Ons tema vandeesmaand is kommunikasie en dis dus ‘n goeie idee om jul volgende “date night” rondom hierdie tema te bou!

Promosie

Aangesien kommunikasie ons tema vir hierdie uitgawe is, kan julle begin deur te klets! Ja, bespreek jul verwagtinge en behoeftes rondom date nights. Jy sien dalk nie kans om die kinders te laat uitslaap nie, terwyl manlief droom van ‘n aandjie sonder dat een van die klein rakkers by julle kom inkruip. Jy wil dalk bederf word, terwyl manlief glo pizza en ‘n Blockbuster is heeltemal in orde.

Jul persoonlikheidstipes sal ook bepaal watter tipe date night julle van hou. As een van julle ‘n ekstrovert en die ander ‘n introvert is, kan dit ‘n bietjie van ‘n uitdaging wees om op ‘n afspraak te besluit wat vir beide van julle kan werk. Adam C. Earnheardt, voorsitter en professor in Kommunikasie by Youngstown State University, is ‘n ekstrovert en is reeds 20 jaar met ‘n introvert getroud. “Ek dink regtig hierdie soort pare is goed vir langtermyn sukses. Om die kommunikasielyne oop te hou is belangrik, wat vir nuwe paartjies dalk bietjie moeilik kan wees, maar al wat dit verg is goeie gesprekvoering en onderhandeling,” meen hy op bustle.com.

As jy en jou maat nie weet watter persoonlikheidstipe julle is nie, kan julle die Meyers Briggs toets aanlyn doen. Susan Golicic sê in dieselfde artikel dat compromise koning is. Julle moet onderhandel oor die soort afspraak en die plekke wat vir julle belangrik is. Sodra julle hierdeur gesels het, kan julle jul date nights begin beplan. Ons gee jou inspirasie vir dié maand!

Promosie

Onthou, ons het verlede maand vertel hoe belangrik dit is om ‘n gemeenskaplike belangstelling te kombineer wanneer julle jul afspraak-aande beplan. As julle steeds nie so iets gevind het nie, moet julle ‘n bietjie delf.

Beantwoord die volgende paar vrae afsonderlik en vergelyk dan jul antwoorde om vas stel waar julle ooreenkom:
1. Wanneer ek tien minute op my eie het, sal ek graag dít wil doen…
2. Wanneer ek ‘n uur op my eie het, sal ek graag dít wil doen…
3. Die plek waarheen ek die graagste sal wil reis is… En dít is hoekom…
4. Wanneer ek iets onbekend aanpak, is my doel om: Dit te geniet/iets daaruit te leer/ uit my gemaksone te klim/iets van my maat te leer.
5. Ek hou daarvan om dinge as ‘n paartjie alleen/in ‘n groep te doen.
6. Ek verkies om ‘n nuwe belangstelling buite in die openbaar aan te pak/in die gerief van my eie huis te doen.

Lys ook alles wat jy graag sal wil doen as ‘n gedeelde belangstelling. Vra jou maat om dieselfde te doen. Skryf alles op een lang lys neer en maak beurte om dit te prioritiseer in volgorde van voorkeur. Dit behoort julle te help om by jul doel uit te kom en vas te stel waar julle raakpunte het.

Die tweede tipe afspraak is ‘n avontuur. Vra jou maat watter avonture op sy/haar kluitklaplysie (bucket list!) is. Vertel hom/haar watter avonture jy ook nog graag sal wil aanpak en besluit watter hiervan dié maand vir julle haalbaar is.

Die derde tipe afspraak is ‘n kenmekaar-afspraak en omdat dit perfek by vandeesmaand se tema inskakel, gee ons jou ‘n vraelys om in te vul, sodat jy jou maat se manier van kommunikeer beter kan verstaan.

Maak hierdie afspraak romanties. Dit kan baie maklik soos ‘n terapie-sessie voel en asof julle in die spreekkamer van ‘n beroepsvoorligter sit, so hou dit intiem en romanties met mooi musiek, sagte beligting, sjokolade, vonkelwyn en aarbeie…

Vier idees om jul kommunikasie te bevorder:

1. Gaan stap met die honde! Ja, vir sommige mense geld dit nie as ‘n ware afspraak nie en ons stem saam. Dit is eerder ‘n daaglikse gewoonte wat jy en jou maat kan kweek om in voeling met mekaar te bly. Ongelukkig laat ons vlak van misdaad in Suid-Afrika jou nie toe om dit in enige omgewing te doen nie, maar as julle byvoorbeeld in ‘n sekuriteitskompleks bly, kan julle wel hiervan ‘n romantiese afspraak maak. Gaan stap vroegdag met die honde, maar pak ‘n piekniekkombers en -mandjie in, sodat julle iewers langs ‘n dam kan gaan stilsit, die sonsopkoms kan bewonder en ‘n gehalte gesprek kan hê in doodse stilte, voor die dag begin. Ja, sonsondergang is romanties, maar sonsopkoms is underrated! Die belofte wat ‘n nuwe dag bring – saam met jou maat, is so romanties soos jy kan kry.

