Dit is ’n gevaarlike speletjie om te speel om jou sekslewe met jou vriende s’n te vergelyk, of met Hollywood se weergawe van goeie seks.
Die paartjie op die kassie is smeulend, maar uitgeput na ’n hele nag se ononderbroke seks. Haar lyf is perfek, sy stamina is bewonderenswaardig! En jy wonder skielik oor jou eie sekslewe . . .
As ’n paartjie moet julle baie versigtig wees om julle sekslewe te vergelyk met dié van jul vriende of dit wat Hollywood voorhou. Onthou, elke mens en elke paartjie se seksuele funksionering is uniek. Wat vir een paartjie werk, werk nie noodwendig vir ’n ander een nie. Daar is soveel mites oor seks. Kom ons lig ’n paar uit:
- “Ja, maar my vriende het vier keer per week seks en ons net een keer.”
Wat gesond is in terme van die frekwensie van seks, is uniek tot elke persoon en paartjie. Vir sommige paartjies is een keer per maand genoeg en ander paartjies wil graag twee keer per week seks hê. Dit gaan ook eerder oor die gehalte van seks as oor die hoeveelheid seks. Dit is wel ’n uitdaging as jy byvoorbeeld drie keer per week ’n behoefte aan seks het en jou maat een keer in twee weke. Dan is daar ’n libido-verskil, wat op verskeie maniere aangespreek kan word.
Daar is byvoorbeeld verskillende alternatiewe tot sekspenetrasie soos masturbasie, gesamentlike masturbasie, die gebruik van ’n seksuele hulpmiddel of orale seks. Gemiddeld het die meeste paartjies twee tot drie keer per week seks. Die hoeveelheid en gehalte van seks hang natuurlik af van hoe gesond die verhouding is en veronderstel ook dat daar geen seksuele disfunksies ter sprake is nie. Die Hollywood-idee dat almal altyd reg is vir seks, is ’n mite.
- “My vriendin spog met ’n labiaplastie.”
Hollywood laat klink ’n labiaplastie soos die nuwe wonderkuur en al hoe meer vroue wil deesdae meer weet oor kosmetiese en ander prosedures rakende die vulva en die vagina. Labiaplastie, ’n prosedure om die labia kleiner en mooier te maak, raak al hoe gewilder.
Daar is ’n wye variasie in die natuurlike voorkoms van die vroulike genitalieë en daar bestaan nie iets soos die “ideale voorkoms” nie. Verskeie faktore, onder meer veroudering en die kraamproses, kan ’n invloed hê op die voorkoms van die vrouedele.
’n Labiaplastie is ’n chirurgiese prosedure wat die binneste labia (labia minora), buitenste labia (labia majora) en die graad van klitorale bedekking herkonstrueer. Sommige vroue ondergaan hierdie prosedure om kosmetiese redes aangesien hulle voel dat die oortollige labiaweefsel hulle minder vroulik laat voel.
Oormatige weefsel kan vir sommige vroue ongemak tydens seks of fisiese aktiwiteite soos perdry veroorsaak. Die vergroting van die binneste labia is nie ’n aangebore probleem nie, maar een wat later in ’n vrou se lewe ontwikkel. Die binneste labia word totaal of gedeeltelik verwyder, of kleiner gemaak.
Verskeie vaginoplastie-prosedures kan gebruik word, gewoonlik omdat gesê word dat die opening van die vagina te klein is. Indien die maagdevlies (hymen) te styf is, kan dit verwyder word. Indien die vaginale opening te groot is, kan dit gepaardgaan met gebrekkige sensasie, wat tot onbevredigende seks vir beide partye kan lei. Vaginale verjonging word dan dikwels voorgestel om die spiertonus en voorkoms van die vagina te herstel, en die uitwerking van ouderdom en kraam aan te spreek.
Eties gesproke is daar steeds baie vrae rondom hierdie tipe prosedures. Seksuoloë wêreldwyd is van mening dat die meeste chirurge nie genoegsaam opgelei is om die prosedure uit te voer nie, die beste metodes om dit uit te voer is nog vaag en daar is nie sekerheid oor die komplikasies en langtermyn-gevolge van hierdie prosedures nie. Dikwels veroorsaak hierdie prosedures ook jarelange pyn.
As jy glo dat jou geslagsorgane so lelik is dat dit plastiese chirurgie benodig, is dit wenslik om met ’n seksuoloog of sielkundige wat in seksualiteit spesialiseer te gesels. Daar is dikwels dieper onderliggende oorsake hiervoor.
