Elke huwelik het lekkertes. Daardie dinge wat jou huwelik makliker en beter maak. Maar dan is daar die noodsaaklikhede – daardie goed waarsonder jou huwelik bloot nie kan oorleef nie.
Onthou julle die reeks Lost? Ons was versot hierop en ek onthou hoe ek en my man – vóór die koms van ons kinders – laatnag marathon-sessies deurgewerk het om te kyk wat volgende met dié oorlewendes (elkeen se lewe natuurlik sepie-materiaal) op die eiland gebeur. Hoe hulle koppe met hulle lol en hulle dít wat hulle tot hul beskikking het, moet gebruik om te oorleef. Op ’n verlate eiland is ’n paar dinge waarsonder jy bloot nie kan klaarkom nie. Daardie toerusting wat jy op talle maniere inspan om jou van een dag tot by die volgende te help kom. Net so werk dit ook in die huwelik.
#1. Die belangrikheid van BEDAGSAAMHEID (soos water)
’n Mens se liggaam bestaan uit sowat 60% water, jou brein uit 70% water en jou longe uit bykans 90% water! Elke dag moet jy sowat 2,4 liter water vervang. Sonder kos kan jy sowat ’n maand lank oorleef, maar sonder water gaan jy skaars ’n week maak! In ’n huwelik is bedagsaamheid net so lewensbelangrik. Die woord “bedagsaamheid” klink so formeel, maar eintlik beteken dit bloot dat jy jou maat in ag neem en sy/haar gevoelens in oorweging bring. Gee jy die oorskiet vir jou maat, in plaas van jou beste, gaan jou huwelik kwalik oorleef.
Op ’n praktiese vlak beteken bedagsaamheid byvoorbeeld dat jy, voor jy byvoorbeeld mense oornooi vir ’n aand se kuier, dit eers met jou maat bespreek en hoor of hy/sy kans sien hiervoor.
#2. Die belangrikheid van RESPEK (soos ’n visvangnet)
Soos ons vroeër genoem het, kan jy slegs ’n maand sonder kos oorleef en daarom is ’n visstok, spies of hoek aan ’n lyn ’n baie gesogte item, sou jy jouself op Survivor bevind! Jy weet dit reeds: Manne het respek nodig en vroue het liefde nodig. As jou liefdestenk leeg is, gaan jy sukkel om aan jou maat te gee wat hy/sy nodig het of begeer. Hou jou kritiek minimaal en jou komplimente maksimaal. Laat jou maat goed, spesiaal en belangrik voel. Luister met aandag as hy/sy praat . . .
Op ’n praktiese vlak beteken respek byvoorbeeld dat jy voor sy familie en vriende met lof van jou man praat, in plaas daarvan om te fokus op die blombak wat hy skeef teen die muur vasgemaak het.
#3. Die belangrikheid van INTIMITEIT (soos vuurhoutjies)
Vuurhoutjies is onontbeerlik op ’n eiland. Hout help jou nie as jy niks het om dit mee aan die brand te steek nie. Jy het vuur nodig vir hitte, om kos mee gaar te maak, water mee te suiwer en gevaarlike diere mee af te skrik. Intimiteit is nodig vir jou huwelik se hitte, emosionele voeding vir jou huwelik, om die lug mee te suiwer en om derde partye af te skrik. Intimiteit is dit wat net tussen jou en jou maat heers (emosioneel en fisiek). Dit is daardie “ons-verstaan-mekaar” tye wat meer word met aanraking, seks en diep gesprekke.
Op ’n praktiese vlak beteken intimiteit byvoorbeeld dat jou man jou ’n druk kan gee wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan omdat hy presies weet hoe jou hart voel en dat jy rustigheid in sy aanraking kry omdat jy weet hy weet.
#4. Die belangrikheid van KAMERADERIE (soos ’n goeie mes)
Op ’n eiland het jy ’n goeie, skerp mes nodig om mee skuilings te bou, te jag, kos mee te verwerk en allerlei take makliker te maak vir jou oorlewing. Net so is kameraderie noodsaaklik vir verskeie aspekte van jul verhouding: Dit bied skuiling en dit maak jul huwelik se oorlewing net soveel makliker en lekkerder. Waarop kameraderie bloot neerkom, is die wete dat jy ’n spanmaat het wat jou vang as jy val en ’n steunpilaar bied waarteen jy kan leun. Julle is ’n span en solank julle dit altyd onthou, kan niks julle ontspoor nie.
Op ’n praktiese vlak beteken kameraderie dat wanneer jou kroos by jou kom kla oor ’n straf wat na hul mening te streng deur Pappa opgelê is, jy agter hom sal staan en hulle sal wys dat jy in sý span is.
#5. Die belangrikheid van HUMOR (soos antibiotika)
As jy op ’n verlate, eksotiese eiland beland, is die kanse goed dat jy gebyt of gesteek gaan word deur die een of ander vreemde gogga of ondier. Jy gaan ook in jou soeke na skuiling en kos waarskynlik jou voete sny. Of jy gaan siek word. Hoe dit ook al sy, as jy ’n goeie dosis antibiotika byderhand het, gaan dit jou baie pyn en lyding spaar en moontlik jou lewe red. Humor in ’n huwelik is onontbeerlik. Daar gaan ongetwyfeld moeilike tye kom, maar soveel paartjies kan getuig dat humor hul redding was in ’n moeilike situasie en hulle gehelp het om makliker daardeur te kom.
