeter
Besoek www.grootfm.co.za vir meer inligting
Artikel geskryf deur die GROOTFM 90.5 span