Daar is sewe vrae wat jy jou maat gereeld moet vra. Dit is vrae wat jou huwelik ten goede sal verander…

Promosie

“Hoe was jou dag?” Dit is die terugval-vraag. Dié een waarop jy terugval uit gewoonte. Die een waarop jy terugval wanneer jy wil wys jy stel belang (al doen jy nie regtig nie) en die een waarop jy terugval wanneer jy nie weet wat om te sê nie. Die ergste van alles is – vra jy hierdie vraag gereeld, hoor jou maat dit nie meer nie en antwoord hy/sy outomaties, sonder om self enige moeite aan te wend. Wat jy vra en hoe jy dit vra is egter baie belangrik vir ‘n gesonde huwelik. Deur goeie vrae te vra, hou jy gesprekke aan die gang, kommunikasielyne oop en leer jy jou maat op ‘n dieper vlak ken.

Op die webtuiste www.bustle.com, skryf New York etiket-kenner, April Masini, dat sy glo ‘n goeie kommunikeerder is iemand wat weet hoe om te verwoord wat hulle nodig het en hulle ore spits vir misverstande en begrippe wat verduidelik moet word. “Wanneer alle partye wat betrokke is by die kommunikasie-transaksie, verstaan wat gesê en verwag word, was daar effektiewe kommunikasie,” sê April. Spesifieke vrae kan jou en jou maat help om doeltreffende dialoog aan die gang te sit, sodat julle beide jul gevoelens, vrese en kommer effektief kan kommunikeer. Vra jou maat dus die volgende vrae:

VRAAG #1: Wat kan ek doen om jou te help?
Manne, spits jul ore, want dit is ‘n belangrike vraag om te vra. As jy die tipe mens is wat graag dinge wil regmaak (‘n doener), bedoel jy dalk elke keer goed, sonder om die gewenste reaksie te kry. Hoekom? Want jou maat wil nie altyd hê jy moet die probleem regmaak nie. Maar hy/sy wil wel weet dat jy genoeg omgee om dit te wíl doen. As jy in aksie-modus ingaan, gereed om te help, kan dit vir jou maat voel asof jy hom/haar net wil stil kry, maar wanneer jy vra hoe jy kan help, wys dit jou maat jy gee om, jy luister waarlik en jy is bereid om te bied wat jou maat nodig het.

Promosie

VRAAG #2 Wat kan ek doen om jou meer geliefd te laat voel?
Elke mens wil geliefd voel en soms het hoe jy voel, niks te doen met jou maat nie, maar met dít wat in jou kinderjare gebeur het, of dinge wat jy self in dié stadium van jou lewe probeer uitsorteer. Maar jy kan wel baie doen om jou maat beter oor hom of haarself te laat voel. Jy weet net dalk nie altyd hoe nie. Jy dink dalk dat om ‘n warm bad vir haar in te tap, vir haar sal wys hoe lief jy haar het. Intussen is al waarna sy smag dat jy styf langs haar op die bank sal sit en This is Us kyk.

VRAAG #3: Verstaan ek jou reg as jy sê…?
Soveel rusies ontstaan as gevolg van misverstande. Misverstande wat plaasvind omdat twee mense by mekaar verby praat, nie fyn genoeg luister nie of aannames maak. Voor jy voel hoe jou kraag warm word, tree terug en vra: Verstaan ek jou reg wanneer jy sê dat…?” Tel ook tot tien voor jy reageer en vra soveel vra soos jy dink jy het nodig om duidelikheid oor die situasie te kry.

VRAAG #4: Wat kan ons saam doen om daardie doelwit te bereik?
Ons is dikwels so haastig op pad na ons eie doelwitte, drome en toekomsplanne, dat ons vergeet hoe belangrik dit is om te werk aan ‘n gesamentlike toekomsdroom. Weet jy waarlik waaroor jou maat droom? Dink saam aan ‘n plan hoe om daar uit te kom. Dit sal julle met een gesprek op ‘n baie dieper vlak van intimiteit plaas as waar julle was vóór hierdie belangrike vraag.

VRAAG #5: Wil jy hê ons moet weer daaroor gesels?
Daar is bitter min ernstige sake wat met een korterige debat uitgesorteer kan word. Die meeste argumente het nóg ‘n gesprek nodig en dalk nóg een. En nie eens net argumente nie, maar ook gesprekke soos watter huis om te koop en watter skool om jul kinders in te sit. Dit het bespreking en nóg bespreking nodig. En opvolg-besprekings om seker te maak julle beweeg in dieselfde rigting, of dat dit tyd is om weer daardeur te gaan. Volg op om seker te maak julle albei voel kalm en dink steeds dieselfde daaroor ná julle tyd gehad het om afsonderlik daaroor te gaan tob.

VRAAG #6: Wat is jou mooiste herinnering van ons saam?
Hierdie vraag is super belangrik en jy kan dit elke nou en dan vra, of julle kan dit ‘n jaarlikse instelling maak om díé vraag op jul huweliksherdenking te vra. Volgens navorsing wat in Motivation and Emotion gepubliseer is, het paartjies wat saam herinneringe koester oor hul beste tye, groter verhoudings-tevredenheid rapporteer.

VRAAG #7: Dink jy ons bestee genoeg tyd saam?
Of jou liefdestaal gehaltetyd is of nie, dit is belangrik vir enige paartjie om hierdie vraag te vra. Volgens die terapeut en outeur, Tina B. Tessina, is dit belangrik om nie só vasgevang te raak in jul rol as ouers dat julle vergeet hoe om maats te wees nie. Vra jou maat gereeld of hy/sy dink julle spandeer genoeg tyd saam, sodat jul romanse nie heeltemal verlore raak nie.

Daar is talle ander vrae wat julle gereeld moet vra. Hou sommige lig, en vra dinge soos: “Waarvoor gril jy die meeste op aarde?” maar moenie die ernstige vrae agterweë laat nie (Soos: “Wat is jou grootste droom vir ons kinders). Lees tydskrifte en let op na die vrae wat bekendes gevra word. Dink aan dinge wat uitgestaan het in jou kinderjare en vra jou maat daaroor (Soos: “Het julle ooit glippertjies geëet as kinders?).

Waarop dit eintlik neerkom is dat jy nooit ooit moet ophou om jou maat vrae te vra nie. Hoewel daar sekere onveranderlikes is, soos jou maat se verlede, is daar altyd veranderlikes. Sy gaan dalk nie oor tien jaar dieselfde voel oor aanneming of universiteit-studies soos sy nou voel nie, want sy is ‘n dinamiese wese. Hou dit in gedagte, bly altyd nuuskierig en vra soveel soos jy kan.

Addisionele bronne: www.bestlifeonline.com; www.bustle.com; The Effect of Reminiscing about Laughter on Relationship Satisfaction, gepubliseer in Motivation and Emotion en geskryf deur Doris G. Bazzini, Elizabeth R. Stack, Penny D. Marincin en Carmen P. Davis.

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!