Die samelewing verkoop pornografie maklik as ’n skadelose tydverdryf. Moet jou nie laat mislei nie. Dit kan jou huwelik vernietig en is ’n baie realistiese nagmerrie!
Dit is laataand, jy is pas klaar met jou werk, vroulief slaap en jy soek na jacuzzi’s op die Internet. Een van die skakels op jou resultaatlys lyk definitief nie of dit iets met die borrelbad self te doen het nie . . . eerder met wat binne-in die borrelbad gebeur. Sal jy of nie? Dit kan tog nie skade doen nie?
Baie mense beskou pornografie bloot as ’n manier om van opgeboude seksuele spanning ontslae te raak. Die algemene siening oor pornografie wat deur die massamedia uitgebeeld word, is dat mans redelike ongekompliseerde plesier uit pornografie kan put.
Ongelukkig bestaan pornografiese materiaal nie meer uit blonde pruilmondjies in eina-bikini’s nie. Die grense van pornografie het die afgelope paar jaar drasties verander en die kuberruimte, waar pornografie moeilik reguleerbaar is, het eintlik daarvan ’n donker wêreld sonder enige veilige grense gemaak.
Mense, en dikwels kinders, word onskuldig by Internet-pornografie betrek. Dit raak ’n maalkolk wat uiteindelik lei tot pornografie-verslawing, iets waarvan jy nié ’n slagoffer wil wees nie.
“Die probleem met pornografie begin egter wanneer dit, in plaas van ’n tydelike rusplek op pad na volle seksuele omgang, ’n voltydse woning raak. Hoe meer tyd mense in hierdie fantasiewêreld deurbring, hoe moeiliker raak dit om die oorgang na die realiteit te maak. Net soos met dwelms, voorsien pornografie ’n quick fix, ’n masturbasie-heelal waarin mense vasgevang raak. Dit kan daartoe lei dat niemand anders later toegelaat word nie,” skryf Edward Marriot in sy artikel “Hardcore Addiction” op die webtuiste .
Dis ’n ongekompliseerde trekpleister . . .
Pornografie is dus ’n leuen en skep valshede oor mans, vroue en menslike verhoudings. In die naam van opwekking verlei dit kwesbare loslopermans en ’n klein hoeveelheid vroue met ’n belofte van intimiteit, maar eintlik gee dit slegs kortstondige verligting deur middel van masturbasie.
Die psigo-analis Estela Welldon, outeur van die teks “Mother, Madonna, Whore”, het ’n aantal paartjies behandel wat in die kloue van pornografie beland het. “’n Aantal mans sluit hul maats by die gebruik van pornografie in. Hulle sal tipies sê: ‘Wil jy nie ’n beter sekslewe hê nie?’ Ek het gevalle gesien waar die vrou eerste daaraan blootgestel is, en daarna het hulle hul kinders aangewend vir pornografiese doeleindes.”
Wanneer paartjies saam pornografie gebruik – ’n neiging wat klaarblyklik al hoe meer toeneem – is daar die illusie dat hulle nader aan mekaar beweeg. Hulle neem ’n video van hulself terwyl hulle seks het en voel dan “buite hulself”. “Hierdie ontmenslike aspek is ’n belangrike deel van pornografie. Dit verontmenslik die ander maat, die verhouding en enige vorm van intimiteit.”
Slagoffers van Internet-verslawing is dikwels bang vir ware seks, wat onvoorspelbaar is, en wend hulle daarom tot pornografie, wat heeltemal onder hul beheer is. Natuurlik bring dit intense teleurstelling, omdat dit nie regtig is waarna só ’n persoon smag nie.
Dis nie onskuldige pret nie . . .
Jou skooldae is lankal vergete en niemand behoort aan jou voor te skryf oor wat jy mag en nie mag doen nie, né? Dit is dalk net goed om bewus te wees van watter uitwerking pornografie op jou huwelik kan hê.
