Die somer is hier en met ons land se heerlike klimaat is dit die ideale tyd om die buitelug saam met jou maat en kinders te geniet. Maak net seker julle bly veilig . . .
So lekker soos wat die somer, son en seevakansies is, so gevaarlik kan die son ook wees. En nee, ons praat nie van velkanker nie (hoewel dít ook een van die dinge is waarteen jy moet waak deur genoeg sonbeskermingsfaktor te gebruik).
Altesaam 60% van jou liggaamsgewig bestaan uit water. ’n Baie delikate vloeistof-sout balans heers in jou liggaam om die selle en weefsel gesond te hou en as jy nie genoeg water inneem nie, word hierdie balans versteur.
Dehidrasie is ’n gevaarlike toestand wat voorkom wanneer mense as gevolg van verskeie faktore (koors, sweet en akute siekte) nie genoeg vloeistof inneem nie en skok voorkom. Dit is wanneer ’n mens fisiek kan ineenstort met ’n klam vel, vinnige hartklop en vlak asemhaling.
Dehidrasie kan maklik by kinders voorkom wanneer maaggriep ter sprake is en ook omdat kinders meer water benodig as gevolg van hoë energieverbruik (maar nie self bewus is daarvan om aan hul liggaam se behoeftes te voldoen nie).
Maak dus hierdie somer seker jy voorkom dehidrasie deur die volgende wenke toe te pas:
• Drink genoeg water vóór, terwyl en ná jy aktief is. Dit is veral belangrik wanneer jy intens in die buitelug oefen. Daar is wonderlike rehidrasie-drankies soos Nudrate se nuwe WHO osmolariteit-formule op die mark, wat veral doeltreffend is vir die behandeling van kinders met akute diarree wat nie met cholera verband hou nie. Nudrate se formule verminder ook die nood aan binneaarse vloeistoftoediening by kinders met 33%.
• Maak seker jou kinders dra ligte klere wanneer hulle buite speel. Herinner hulle daaraan om deur die dag water te drink en as hulle nie van die smaak daarvan hou nie, maak jou eie, tuisgemaakte gegeurde yslollies van lig gegeurde koeldrank of energiedrankies vir hulle om aan te suig terwyl hulle buite speel.
• Elke persoon se behoefte verskil wat sy voginname betref. Terwyl die normale persoon sowat ses tot agt glase water per dag moet drink, hang jou liggaam se behoefte af van faktore soos lengte, gewig, fisieke aktiwiteit en waar jy woon. As jy geneig is om baie te sweet, moet jy ook addisionele water inneem. Let ook veral op jou waterinname wanneer jy ’n hoë-proteïen dieet volg. In dié geval moet jy minstens agt tot twaalf glase water per dag inkry.
• Vermy middels wat water afdryf, soos té veel kafeïen (koffie, kola en sjokolade), maar maak seker jy kry genoeg potassium in. Dehidrasie beteken nie net dat jy water verloor nie, maar ook elektroliete. Potassiumryke kossoorte soos piesangs, soetpatats, klapperwater, mangoes en pynappels kan hierdie elektroliete help vervang.
Geniet die somer met sy heerlike temperatuur en wonderlike potensiaal om aan gesinsbande te bou, maar hou jou bottel vloeistof byderhand!
Vir meer inligting oor Nudrate volg gerus die skakel: nudrate.co.za