2. Hou ‘n pet-klets: Skryf die volgende onderwerpe op Post-it papiertjies neer:
– Wanneer het jy laas die lekkerste saam met my gelag?
– Vertel my wanneer het jou ouers waarlik droog gemaak in jou opvoeding?
– Wat het jy van jou ouers weggesteek wat jy steeds vir hulle wegsteek?
– Watter liedjie wat op die radio speel, kan jy nie uitstaan nie? Hoekom?
– Watter fliek het jy gekyk toe jy heeltemal te jonk was daarvoor?
– Wie was jou beste maatjie in graad een?
– Soos wie wou jy wees toe jy tien jaar oud was?
– Wat was jou gunsteling speletjie as kind?
– Wanneer het jy die eerste keer ‘n verdieping in jou geloof ervaar?
– Het jy daarvan gehou om uit te slaap as kind? Hoekom?
– Watter kattekwaad het jy aangevang?
Skryf elke onderwerp neer op ‘n post it nota en plaas dit in die pet. Maak beurte om ‘n vraag te trek en te beantwoord.

3. Neem deel aan ‘n pub quiz! David Bennett, ‘n berader en verhoudingskenner, meen Pub Trivia is ‘n goeie idee vir introverte en ekstroverte. Jy het genoeg alleentyd én tyd saam met mense. Neem deel aan Quiz Nights SA se weeklikse quiz aande. Dis gebasseerd in Gauteng met quiz aande in verskeie venues regoor die streek (quiznights.co.za)

4. Reis saam. Goed, dié is ‘n bietjie van ‘n langer afspraak as net ‘n aand. Maar, as julle dit kan bekostig (wat tyd en geld aan betref), spring op die vliegtuig en besoek New York, Morocco, Namibië, Dubai… enige plek, vir so lank soos julle kan. As daar een tipe ‘afspraak’ is wat julle sal toets op die gebied van kommunikasie, is dit om saam te reis. Julle moet planne beraam, kaarte uitwerk, die plaaslike vervoerstelsel baasraak en ooreenkom wat besienswaardighede, eetplekke, tydsbestuur en begroting aan betref. As julle pasgetroud is, wat van ‘n road trip vir ‘date night’? Neem ‘n Saterdag, spring douvoordag in die kar en beplan jul reis. En waar ook al julle gaan, sal daar opsies wees vir introverte sowel as ekstroverte. Dr Earnheardt sê dat hy en sy vrou ‘n ‘wagwoord’ het wanneer hulle sosiaal verkeer sodat hy kan weet wanneer sy graag wil huis toe gaan.

As dit kom by inspirasie wat ‘n kommunikasie-afspraak aan betref, soek hier:

Something old: Kyk na die paartjies van toentertyd. Hulle het nie selfone, televisie, flieks, ipads en dies meer gehad nie. Afsprake was ‘by die opsitkers’ en kan jy dink – met dié ongemaklike stilte wat geheers het, is al wat hulle kon doen waarlik om te praat (of te vry natuurlik).

Something new: Met al die vorme van kommunikasie tot ons beskikking, is daar geen verskoning om nié uit te blink met jou kommunikasie-vaardighede nie. Die sosiale netwerk toep, Couple, laat jou toe om selfoon-oproepe te maak of te facetime. Jy kan teksboodskappe stuur en jou bui en gevoelens uitdruk met video, oudio, doodles, slim plakkers en selfs privaatfoto’s wat binne ‘n sekere tydperk verdwyn (ideaal om daardie Margaret-scenario’s te vermy!) Julle kan boonop ook ‘n kalender en to do lysies deel. Dis ‘n goeie toep vir konneksie en om jou herinneringe lewendig op ‘n gedeelde tydlyn te hou – vir beide paartjies in langafstandverhoudings én die wat ‘n huis deel.

Die Fix a Fight toep stel taktieke voor vir hoe om weer op te maak na julle baklei het en gee jou selfs raad (verskaf deur sielkundige en paartjie-konsultant Mark McGonigle) oor hoe om jou gevoelens beter uit te druk en gesprekke te inisieer oor onderwerpe wat pla sonder om in ‘n geveg met jou maat betrokke te raak. Daar is ook ‘n lys self-kalmerende en ontspannings-oefeninge vir albei om julle te help om te kalmeer na ‘n rusie.

Something borrowed: Leen by Lou Rawls, ‘n Amerikaanse sanger, liedjieskrywer en akteur, en skakel musiek aan wanneer julle volgende keer te moeg, te kwaad of te hartseer is om te praat. “Musiek is die grootste kommunikasie [instrument] ter wêreld. Selfs al verstaan mense nie die taal waarin jy sing nie, ken hulle steeds goeie musiek wanneer hulle dit hoor.” As dit een van daardie moeilike dae is, gaan lê langs mekaar skakel die musiek aan en ‘wees’ net.

Something not blue: Hier praat ons van ‘n stomende afspraak. As julle besluit om vir date night ‘in te bly’(lees tussen die lyne), neem seks na ‘n ander vlak deur ‘n bietjie dirty talk aan te wend. Dit is ‘n wonderlike kommunikasie -instrument, en wend jy dit reg aan, sal dit allermins die lus blus. Gebruik dirty talk om jou maat te wys hoe jy seks geniet en hoe om jou maat in die regte rigting te lei. Jy kan jou dirty talk so mak of so wild maak soos jy wil. Oefen in die spieël as jy skaam is!

Kommunikasie is ‘n baie belangrike element van elke date night! Daarom is ons nie groot voorstaanders van ‘n fliek-date nie, behalwe as dit behels dat julle ná die fliek iewers gaan eet om oor die fliek (en ander dinge) te gesels. Onthou om altyd nuuskierig oor jou maat te bly en jul date nigths só te beplan dat jy meer oor jou maat te wete kan kom. Dit hou die huwelik lewendig en aan die brand. Stephen King het immers gesê: “Writing is seduction. Good talk is part of seduction. If not so, why do so many couples who start the evening at dinner, wind up in bed?”

Artikel deur Annelize Steyn