Persoonlike higiëne is nou nie juis iets waaroor jy oplees nie, nie waar nie? Jou ma het jou immers geleer om jou tande te borsel en agter jou ore te was . . . maar glo dit of nie, jy is nooit te oud om te leer nie!
Dit is nie juis ’n onderwerp vir ’n Sondagmiddag-gesprek om die lamsboud en soetpampoen nie. Ook nie een vir daardie tye wat jy opkrul in die lepellê-posisie nie. Maar persoonlike higiëne is iets waaraan jy aandag behoort te gee (vra dit vir elke ma wie se tienerseun sy rugbysweet met ’n bottel deodorant probeer verbloem!). As jy getroud is, leef jy baie na aan die persoon wat jy lief het. Dit gaan jou nie minder lief maak vir hom/haar as sy/haar persoonlike higiëne nie op pyl is nie, maar dit gaan julle beslis minder lus maak vir mekaar in die huwelik én in die bed. Volg dus hierdie wenke om beter oor jouself te voel en ook vir jou maat aantrekliker te wees . . .
- Belê in ’n elektriese tandeborsel.
Ja, hulle ís duur, maar daar is ’n rede waarom jou tandarts daaroor blý kerm. As joune boonop ’n twee-minuut timer het, is dit ’n bonus! Jy kan blykbaar party van hulle se agterkant gebruik vir ander vibrerende plesiertjies (as jy weet wat ons bedoel…).
- Was jou hande voor seks.
Ja, dis nodig! Julle vroetel oor mekaar se lywe en jul vingers beland op allerlei plekke. Om dus allerhande infeksies en slegte smake te voorkom, maak seker jy was jou hande (en sommer jou hele lyf) voor seks.
- Trek die tandevlos nader.
Jy weet jy moet, maar jy doen dit nie. Dit is nou maar net ’n feit – tandevlos kom by waar tandeborsels en tandestokkies nie kan nie. Behalwe die feit dat dit jou asem verfris, voorkom dit ook tandvleissiektes.
- Maak seker julle beddegoed word een keer per week gewas.
Kussingslope ook. Dis ononderhandelbaar. Jy moet jou beddegoed selfs meer gereeld was as een van julle nie voor slaaptyd bad nie.
- Borsel jou tong.
’n Tong met plaak is die nommer een oorsaak van slegte asem. As jy geneig is om te gag, maak ’n vuis met jou linkerhand en jou duim daarbinne. Vir sommige mense onderdruk dit hierdie refleks. Moenie vra hoekom nie (ons weet ook nie).
- Hou droë sjampoe byderhand vir daardie dae wat die waterpype vries, die geyser breek of die wekker nie afgegaan het nie!
Jy kan jou eie maak met een koppie hawermout en een koppie koeksoda. Sprinkel dit op jou haarwortels, wag en kam dit uit.
- Manne, neem ’n stort soos normaalweg en draai dan die warm kraan toe!
Goeie bloedsirkulasie is maar net een van die talle voordele wat ’n koue stort inhou. Dit verbeter ook herstel ná oefening, dit verbeter immuniteit en dit maak jou wakker en gefokus.
- Bad voor slaaptyd.
Vir sommige mense maak dit nie saak nie, maar as jy enigsins sexy planne het vir die aand, sorg dat jy vinnig in die bad of stort spring (’n uitgerekte bad kan jou te vaak maak vir aksie).
- Vingernaels en toonnaels gee jou persoonlike higiëne weg!
Sorg dat jy gereeld vir ’n manikuur en pedikuur gaan om jouself netjies te hou. Dit geld vir die manne ook. ’n Man se vingernaels moet kort, skoon en netjies wees – veral as hy daarmee ná aan sy vrou se lyf gaan kom.
- Dames, parfuum agter jou ore, op jou gewrigte en in jou elmboë, agter jou knieë en tussen jou borste waarborg onweerstaanbaarheid . . .
Onthou egter, parfuum is nie daar om slegte reuke te verdoesel nie, maar om jou natuurlike, skoon lyf nóg lekkerder te laat ruik.
- Maak seker jy loop ’n draai ná seks.
Dit speel ’n belangrike rol in die voorkoming van urienweg-infeksies, wat veroorsaak word deur bakterieë na aan die uretra.
- Was jou vagina net uitwendig.
Dit is ’n selfreinigende area en as jy daar sukkel met seep, kan jy die natuurlike flora versteur.
- Om infeksies te voorkom, vermy badolie en badskuim en gebruik jou hande om te was (klam waslappe is ’n broeiplek vir bakterieë).
Sorg ook dat jy behoorlik afdroog en dra onderklere van materiaal wat asemhaal.
- Kyk na wat jy eet ter wille van persoonlike higiëne.
Ja, jogurt is goed vir jou! So ook vrugte, volgraankosse, knoffel en blaargroente. Deur jouself skoon en vars te hou, maak jy jou onweerstaanbaar vir jou maat sodat jul sekslewe kan hoogty vier!
Deur Annelize Steyn