Dalk sidder en bloos jy bloedrooi jy by die gedagte dat jy jou stembande (en ’n goeie dosis kreatiwiteit) in die slaapkamer moet gebruik. Maar miskien is dit al wat jy nodig het om die tier in jouself (en jou maat) wakker te maak!

Promosie

“Hoe spraaksaam is Suid-Afrikaanse vroue in die bed? Of is ons maar van nature die kous-in-die-mond-omdat-die-kinders-dalk-gaan-wakker-word-soort?” vra ’n leser onlangs aan INTIEM. ’n Goeie vraag. Waarskynlik gaan dit meer oor geslag as nasionaliteit en sal vroue veel eerder die verskoning van die kinders gebruik (al is die mure heel klankdig) as mans. Is dit regtig iets om oor te skryf? Daar is nie ’n lekker Afrikaanse woord hiervoor nie, maar Dirty Talk (wat voorheen bekend gestaan het as lagnolia) word deur Wikipedia beskryf as die gebruik van grafiese woordbeelde om seksuele genot vóór en gedurende die seksdaad te verhoog.

Hoekom dit enigsins oorweeg? Want dit doen vir ’n man wat ’n veer, ’n blokkie ys en sjokolade (nie gelyk nie) op die regte plekke vir jóú doen! Aanvanklik sal jy dalk effe skaam voel, maar dit is ’n doodnatuurlike deel van die seksuele ervaring. Doen jy en manlief enigiets saam sonder dat julle met mekaar praat? Waarskynlik nie. Behalwe vir fliek kyk (tensy jy hom kort-kort vra wat aangaan omdat jy gou moes gaan piepie of nog sout op jou springmielies moes gaan gooi).

Die belangrikheid van kommunikasie is nie bloot ’n cliché wat deur huweliksberaders gebruik word nie. Daar steek waarheid in en woorde kan enige ervaring versterk – ook in die bed. Doen jy navorsing op die Internet, sal jy gou agterkom dat dit weliswaar ’n warm onderwerp van bespreking is. Warm of nie, jy sal dalk eerder ’n swart cat suit aantrek en op die skoorsteen vir die maan sit en huil voordat jy dit eens sal oorwéég om vokaal te raak in die slaapkamer! Dalk is dirty talk iets wat vir jou so natuurlik en heilsaam is soos organiese aartappels, maar vir dié wat eerder ’n katpak sal oorweeg, hier is ’n paar wenke wat jou moontlik kan help om meer… gladdebek te raak!

Promosie

Les nommer 1: Stel dit aan manlief voor…

Jy kan hom verras. As julle in julle tagtigs is, sal hy waarskynlik by die aanhoor van jou eerste poging sy gehoorapparaatjie harder draai, maar nietemin. En as julle in julle twintigs is, kan hy miskien net daar die orale seks staak en jou (met óf ’n verbaasde gesig óf ’n stoute glimlag aanstaar). Die beste plan is egter om hom in ’n mate daarop voor te berei. Toets die water tydens ’n gemaklike gesprek. Vra iets soos: “Het jy al dirty talk in die slaapkamer oorweeg?” Of: “As ek stoute goed in jou oor fluister terwyl ons seks het, wat sal jy daarvan dink?” As hy jou nie dadelik antwoord nie, kan jy seker wees dat hy beslis hieroor gaan nadink…

Les nommer 2: Neem dinge stadig

As jy baie skaam is, neem dinge stadig en moet manlief nie vir die eerste keer verras met ’n opmerking reg vanuit ’n stomende fliek nie. Hy kan begin wonder hoeveel persoonlikhede jy het! Onthou dat dit alles oor pret gaan. Moenie daarvan ’n kompetisie maak om te kyk wie stouter as die ander een kan wees nie! Moet hom ook nie probeer uitboul nie. Onthou dat lyftaal amper net so stout en sexy soos woorde kan wees, so wees eerstens bewus van die manier waarop jy jou oë gebruik, oor jou lippe lek of die hare uit sy gesig vee. Raak eers vertroud met die manier waarop jy jou lyf laat geld voordat jy begin om jou gedagtes te vokaliseer.