Pornografie veroorsaak dat die toeskouers, veral jong mans, ’n verwronge perspektief van verhoudings het, meen Lynn Scoresby, ’n professor van huwelike, familie- en menslike ontwikkeling. Mense wat aan pornografie verslaaf is, sal byvoorbeeld op ’n afspraak nie in ’n vrou se oë kyk nie, maar veel eerder na haar anatomiese gelaatstrekke. Stelselmatig verander só ’n persoon se hele gedagtegang.
Rekenaarpornografie-toeskouers raak emosioneel geïsoleerd van mekaar omdat hulle voortdurend interaksie het met lewelose beelde. Dit lei tot emosionele onvolwassenheid. Mans wat verlore raak in ’n wêreld van pornografie, raak dikwels minder lus en vaardig om langdurige verhoudings te vorm, gedeeltelik te wyte aan die onderliggende boodskap van pornografie wat oppervlakkige verhoudings aanmoedig.
Pornografie besoedel gedagtes. Die mees sigbare skade wat pornografie berokken, geskied in die brein. “Die oomblik wanneer pornografie op ons hardeskyf (die brein) afgelaai word deur die portaal van ons sintuie, werk dit soos ’n rekenaarvirus en besmet dit ons gedagtes oor seksualiteit.
“Hierdie besoedelde lêers beïnvloed ons gedagtes oor geslagsrolle, wat ons oor seksualiteit glo, hoe ons beplan om ons seksueel te gedra en of ons oor die vaardigheid beskik om getrou te bly binne ons huwelike,” meen Rob Jackson, ’n gelisensieerde en professionele berader in privaatpraktyk ().
Psigoloog Edward Donnerstein van die Universiteit van Wisconsin het gevind dat blootstelling aan gewelddadige vorme van pornografie tot antisosiale houdings en gedrag lei. Hy meen ook dat manlike pornografie-kykers meer geneig is om aggressiwiteit teenoor vroue te toon, minder reaksie teenoor pyn en lyding van verkragtingslagoffers toon, en meer gewillig is om verskeie mites oor verkragting te aanvaar.
Navorsers dr Dolf Zimmerman en dr Jennings Bryant het ook gevind dat massiewe blootstelling aan pornografie ’n begeerte vir toenemende afwykende materiaal het, wat geweld soos sadomasochisme en verkragting insluit.
In haar boek, Rape and Marriage, bevestig die feminis en outeur Diana Russel dit ook. Sy het gevind dat pornografie mans en vroue konflik, lyding en seksuele ontevredenheid laat ervaar.
In sy navorsing oor hoe mans aan pornografiese materiaal verslaaf raak, het Victor Cline van die Universiteit van Utah gedokumenteer hoe mans wat verslaaf raak aan pornografie begin om meer eksplisiete of afwykende materiaal te begeer en opeindig deur te doen wat hulle gesien het.
Volgens Charles Keating van Citizens Through Law, het navorsing getoon dat 77% van kindermolesteerders wat seuns molesteer en 87% van kindermolesteerders wat meisies molesteer, erken dat hulle die seksuele gedrag namaak wat hulle op pornografiese materiaal gesien het.
Sosioloë Murray Straus en Larry Baron van die Universiteit van New Hampshire het gevind dat verkragtingsyfers die hoogste is in state met ’n hoë verkoopsyfer van sekstydskrifte. Dit kom ooreen met navorsing deur psigoterapeut David Scott, wat gevind het die helfte van verkragters gebruik pornografie om hulself seksueel op te wek net voor hulle hul slagoffers uitsoek ().
Die FBI het met ongeveer twee dosyn seksreeksmoordernaars in die tronk gesels. Ongeveer 81% het gesê hul grootste seksuele belangstelling was die lees van pornografie en hulle het hul seksfantasieë op egte mense uitgeleef.
