Jy en jou maat pas in alle opsigte by mekaar. Julle glo dieselfde, dink dieselfde en voel selfs dieselfde. Maar as dit by smaak kom, sit julle met ’n tameletjie . . .

Die besluite rondom jul troukaartjie is besig om op ’n ernstige affêre af te stuur. Jy wil dit eenvoudig hou, met ’n silwer lyntjie en ’n elegante lettertipe. Jou aanstaande het ander planne en dink jou idees is heeltemal te vervelig. Wat van so drie ekstra kleure? En twee trouklokkies in die hoek, wonder hy hardop? Julle kan sommer ’n grappie ook by die bewoording inwerk, stel hy voor.

Jy wil jou oë rol, maar keer jouself. Alles was goed en wel toe jy hom bederf het met ’n paar nuwe handelsnaam T-hemde om die gehawende rugbytruie te vervang wat hy so graag gedra het, maar nou sien jy dat smaak ’n groter kwessie gaan wees as wat jy gedink het.

Jy hou van minimalisme, skoon lyne en oop ruimtes. Hy het ’n voorsmaak vir perskekleurige badmatjies, porseleinbeeldjies op die kaggelrak en Afrika-maskers teen die sitkamermuur. Jy hou van neutrale kleure, hy geniet ’n bontspul. En wat gaan jy maak met die mosterdkleurige mat en die versameling bokkoppe wat hy graag in jul nuwe eetkamer wil uitstal? Jy raak skoon tranerig as jy in die arme diere se oë staar . . .

Promosie

Ja, dit is bloot ’n verskil in persoonlike smaak, maar jy is bekommerd as jy kyk waarop dit afstuur. Wat as hy jul kind eendag Jack Parow wil doop? Of vir Flaffie, die opgestopte Yorkie uit sy kinderdae, op die koffietafel wil staanmaak?

Hoe gemaak met style wat bots?

Wanneer twee mense met verskillende smake saam aan een huishouding moet bou, kan dit ’n stryery veroorsaak. Terwyl mans hulle aandag vroeër jare by dinge buite die huishouding bepaal het, verkies moderne mans deesdae om ook insae te lewer in die troue se beplanning, kook, dekor en kinderopvoeding. Soms is mededingende smake die prys wat moderne vroue moet betaal vir ’n betrokke maat!

Maar, meen kundiges, dit is ook ’n goeie leerskool as dit kom by aanpassings en toegewings, wat julle nog telkemale in jul voorgenome huwelik sal moet maak. Volgens die Chicago Tribune het ’n opname deur die aanlyn-kunswinkel Ugallery bevind dat bykans 60% van vroulike deelnemers voel dat om verskillende huisdekorstyle te bestuur een van die grootste uitdagings is vir paartjies wat saam intrek.

Onthou, wanneer dit kom by huis mooimaak, moet elke party voel dat hulle verteenwoordig word. Dus kan ’n huis nie meer volgens jou smaak of sy smaak ingerig word nie, maar moet julle style ineenvloei om ’n totaal nuwe, unieke styl tot gevolg te hê. As julle nie ’n middeweg kan vind of julle style só kan integreer dat julle albei daarvan hou nie, kan dit lei tot verwyte en ’n huis waarvan nie één van julle hou nie!

Hoe bereik julle ’n middeweg?

Jonathan Alpert, psigoterapeut en outeur van Be fearless: Change your life in 28 days, sê dat jy empaties moet optree as dit kom by die hou en weggooi van items. Kyk na die rede waarom jou maat iets wil behou. Dikwels word identiteite rondom materiële dinge gebou en mense heg sentimentele waarde aan items.

Maar jy moet egter iewers die streep trek. Help jou maat om waarlik te onderskei tussen wat sentimenteel is en waaraan hy/sy bloot geheg geraak het met tyd. As julle regtig nie ’n middeweg kan bereik nie, oorweeg dit om kamer vir kamer volgens jul smake in te rig.

Die dekor-webtuiste Houzz.com gee die volgende raad: Maak seker julle verwagtinge rakende die eindresultaat en kostes kom ooreen. Besluit dan saam wat bly en wat word eenkant toe geskuif, gerestoureer, nuut gemaak of verkoop, maar onthou dat as jy van jou maat verwag om van sekere stukke ontslae te raak, jy ook bereid moet wees om dieselfde te doen. Leer om kompromieë te bereik.

Douw Steyn, ’n binnenshuise ontwerper van Pretoria, sê:

  • As ’n mens nie ooreenstem oor ’n artikel of meubelstuk nie, sou ek dink ’n mens kan ten minste ’n kompromie bereik oor wáár die stuk gebruik kan word. As een byvoorbeeld nie daarvan hou nie, kan dit eerder in die spaarkamer staan, of die skildery kan in die gang hang.
  • Erfstukke soos ’n eetkamerstel of sitkamerstel kan wel gebruik word, maar nie as ’n eenheid nie. Hou byvoorbeeld die tafel, maar gebruik die stoele op ’n ander plek.
  • As ’n paartjie se smaak erg verskil, kan hulle dalk ’n meer eklektiese styl volg waar fokusstukke juis die ruimte inkleur en ritme gee.
  • Die kuns is juis om twee mense se individualiteit te behou, so weggooi is nie ’n opsie nie (tensy jy Jik daarop mors en sê jy is jammer).

Julle kan ook oorweeg om vars te begin. As julle nie in een van julle se huidige woning intrek nie, maar in ’n nuwe huis intrek, kan julle albei hier jul stempel afdruk. Neem albei se talente en gawes in aanmerking. Jy het dalk ’n goeie oog vir hoe kleure saam gekombineer kan word, terwyl jou man ’n meer praktiese ingesteldheid het. Besluit dan saam dat jy vir die “inkleur” van die vertrek verantwoordelik gaan wees, terwyl hy kan bepaal wáár elke funksionele meubelstuk gaan staan.

Onthou ook dat sommige mense sukkel om te visualiseer en dat geeneen van jou idees vir hulle na ’n goeie plan sal klink tot hulle dit in wese gesien het nie. In só ’n geval moet jy foto’s wys, sketse teken en soms selfs ’n projek of vertrek voltooi vir hulle om die eindresultaat te waardeer.

Wanneer dit kom by konflik, hou die groter prentjie in gedagte. Soms kan iets so eenvoudig soos ’n rusbank ’n gróót wig tussen paartjies indryf. Is dit werklik die moeite werd? Soms strek die oorsaak van die rusie veel dieper as die rusbank. Houzz meen: “Baie opgeboude aggressie word vrygestel gedurende tye van groot verandering. Die verf van die woonkamer se mure moenie degenereer tot ’n argument oor wie se ma die ergste is nie. Moenie dat spanning en uitputting die oorhand kry nie.”

En onthou om besluite met liefde en respek te neem en sáám ’n woning te skep waarin julle albei tuis voel. Dis slegs die begin van ’n leeftyd van kompromieë en toegewings. Doen dit van die begin af reg.

 

Deur Annelize Steyn