Les nommer 3: Bestudeer jou maat

Daar is dirty talk en dan is daar… dirty talk. Die eerste is waar jy jou inhibisies oorboord gooi en regtig sê wat jy voel, ervaar en wil hê. Die tweede is waar jy á la pornografie-aktrise die vuil taal vanuit iewers diep binne jou ryg en manlief óf baie opwarm óf verslae laat oor waar sy skone prinsessie al in haar lewe hierdie vieslike woorde gehoor het! As jy die tweede verkies of vermoed dat dit eerder in manlief se smaak val, raai ons aan dat jy ’n bietjie navorsing op daardie gebied doen.

Aangesien dié INTIEM is, hou ons eerder by die sagter benadering sónder die vierletterwoorde. Stel vas waar jou en manlief se grense lê. As hy die soort is wat sidder by die gedagte dat jy hom dalk wil blinddoek, gaan hy hom tien teen een doodskrik as jy sy genitalieë by die naam noem!

Les nommer 4: Fluister, hy sál luister!

Ken jy die uitdrukking “Whispering sweet nothings in his ear”? Dit word so genoem omdat jy nie veel nodig het vir fluistertaal om die gewenste uitwerking te hê nie. Al vra jy hom om gou brood en melk te gaan koop en jy doen dit fluisterend met jou asem teen sy oor en nek, sal dit sy hare (en veel meer) laat regop staan. Moet nou nie hierdie stukkie inligting misbruik en hom vra om… brood en melk te gaan koop nie! Bêre dit vir die slaapkamer.

Les nommer 5: Kies jou tyd reg

As manlief op die rand van ’n orgasme is en sukkel om na die ander kant oor te hel (die beter woord sou “hemel” wees!), kan die regte woorde miskien net wees wat hy nodig het. Dit is ook ’n fantastiese vorm van voorspel, voordat jy nog eens aan jou maat geraak het. Dít is hoe jy die brein verlei! Jy kan dit tydens seks gebruik, maar ook wanneer julle weg van mekaar af is om dinge vir vanaand op te warm. Bel hom wanneer hy in die verkeer sit en vertel hom presies wat vir hom by die huis wag (met slegs haar voorskoot aan)! As jy effens onseker voel, kan jy teks uit ’n boek lees sonder dat hy dit eers sal agterkom. Solank jy dit bedoel en regtig van plan is om daad by woord te voeg.

Les nommer 6: Woordspel kan ook rolspel wees

Baie paartjies wat groot voorstanders van dirty talk is, meen dat ’n groot deel hiervan soms rolspel insluit. Dit beteken dat, hoewel jy eintlik die stroopsoet pastorievrou is, jy maar die rol van die warm dominatrix kan inneem as dit by slaapkamergeselsies kom! Jy kan met hom praat asof hy jou slaaf is en hom byvoorbeeld “beveel” wat om met jou borste te doen. Solank julle albei net op dieselfde golflengte is en presies weet waar julle met mekaar staan. Jy wil nie hê manlief moet sy onderbroek gryp en by die venster uitvlug nie!

Les nommer 7: Jy moet gemaklik voel

Woordspel kan sensueel, gewaagd of deel van ’n fantasie wees. Moenie dat wat ook al jy sê gedwonge klink nie. Deel die sexy gedagtes wat by jou opkom eerder as om jou kop te breek op soek na iets gewaagd. Hou ook oogkontak met hom wanneer jy praat. Dit maak jou woorde net soveel sexier! Onthou jy hoef ook nie die hele tyd te praat nie (inteendeel – jy moenie!), en ook nie elke keer wat julle dit doen nie. Dit kan daartoe bydra dat dié tegniek sy effektiwiteit verloor.