’n Voorbeeld hiervan is Arthur Gary Bishop, wat aangekla is vir die seksuele mishandeling en moord op vyf jong seuns. Hy het gesê: “As pornografiese materiaal nie beskikbaar was in die state waar ek vroeër gewoon het nie, is dit moontlik dat my seksuele aktiwiteite nie sou toegeneem het in die mate wat dit het nie.” Hy het gesê pornografie se impak op hom was vernietigend. “Ek is ’n homoseksuele pedofiel wat aangekla is van moord, en pornografie was ’n bepalende faktor in my ondergang.” ()
Die siklus van verslawing lei voortdurend slegs in een rigting – harder materiaal. Daar word selfs beweer dat byna alle pornografie later in S&M (sadisme en masochisme) eindig. Dit word ’n verslawing, soos alkohol, en só, in ’n poging om vry te kom van verwagtinge, raak mans dikwels vasgevang deur ’n fantasie. Dit is tydelik en verskaf later nie meer seksuele verligting, soos in die begin, nie. Dan begin mans soek na harder en harder materiaal.
Die Amerikaanse seksuele reeksmoordenaar Ted Bundy, wat in Januarie 1989 vir sy dade tereggestel is, het dit die aand van sy dood só in ’n radio-onderhoud verduidelik: “Dit het gebeur in fases, geleidelik . . . my ervaring met pornografie, wat op ’n gewelddadige vlak met seksualiteit omgaan, is dat, sodra jy daaraan verslaaf raak, en ek kyk hierna as ’n soort verslawing soos ander tipes verslawings, het ek aanhou kyk na meer potente, meer eksplisiete, meer grafiese materiaal. Soos ’n verslawing hou jy aan om na iets te verlang wat harder en harder is, iets wat jou ’n groter mate van opwinding gee, tot jy die punt bereik waar pornografie slegs só ver gaan . . . dit bereik daardie afsetpunt waar jy begin om te wonder dat as jy dit miskien doen, dit jou sal gee wat verby daardie punt van lees of besigtiging is.”
Terwyl bogenoemde uitwerkings nie noodwendig op INTIEM-lesers van toepassing is nie, is dit ’n duidelike illustrasie van watter magtige uitwerking pornografie op ’n mens se brein het.
Die spirituele skade wat pornografiegebruik aanrig, is dikwels die onsigbaarste uitwerking, maar dit beïnvloed elke Christenman. Volgens val pornografie die eerbaarheid van mans en vroue aan, wat na die beeld van God geskape is. Dit verwring ook God se geskenk van seks wat slegs binne die perke van die huwelik gedeel behoort te word en dikwels bevorder dit perversie, wat verkragting, bloedskande, sodomie, marteling en pedofilie insluit.
Die Skrif veroordeel praktyke wat deur pornografie veroorsaak word. Voorbeelde is Genesis 9:21-23, wat praat oor seksuele ontbloting, Levitikus 18:23, wat bestialiteit veroordeel, en Deuteronomium 23: 17-18, wat prostitusie veroordeel.
Pornografie meen die huweliksbed is elasties en groot genoeg om meer as twee mense te akkommodeer. “Die hele doel van pornografie is om ’n seksuele reaksie uit te lok. Of dit ’n video, tydskrif of volwasse vermaak is, die doel is om die seksuele passie van die kyker op te wek.
“Wanneer ons seksuele passie deur iemand anders as ons maat opgewek word, is dit slegs menslik om ons maat se sexyness met die sexyness van die een tot wie ons aangetrokke voel, te vergelyk. So, wat gebeur met ons siening van ons huweliksmaats wanneer ons ’n ferm, pragtig opgemaakte (en rekenaargemanipuleerde) binneblad sien? Die huweliksmaat verloor,” skryf Laurie Hall in The Elastic Bed Syndrome op die webtuiste www.beliefnet.com.
