Selfs die warmste huwelik koel mettertyd af as gevolg van druk en ’n tekort aan tyd. Waar jy en manlief eens stout geglimlag het oor die gebreekte bed, praat julle nou saaklik oor die gebreekte skottelgoedwasser . . .
Daar is niks fout met ons huwelik nie,” dink jy. Dis gerieflik en gewoon, maar dit werk. Julle praat – oor bankstate, skoolaktiwiteite en sy sussie se planne om op veertig weer te begin swot. Julle is besig met gesamentlike aktiwiteite – kinders rondry, bestuursraad-vergaderings en familie-etes. Julle bring saam tyd deur – langs die sportveld, voor die televisie en aan die etenstafel. En op die oog af skort daar niks met julle verhouding nie! Behalwe . . . romanse.
Die opwinding het getaan en julle het huismaats geword. Dalk pla dit julle nie eens nie, want julle funksioneer as ’n gedugte span! Maar die kanse is goed dat julle op die oomblik bloot in ’n oorlewingsmodus is (daar is soveel dinge wat jul aandag in beslag neem), en dat daar nie nou die lus of die tyd is om nóg iets op die doenlysie te plaas nie.
Ons het egter ’n brokkie nuus om te breek: Julle moet ongelukkig romanse in dié stadium heel bo-aan die lysie plaas. Sien, hier waar julle nou is, is gerieflik en maklik, maar verkeer julle té lank in die vriende-staat, gaan julle hoogs waarskynlik sukkel om daaruit te kom!
Is julle huismaats? Indien julle op die meeste hiervan “ja” antwoord, wees versigtig.
- Julle het ’n streng georganiseerde huishouding en breek nie maklik die reëls nie, ook nie vir mekaar nie.
- Wanneer julle tyd deurbring saam met ’n dolverliefde paartjie, maak dit julle effens ongemaklik.
- Die WhatsApp’s wat julle die afgelope week vir mekaar gestuur het, gaan meestal oor die kinders, huishouding of inkopies.
- Jy gaan slaap met rollers in jou hare en vlos jou tande voor hom. Hy maak nie die badkamerdeur toe nie en sny sy toonnaels voor jou.
- Julle spandeer meer tyd met jul oë vasgenael op die kassie in jul kamer as op mekaar, of julle gaan slaap op verskillende tye.
- Die verjaardag- en Kersgeskenke wat julle die afgelope tyd vir mekaar gegee het, is prakties eerder as romanties.
- Hy/sy het ’n paar slegte gewoontes wat jou nekhare laat rys en dikwels tot groot rusies lei – jy kan dit net nie meer uitstaan nie!
- Julle slaap in sweetpakke, ou klere en gemaklike pajamas. Jy kan nie onthou wanneer laas jy iets sexy bed toe aangetrek het nie. Dieselfde geld vir onderklere!
- Jul rusies gaan oor die hondekos, motor en swembad.
- Julle is albei by die huis, besig met jul eie dinge, maar nie een van julle weet wáár in die huis die ander een is of waarmee hy/sy besig is nie.
- Wanneer jy laat gaan wees of planne het om jou stokperdjie die naweek te beoefen, laat weet jy nie jou maat nie. Hy/sy doen dit ook nie met jou nie.
- Julle kan nie eens onthou wanneer julle laas op ’n afspraak was nie. Tussen die kinders, werk en huishouding is daar nie tyd hiervoor nie.
- As julle wel tyd kry om iets lekker te doen, kuier julle eerder saam met ander mense as met mekaar.
Klink dit soos julle? Implementeer dan die volgende aksieplan om van jou huismaat weer ’n minnaar te maak!
DAG 1:
- Gee jou maat vroegoggend ’n soen wat minstens tien sekondes duur en die atmosfeer vir die res van die dag kan bepaal. Huismaats gee piksoene, maar minnaars gee mekaar uitgerekte soene. Dis intiem en ’n barometer vir jul verhouding.
- Maak ’n lysie van sy goeie eienskappe. Jy voel waarskynlik geïrriteerd met sy/haar slegte gewoontes en jou maat wat alweer vergeet het om die vullissakke uit te neem, maar kies vandag om hom deur ’n positiewe bril te aanskou. Gee hom ’n kompliment!
- Skommel dinge ’n bietjie rond. Jy en jou maat is gewoond aan mekaar! Skommel dinge bietjie vandag deur die paadjie in jou hare na die ander kant toe te dra, ’n hemp in jou kas aan te trek wat jy nooit dra nie of ’n nuwe dis vir aandete te kook.