Les nommer 8: Gebruik dit om seks mee te inisieer

Daar is min woorde so effektief soos: “Ek wil jou hê.” Dit is kort, kragtig en báie beskrywend. Volgende keer, wanneer manlief sit en televisie kyk, gaan staan voor hom. Trek die ritssluiter van jou rok stadig af en laat val dit tot om jou enkels. Buig vooroor, met jou hande op sy knieë (hou jou hoë hakke aan) en fluister in ’n lae stemtoon: “Ek wil jou hê”. Draai dan stadig om en loop met die trappe op. Die man wat nie op hierdie uitnodiging reageer nie, verdien nie die sexy vrou wat vir hom in die slaapkamer wag nie! Nee, selfs nie eens al is dit Survivor se finaal nie.

Les nommer 9: Kies jou woorde slim

Begin met iets eenvoudigs. Sê iets soos: “Dit voel só goed as jy my daar streel”. Komplimenteer sy lyf of sy manlikheid en vertel hom wat jy wil hê hy moet aan jou doen: “Ek wil jou binne-in my voel…” Jy kan selfs jou fantasieë en begeertes verwoord en wanneer jy nie meer weet wat om te sê nie, vra hom wat hy graag wil hê, hoe jy vir hom voel of wat jy vir hom kan doen. Reageer op wat hy gesê het, maar moet nooit die bui blus deur iets te uiter soos: “Is jy nou mal? Ek sal in my lewe nooit dít doen nie!” of “Sies, ek kan nie glo jy sê dit nie…” Jy sal jou man laat ineenkrimp van skaamte en jy kan seker wees julle seksessies met dirty talk vir ewig verby is!

Les nommer 10: Kry inspirasie

Hoe meer jy gewoond raak aan dirty talk, hoe makliker gaan dit vir jou word. Mettertyd sal jy met kreatiewe woorde vorendag kom vir vagina, penis, fellatio en cunnilingus, wat minder klinies is. Lees Hooglied vir uitstekende inspirasie en sinonieme vir al die hot spots waaraan jy kan dink. Jy kan ook ’n goeie erotiese boek koop en as inspirasie gebruik. Nog ’n goeie idee wat jou geleidelik in die bui kan kry, is om vanaand vir hom uit daardie einste boek voor te lees (in jou beste, geoefende husky stem!)

Les nommer 11: Moedig dialoog aan

Onthou, dit is nie ’n monoloog nie. Manlief gaan waarskynlik ook effens onseker wees, maar moet hom nie laat wegkom met “ja” en “nee” nie. Vra hom wat hy wil hê, wat hy hom verbeel jy aan hom doen en hoe hy wil hê jy dit aan hom moet dit doen. Luister na watter soort taal hy gebruik en pas by hom aan. En as hy so meegevoer raak dat hy iets neerhalend kwytraak (glo dit of nie – vir sommige ouens is dit baie prikkelend), vergewe hom, skryf dit toe aan the throes of passion en bespreek dit later met hom. As dit vir hom ’n nuutjie is, onthou om geduld te gebruik. Jy’t tyd gehad om jouself hierop voor te berei, hy nie!

Les nommer 12: Probeer jou lag hou

Verskeie groentjies het al tydens ’n sekssessie met dirty talk uitgebars van die lag! Dit voel dalk vir jou vreemd en uit pure skaamte kan jy aan die bloos en histeries aan die giggel gaan. Mense lag veral wanneer hulle senuweeagtig of bang is. Die probleem met woordspel is dat dit skreeusnaaks kan wees en onnatuurlik kan voel (wat lag onafwendbaar maak) of dat jou senuwees die oorhand kry. Moet jouself nie hieroor kasty nie, maar probeer om die giggelbui in te hou as manlief sy eerste lomp poging aanwend. Dit mag dalk net vir ewig sy bui blus.