Uit die perd se bek – hieroor moet jy liefs pornografie vermy
’n Voormalige pornografie-verslaafde wat hom 20 jaar lank aan die gebruik van pornografie gewy het en in 1998 met God se hulp daarvan bevry is, het ’n bladsy op die Internet gewy aan redes hoekom mense dit liefs moet vermy.
Is jy ’n gereelde pornografie-gebruiker? Lees hier:
- Dit voed die luste van die oë en die vlees, wat nooit versadigbaar is nie. Só begeer jy meer en meer om dieselfde seksuele piek te bereik en word jy ’n slaaf van jou begeertes.
- Dit “verseksualiseer” jou gedagtegang en maak jou perspektief só pervers dat seks onnatuurlik in jou gedagtes verlig word. Pornografiese beelde word in jou brein ingegraveer met behulp van hormone wat gedurende seksuele opwekking vrygestel word. Die beelde bly draal, lank ná jy opgehou het om daarna te kyk.
- Dit bevorder vernietigende praktyke en kan lei tot progressiewe verslawing. Pornografiese webtuistes lei kykers byvoorbeeld na uitbeeldings van elke moontlike seksuele perversie denkbaar, soos kinderpornografie, masochisme, sadisme en so meer.
- Pornografie intensifiseer jou gedrewenheid na jouself eerder as ’n behoefte om ander te dien.
- Pornografie kan tot skuld lei. Pornografie-skeppers verlei gebruikers met uitlokkende advertensies en spam mail wat jou met gratis pornografie lok. Wanneer jy eers op die webtuiste beland, moet jy betaal om meer te sien.
- Deur pornografie aan te skaf of daarna te kyk, ondersteun jy die pornografie-bedryf en fasiliteer jy die bedryf se groei.
- Deur na pornografie te kyk, kan jy jou familieverhoudings beskadig. Dit kan jou ook inspireer om met bloedskande te eksperimenteer – ’n algemene pornografie-tema.
- Pornografie kan ook leuens, mishandeling, buite-egtelike verhoudings, skuld, geweld en irrasionele denke aanmoedig.
- Pornografie skep onrealistiese persepsies van seks. Dit neem wat God bedoel het om ’n private uitdrukking van liefde tussen man en vrou te wees, en prostitueer dit vir goedkoop vermaak.
- Dit het ernstige geestelike gevolge, en is die deur na spirituele onderdrukking en verwar jou lewe. Die krag agter pornografie is inherent boos. Dit beheer en domineer die kyker se lewe, en vervaag die lyne tussen reg en verkeerd.
- Pornografie help jou om die leuens wat pornografie promofeer, te help glo. ()
Hoe om van jou verslawing te ontsnap
- Erken jou probleem. Hierdie eerste, integrale stap raak ’n groeiende probleem omdat die gemeenskap weier om pornografie as ’n probleem te sien.
- Soek hulp. Praat met ’n goeie vriend, familielid, geestelike leier, dokter of terapeut. Wanneer jy ’n commitment aan ’n ander persoon maak, wat jou liefhet, is dit ’n aansporing om te verander. Draai ook na God vir hulp.
- Raak ingelig. Diegene wat aan pornografie verslaaf is en dié wat hulle help, moet geloofwaardige inligting oor die probleem ontvang.
- Bou ’n ondersteuningstelsel. Behalwe vir lewensmaats en ander familielede, vind baie verslaafdes ondersteuning by groepe mense wat deur dieselfde ervarings is. Kry ’n “sponsor” om jou te help om versoekings te weerstaan.
- Raak betrokke by verhoudings en die lewe self. Baie mense raak by verslawings betrokke as ’n rede om ware verhoudings en die lewe te vermy. Stel jouself oop vir ware verhoudings en kry gesonde stokperdjies. (marriageandfamilies.byu.edu)
Vir diegene wat betrokke is by pornografie, is daar altyd hoop en ’n moontlikheid om genees te word. Dit verg egter harde werk, opvoeding en ondersteuning van ander mense.