- Maak oogkontak. Wanneer mense gewoond raak aan mekaar, begin hulle ook al hoe minder na mekaar luister. Jy dink dalk jy gee aandag aan jou maat, maar bly tik terwyl hy met jou gesels of maak koffie terwyl hy iets vir jou probeer vertel. Wanneer jou maat begin praat, gaan sit oorkant hom/haar en kyk jou maat in die oë terwyl jy aandagtig luister.
- Spring vanaand saam met jou maat in die stort of bad!
DAG 2:
- Gee jou maat ’n stywe druk en hou hom/haar vas vir ten minste 15 sekondes. Om ’n drukkie by jou maat te kry, kan die suurstoftoevoer na jou organe verhoog en endorfiene vrystel. Daarby kommunikeer ’n druk só baie: Dit spreek van veiligheid, troos, liefde, begeerte . . . As jou maat die dag moeilik is, is ’n druk die laaste ding wat jy hom wil gee, maar is dit toevallig wat hy dán die nodigste het.
- Maak ’n “chat-sessie” vas. Julle kan mekaar by ’n koffiewinkel kry oor jul etensuur of andersins ná werk net vir tien minute by mekaar in die kombuis sit terwyl die kinders huiswerk doen. Raak jou maat aan en behou kontak terwyl julle praat oor die dag wat verby is (en maak seker jy fluister iets in sy oor!).
- Beplan ’n date night vir die volgende aand. Gesels saam oor wat julle graag wil doen, reël ’n kinderoppasser, en bespreek by ’n restaurant of koop kaartjies vir ’n vertoning.
- Maak saam ’n “Moenie pla nie”-bord vir jul slaapkamerdeur. Dit is belangrik vir kinders om te leer om hul ouers se privaatheid te respekteer. Dit hoef nie altyd oor seks te gaan nie, maar julle kan hierdie bord ophang wanneer julle net ’n bietjie paartjietyd nodig het om dinge deur te praat of bloot te gesels.
- Dra parfuum bed toe.
DAG 3:
- Trek jou mooiste fyngoed aan! Ja, daardie stelletjie met die kant en die strikkies! En paradeer eers ’n rukkie daarin rond voor manlief voor jy jou klere aantrek.
- Gaan op ’n date night! Ja, julle het nie tyd nie . . . niemand het tyd nie. Date nights is soos oefening – as jy die resultate wil sien en as dit vir jou belangrik genoeg is, sal jy tyd máák. As julle albei tyd neem uit jul belangrike skedules en daarby hou, stuur dit ’n belangrike boodskap, wat sê “Jy is ’n prioriteit in my lewe en dit is vir my lekker om tyd saam met jou deur te bring”.
- Skeduleer seks! Ja, die lewe is soms net te gejaag en as jy wag vir dit om vanself te gebeur, mag daar dalk weke en selfs maande verbygaan voor julle daarby uitkom. Kry vandag jul kalenders en teken dit aan deur ’n hartjie te maak. Om voortdurend die hartjies in jul kalenders te sien, sal julle gedurig daaraan laat dink. Stuur ook vir mekaar SMS’e as voorspel . . .
- Doen iets ongewoons. Julle kan dit ook met jul date night kombineer. Voorspelbaarheid is in hierdie stadium jul grootste vyand omdat dit juis roetine is wat julle hier laat beland het. Hou ’n kussinggeveg, gaan ysskaats, hou ’n sjokolade-proe, gaan witwaterroei . . . enigiets wat julle nie normaalweg sou doen nie.
- Vra jou maat vandag een vraag wat jou gaan help om meer oor hom/haar te leer. Dit kan iets wees oor sy verlede, iets oor sy gevoel rakende ’n aktuele kwessie of iets oor sy toekomsplanne, en liasseer dit iewers in jou agterkop vir latere verwysing.
- Slaap vanaand sonder ’n draad klere.
As julle die driedag-plan stap vir stap gevolg het, behoort daar reeds vernuwing in jul huwelik te wees. Die geheim is om nou bewustelik te bly lewe en van hierdie gewoontes meer gereeld in jul lewens te inkorporeer. Onthou, huweliksmaats flankeer, terg en lok uit . . . net om uiteindelik hul beloftes deur te voer!
Deur Annelize Steyn