Op ’n praktiese vlak beteken dit dat julle steeds kan lag wanneer die water warm raak omdat julle weet dat humor die enigste ding is wat in dié stadium die hitte draaglik maak.
#6. Die belangrikheid van TYD (soos ’n kalender)
Om jou sinne te behou en min of meer ’n konsep te behou van hoe lank jy gestrand is, hoe die getye werk en wanneer jy redding kan verwag, moet jy ’n vorm van ’n kalender hê. As jy nie ’n horlosie byderhand het nie, kan jy kepies in ’n rots graveer. Hoe dit ook al sy, in ’n huwelik is tyd net so belangrik soos op ’n verlate eiland. Sonder kosbare gehaltetyd saam (soms is gestruktureerde tye nodig) sal jy en jou maat begin funksioneer soos skepe in die nag. Julle sal vreemdelinge vir mekaar word.
Op ’n praktiese vlak beteken dit dat julle soms tye saam met mekaar moet kan skeduleer, maar so ook tye afsonderlik sodat julle ook as individue kan groei.
#7. Die belangrikheid van AANVAARDING (soos ’n grondseil)
Om te keer dat daardie grillerige creepy crawlies oral inkruip waar hulle nie moet nie, het jy verkieslik ’n grondseil nodig. Dit kan ook help om jou teen die elemente te beskerm deur as skadu teen die son te dien of ’n dak wanneer dit reën. In ’n huwelik is aanvaarding of genade net so belangrik soos ’n grondseil. Dit bied beskutting teen die res van die wêreld. Vir jou maat om veilig te voel by jou, moet hy/sy weet dat daar nie oordeel is nie, maar dat jy hom/haar onvoorwaardelik aanvaar– boots and all! Dit beteken dat jy ruimte laat vir jou en jou maat se verskille, en juis leer om jou maat lief te kry as gevolg van daardie verskille en nie ten spyte van nie.
Op ’n praktiese vlak beteken dit dat jy hom byvoorbeeld ophou kritiseer oor sy dromersgees en eerder die mooi en betowering raaksien wat dit na jul huwelik bring.
#8. Die belangrikheid van SEKURITEIT (soos ’n tou)
Jy het tou nodig om te kan klim, ’n skuiling mee te bou, ’n tent reg te maak, ’n vislyn mee te vervang . . . tou is net so belangrik op ’n verlate eiland soos wat sekuriteit is in ’n huwelik. As jy weet jou maat is in die huwelik deur die goeie én die slegte tye, laat dit jou veilig voel. Elke uitdaging maak van ’n paartjie ’n sterker eenheid as jy kies om nie op te gee nie. Vlug jy na jou ouers toe met elke rusie of stap jy uit in die middel van ’n gesprek, beskadig dit daardie sekuriteit wat tussen julle behoort te heers. Wys jou maat dat julle sterker is as enige konflik wat dreig om jul eenheid te vernietig.
Op ’n praktiese vlak beteken dit dat julle konflik op ’n volwasse manier hanteer, sonder dreigemente, verwyte en onvergewensgesindheid.
#9. Die belangrikheid van KREATIWITEIT (soos ’n pen)
Dit klink dalk soos ’n luukse item op ’n eiland, maar ’n pen kan jou help om planne te beraam, gedagtes neer te griffel en datums en gebeure op te skryf vir latere verwysing. In ’n huwelik is die pen in dié geval simbolies vir kreatiwiteit. Jy het nodig om die kreatiewe sappe in jou huwelik te laat vloei sodat jy nie verveeld raak met jul verhouding nie. Probeer nuwe dinge, beskou jou huwelik vanuit ’n nuwe hoek, gesels oor nuwe onderwerpe en beproef nuwe avonture.
Op ’n praktiese vlak beteken dit byvoorbeeld dat julle sowat drie avonture per jaar moet probeer beproef, dinge wat nie een van julle al ooit gedoen het nie. Dit kan so dramaties soos valskermspring of so “mak” soos nuwe cuisine wees . . .
#10. Die belangrikheid van GEBED (soos in GEBED!)
Dit is nou wel nie ’n konkrete item nie, maar dit is wel ’n noodsaaklike item op jou lysie wanneer jy verlate en gestrand op ’n eiland sit. Ons is gemaak om verhoudings te handhaaf en as jy vingeralleen op ’n eiland sit, is die enigste Een met wie jy kan kommunikeer ook toevallig die enigste Een wat jou uit hierdie penarie kan help of jou kan lei om jou huwelik reg te hanteer. Gebed is noodsaaklik vir jou om jou huwelik te laat werk. Bid vir jou maat, bid vir jouself as lewensmaat en bid vir jou huwelik.
Op ’n praktiese vlak beteken dit presies wat ons hier sê. Maak gebed ’n gereelde deel van jul daaglikse roetine deur byvoorbeeld sommer soggens in die kombuis saam te bid terwyl julle koffie maak.
Geen mens kan voorsien dat hy/sy kort voor lank op ’n eiland gestrand sal wees nie – die voordeel wat ons in die huwelik het, is voorbereiding! Pak dus dié items in en jy sal die reis kan oorleef, en sommer geniet ook!
Deur Annelize Steyn