Daarom sien ek gereeld vroue in my praktyk wat die prosedure ondergaan het, maar steeds seksuele selfbeeldprobleme het. ’n Negatiewe seksuele liggaamsbeeld hou dikwels verband met vorige negatiewe seksuele ervarings, skuld en skaamte, negatiewe seksopvoeding of seksuele trauma.
In my meer as 20 jaar van ervaring as seksuoloog wat in vroulike seksuele pyn spesialiseer, weet ek dat die enigste suksesvolle langtermyn-behandeling is wanneer seksuele pyn in ’n multi-professionele span aangespreek word.
’n Seksuoloog, mediese seksuele spesialis en veral ’n fisioterapeut wat in bekkenvloer-disfunksie spesialiseer, is nodig. Daar is ’n groot verskeidenheid seksuele pyn-disfunksies, wat elkeen ’n spesifieke behandelingsprogram vereis.
Dikwels gaan dit oor senuwees of spierspasmas wat nie deur chirurgie aangespreek word nie. Die persepsie dat die vaginale opening te klein of te groot is, is dikwels net dit – ’n verkeerde persepsie. En indien daar wel so ’n probleem is, word dit suksesvol behandel deur spesialis-fisioterapie. Indien jy ongemak of pyn tydens seks ervaar, gaan sien ’n seksuoloog. Die probleem moet reg gediagnoseer word om die beste behandelingsplan te volg.
Ongelukkig sien ons ook al hoe meer dat nie-medici (leke) sulke operasies uitvoer. Weet dat ’n persoon wat nie by die Mediese Raad (HPCSA) geregistreer is nie en so ’n operasie uitvoer, die wet oortree en dat jy nie net jou toekomstige gesonde seksuele funksionering nie, maar ook jou lewe, in gevaar stel. Solank jou geslagsorgane werk, is hulle perfek. Moenie dat iemand sommer aan jou genitalieë sny nie.
- “My maat wil BDSM probeer, soos in die fliek Fifty Shades of Grey.”
Fifty Shades of Grey het gewone paartjies skielik bewus gemaak van die wêreld van BDSM (“bondage, discipline, sadism and masochism”). Die positiewe uitvloeisel is dat daar nou openlik gepraat kan word oor hierdie vorm van seksuele spel, alhoewel dit nie vir almal ewe aanloklik klink nie. Baie paartjies beoefen egter BDSM.
En soos alles met betrekking tot seksualiteit, is daar ’n skaal van die basiese tot die baie gevorderde. ’n Klap op die boud tydens die seksuele daad of om jou maat te blinddoek (iets wat al die ander sintuie dan verskerp), lê waarskynlik aan die een kant van die spektrum . . . terwyl iemand se “slaaf” wees of die ervaring van erge fisiese pyn, soos naalde wat onder die vel ingesteek word, flaggulasie met sekere voorwerpe, iemand brand met kerswas en so meer meer na die ander kant van die skaal neig.
Die probleem met die hele 50 Shades-beweging is egter dat die regte inligting nie deurgegee word nie en dat mense wat nuut hieraan voorgestel word ’n wanpersepsie kry oor wat dit behels. Daarom sien ek toenemend paartjies in my spreekkamer wat verhoudings- en seksuele probleme kry omdat hulle nie die regte inligting het nie.
Die meeste mense sal nie pyn met seksuele stimulering en bevrediging vereenselwig nie, maar vir ander is dit ’n ander vlak van seksuele intimiteit, vertroue en seksuele genot. Ek glo nie ’n mens behoort of kan enigsins veroordelend wees in terme van mense se seksuele voorkeure nie. Dit gaan dus nie oor die reg en verkeerd hiervan nie, maar oor die hoe wanneer julle besluit om daarmee te eksperimenteer.
In wese gaan dit oor rolle wat ingeneem word, waar die een persoon totaal in beheer is en die ander een beheer word, binne baie spesifieke reëls en grense. Sommige mense sal eerder verkies om in beheer te wees en pyn uit te deel, terwyl ander verkies om dit te ontvang en sommige albei rolle gemaklik inneem.
Dit is wel belangrik om te weet dat jy altyd jou maat se wense en grense moet respekteer, en indien jou maat nie te vinde is hiervoor nie, moet jy dit bloot aanvaar. Soos BDSM in 50 Shades uitgebeeld word, grens dit egter meer aan mishandeling as BDSM. Daar word byvoorbeeld nie van “veilige woorde” gebruik gemaak nie. Daar is subtiele en minder subtiele manipulering, en ’n aanvanklike magsverskil wat teen die kern van BDSM indruis.