Les nommer 13: Gebruik jou beste Frans

Om sexy te praat in ’n sexy taal, kan jou baie punte besorg. Hier is jou kans om daardie kursus wat jy gedoen het toe jy jonger was, te benut. Frans, Italiaans en Portugees is baie sexy tale en om in die hitte van die oomblik met jou maat foreign te praat, kan hom van plesier laat ril! Maak net seker dat jy in die kol is met jou uitspraak, want as manlief enigiets van die taal af weet en jy sit die pot ver mis, kan dit alles behalwe opkikkerend wees. As die Wimpy se koffiespyskaart dit vir julle doen, geniet dit! En as die enigste frase wat jy ken, die vertaling vir: “Ek hou van my steak goed gaar” is, gebruik dit na hartelus, maar mits jy seker is hy verstaan régtig nie die taal nie!

Les nommer 14: Maak seker jou woorde is nie ’n turn off nie

Wat ook al jy doen, moet geensins ander mense se name noem nie! Probeer ook om sover moontlik van kliniese terme weg te bly (tensy jy jou verpleegsterpakkie dra!). Ook nie kinderlike terme nie (tensy jy jou stoute skoolmeisie-uitrusting aanhet). Hoewel dit eintlik eerder vir die manne geld, is daar sekere terme wat jou maat afstootlik kan vind. Maak seker jy gebruik nie hierdie woorde nie.

Les nommer 15: As jy nie weet waar jy staan nie…

As jy onseker voel oor hoe manlief jou woordspel ervaar, moet hom nie vra terwyl julle besig is om seks te hê nie. ’n Mens is baie minder broos en breekbaar wanneer jy jou klere aan het. Baie min mans sal “nee dankie” sê tensy jy regtig onnatuurlik oorkom. As jy hom vir sy eerlike opinie vra, onthou dat hy (tipies man) dit waarskynlik vir jou gaan gee! Dit kan jou selfvertroue knak, en (tipies vrou) ’n hewige uitbarsting tot gevolg hê. Wag daarom eerder tot ná die tyd voordat jy hom oor sy gevoel pols. En as jy bang is dat jy jou nie so goed van jou taak gekwyt het nie, maak seker jy staan nie met jou ma se China in die hand wanneer jy die onderwerp aanraak nie.

Dirty talk is die beste manier om die bad girl in jou na vore te bring. Dié kant van jou waarvan hy bewus is, maar wat jy selde vir hom wys. Daar is slegs enkele mans wat nié hiervan hou nie, so wees maar gerus dat dit hoog waarskynlik jul sekslewe ’n hupstoot gaan gee. Dirty talk hoef nie vuil taal te wees nie. Deur slegs ligweg met jou maat te flankeer en te insinueer dat jy later ongehoorde dinge aan hom gaan doen, tel ook as woordspel. En komplimente is altyd veilig! Daar is geen beter manier om jou maat op sy gemak te laat voel nie. Hê pret hiermee! Daar is geen sin in as dit vir jou ’n absolute straf is nie, maar onthou ook dat wat nóú vir jou ongemaklik voel, later vir julle baie genot kan verskaf. So, druk deur en voordat jy tou opgooi, maak eers regtig seker dat dit nie die ding vir jou is nie!

Frases om mee weg te spring:

  1. Ek’s mal oor die manier waarop jy my soen… veral wanneer jy my dáár soen!
  2. Noem my naam wanneer jy dit doen…
  3. Ek het jou so lief. Kan jy dit voel?
  4. Ek’s mal oor jou sterk arms weerskante van my wanneer jy bo-op my lê.
  5. Jy’s ongelooflik sexy.
  6. Wat doen jy met jou hande? Ek’s mal daaroor!
  7. Wil jy weet wat ek regtig wil hê? Kom nader…
  8. Hou jy van hoe dit lyk?
  9. Vanaand gaan ék die leiding neem…
  10. Vertel my wat jy wil hê.
  11. Dit gaan die stoutste aand van jou lewe wees!
  12. Wys my wat jy kan doen. Ek weet jy’s mans genoeg!