Soos wat die huwelik se uurglas uitloop, loop die romanse ook dikwels by die deur uit. Die lewe is propvol probleme hier op Tamatiestraat… en probleme is, in wese, nie iets lekker nie.

Promosie

“Hallo liefie, lekker geslaap?” word dikwels ontmoet deur: “Grom-grom…nee, beer!”
“Hallo skat, lekker dag gehad?” kry: “Mor-mor…nee, my engel!” as antwoord. En so gaan ons om en om in ‘n malle maalkolk van die saai, ou lewe…! ‘Same old…same old’. Ag, hoekom moet ek so suffer’, soos Tannie Stienie gesê het vanuit 19-hoeveel-nou-weer, se bekende TV program.

Meeste van dié soort, is probleme wat – ek vrees – ekself teweeg gebring het deur my eie toedoen… Jy sien, vir die werkende man of vrou – is dit deesdae bykans die norm om 6 uur die oggend die huis te verlaat, en soms eers rondom 6 uur, of selfs 7 uur, tuis te kom, moeg en afgemat van die dag se harde werk, uitgeput en ontbloot in jou denke, van alle moonlike kreatiewe idees! En so gaan dit week in en week uit. Maand in en maand uit. Jaar in en jaar uit…

Dit klink alles negatief, maar ek moet bietjie inkleur om by my punt te kom… Hoekom raak ons so vasgevang in die eie mensgemaakte donker gangetjies van ons denke?
‘n Algemene, en kragtige waarheid in die lewe is dat ons sal sien, wat ons kies om te sien… persepsie, en perspektief! En dit is sekerlik ook van uiterste waarheid, en belang, in ons huwelike ook.

Promosie

Hoe treffend is dit nie dat ek eintlik my eie huweliksgeluk bepaal deur hoe ek kiés om myself en my huweliksmaat te sien, en my perspektief vir ons huwelik daarvolgens in te stel nie? Alle veranderinge begin by die erkenning van die noodsaaklikheid aan verandering.

Daar word gesê die definisie vir kranksinnigheid is om dieselfde ding oor en oor te doen en ander resultate te verwag! Doen ons nie maar soms ook dieselfde in ons huwelike nie?

Ons hanteer ons eggenote as ‘n alledaagse ’gewoonte’ en wonder dan hoekom ons die vlam verloor!
Dink bietjie terug aan een dag lank lank gelede… kan jy nog onthou hoe jy gevoel het toe jy jou man of vrou die eerste keer gesien het, of gesoen het… of toe julle mekaar voor die kansel trou beloof het?

Waar is die ‘magic’ heen?

Ek sal jou sê waar…en jy weet dit ook goed, liewe leser: Tussen die rekeninge, die werk, die kinders, skool, die huis ensomeer. Juis daarom dat Jesus sê: ”Pasop vir die sorge van die lewe, want dit maak die saad dood”. Die saad van die Woord, sowel as die saad van die Lewe. Sy lewe. Sy liefde in julle.

So, wat kan ek prakties doen om my huwelikslewe opwinded en kreatief te hou?

Jesus se verwysing in Openbaring na die noodsaaklikheid om terug te keer na ons eerste liefde, praat immers van Hom, maar hou ook verseker waarheid in vir ons huwelike. Keer terug na jou eerste liefde…

• Grawe ‘n paar ou fotos op en deel dit met jou eggenote rondom ‘n tafel.
• Stuur ‘n paar lekker, hartstogtelike boodskappe oor WhatsApp!
• ‘Date’ mekaar weer…nog beter, hou ‘n ‘date night’ ten minste een maal per maand…indien jy een maal ‘n week kan, nog beter…wat van ‘Date weekends’?
• Wanneer laas was jul op ‘n wegbreek saam?
• Ons besef finansies mag dalk druk en ‘n uitdaging wees, maar vind dan kreatiewe maniere om mekaar tuis te bederf:
o Verras mekaar in die stort of die bad…kerse is nie duur nie, en ‘n sin vir romanse is nog meer bekostigbaar!
o Doen die dinge wat jul gedoen het aan die begin toe julle mekaar leer ken het.
o Lag saam, speel saam, ondersoek saam…geniet mekaar se lywe. Dit bly vir my interessant en die moeite werd om weer aan te haal, dat Jesus ook hierna verwys in Openbaring… ek dink Hy bedoel verseker ook ons huwelike!
• Moenie jou eerste liefde vir God en jou eggenote verloor nie…

Die Woord verwys ook na die bruid van jou jeug… dalk is dit waar die sleutel vir ons lê: Ek is oortuig daarvan! Onthou die jong bruid/bruidegom waarmee jy voor die kansel gestaan het (jonk van gees, indien jul dalk in jul latere jare getroud is).

Verdwyn weer opnuut in mekaar se arms… Vind weer jul vlam en wees kreatief en oorspronklik. Herontdek mekaar. Bou memories! Wees naak en naby…wees waaghalsig en avontuurlustig… jy bepaal jou eie huweliksgeluk.

Bly kaalgestroop in jul verhouding met Hom en mekaar, en vind weer so die vlam van jul harstogtelike liefde.

Artikel deur Charles van Onselen