Soos vir 50 skakerings van grys of vir die hele reënboog behoort die volgende struktuur of veilige grense te geld: Albei partye moet toestem (sonder enige manipulering of oorreding), maak seker dat julle die regte inligting het en dat dit niemand emosioneel skade berokken of fisies bedreig nie.
Indien julle dus voel dit is iets waarmee julle wil eksperimenteer, is openlike, eerlike kommunikasie hieroor belangrik, maar maak seker julle verstaan waaroor dit werklik gaan. Weet ook dat julle die hele pragtige reënboog van seksuele spel en plesier kan ervaar sónder BDSM.
- “My maat beweer hy is ’n seksverslaafde.”
Wanneer beroemdes soos oud-president Bill Clinton, Tiger Woods en Arnold Schwarzenegger sê dat hulle talle seksuele indiskresies eintlik seksverslawing is, is dit maklik om te dink dat hulle slegs verskonings uitdink om verantwoordelikheid vir hul gedrag vry te spring.
Voeg daarby die ontsettende pyn van die eggenoot/geliefde, wat besef dat daar waarskynlik ’n mate van geheimhouding en verraad oor ’n tydperk plaasgevind het, en ’n mens het ’n kookpot van menings en gevoelens. Verhoudings en gesinsbande kan onder hierdie omstandighede groot skade berokken word.
Ons persepsies van mense met verslawings is gewoonlik dat ons aanvanklik glo dit is suiwer morele verval of pure “slegtigheid” aan die kant van die verslaafde. Só was dit vir dekades die geval met alkohol, dwelms en selfs rook en kompulsiewe dobbelary.
Soos wat die wetenskap ons kennis verbreed, het die besef gekom dat verslawing aan enige middel eintlik ’n volwaardige diagnoseerbare siekte van die brein is. Vandag is kenners op hierdie gebied dit eens dat verslawing aan enige middel ’n komplekse siektetoestand is wat dikwels saam met ernstige trauma of geestesgesondheidsprobleme soos onder meer angs, depressie en aandagafleibaarheid (ADD) kan voorkom.
Oorweeg die volgende:
- Seksverslaafdes gebruik hul “siekte” sodat hulle nie verantwoordelikheid hoef te neem vir hulle gedrag nie: Die blote feit dat iemand met ’n siektetoestand gediagnoseer word, neem geen gevolge van hom weg nie. Inteendeel – dit vereis juis ’n groter verantwoordelikheid van die persoon om die siektetoestand, soos met enige ander siektetoestand, te bestuur en te beheer. Behandelingsprogramme fokus dus op die neem van verantwoordelikheid vir vorige gedrag, die aanleer van gesonde seksualiteit en om verhoudings in die toekoms binne integriteit te bou.
- Dit is seker ’n lekker verslawing om te hê: Net soos wat dit lekker is om soms ’n glas wyn te drink of een aand te gaan uiteet en dobbel, is dit natuurlik om ’n mens seksueel gesond te kan uitleef. Enigiemand wat ’n alkoholis, ’n kompulsiewe dobbelaar of ’n dwelmslaaf is, of so iemand liefgehad het, sal egter kan getuig dat dit verseker nie lekker is nie. Só is dit ook nie lekker om beheer te verloor oor jou seksuele uitlewing nie. Die voorkoms van depressie en selfmoordgedagtes is baie hoog by sulke mense.
- Seksverslaafdes doen hul gesinne groot leed aan: Verslawing is altyd ’n geval van “pyn bring pyn”. Die verslaafde sit met onverwerkte pyn en leemtes, wat hulle dan op maniere probeer verdoof, vergeet of verplaas wat hul geliefdes werklik seermaak. In die geval van seksuele verslawing het dit gewoonlik te doen met geheime wat gehou word, ’n bedekte seksuele lewe, die gevaar van seksueel oordraagbare siektes en die skending van vertroue. Dit is daarom noodsaaklik dat die verslaafde nie alleen in die proses van behandeling betrek word nie. Die gesin moet in ’n tyd van ernstige trauma en soms ontnugtering ondersteun word.
Oorweeg dus jou behoeftes deeglik en meet dit aan die verwagtinge wat jy vir jouself skep uit dit wat jy op televisie sien en in die media lees. Onthou, sulke inhoud word geskep om te verkoop en is nie ’n ware weerspieëling van die realiteit nie. Skep in die veilige raamwerk van jou huwelik jul eie realiteit waarmee julle twee tevrede is.
Deur Dr Elmari Mulder Craig, ’n Europees-gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingskenner.