Almal het seksuele fantasieë, oftewel verbeeldingsvlugte. Maar alle verbeeldingsvlugte is nie van dieselfde stoffasie gemaak nie . . . As ’n getroude Christen-paartjie is dit julle taak om hierdie fantasieë gesond te hou sodat dit julle huwelik nie negatief beïnvloed nie.

Promosie

God het ons as seksuele wesens geskep, sê die lewensafrigter, berader en outeur Shannon Etheridge. Seksuele opwekking begin in die brein en ons kan nie ’n klimaks bereik terwyl ons in koppe besig is om ’n inkopielys op te stel nie . . . Beteken dit dat seksuele fantasieë gesond en normaal is – en selfs aangemoedig behoort te word? Of is seksuele fantasieë niks minder nie as egbreuk? INTIEM het gaan ondersoek instel.

Ja, daar is niks fout met seksuele fantasieë nie

As kind het jy waarskynlik dikwels die boodskap gekry – openlik of meer subtiel – dat seks, insluitende seksuele fantasieë tussen jou en jou eggenoot, allesbehalwe heilig, suiwer en natuurlik is. Daarom ervaar ons soms skuldgevoelens, skaamheid en geïnhibeerdheid wanneer ons sulke fantasieë het. Sulke negatiewe emosies is nie bevorderlik vir ons seksuele gesondheid nie.

Promosie

Om seksuele fantasieë oor iemand anders as jou eggenoot te hê, soos om hom met iemand uit jou verbeelding óf met iemand wat regtig bestaan te vergelyk, en op jou lewensmaat se seksuele tekortkominge te fokus, is verkeerd. Om onvergenoegd te raak met die realiteit omdat jou fantasieë soveel meer opwindend is – dít is wanneer fantasieë meer kwaad as goed kan doen.

Maar om herinneringe oor jou en jou man (of vrou) se mooiste seksuele ervaringe te koester, te wonder oor hoe jý volgende keer seks kan inisieer en meer spontaan en vrygewig kan wees – sulke dinge kan beslis julle huwelik se vreugdesvure hoër laat brand, mits jy God vra om jou Sy perspektief op jou seksualiteit te gee, meen Shannon in haar boek The fantasy fallacy: Exposing the deeper meaning behind sexual thoughts.

Sy meen dat seksuele fantasieë nie noodwendig sleg is nie. Dis vensters in jou psige wat jou waardevolle inligting gee oor jou gedagtes en wat seksuele energie in jou huwelik kan bring. “Aangesien God die een is wat jou geskep het om ’n seksuele wese te wees, vertrou God om jou te wys wat jou seksuele fantasieë beteken en hoe jy daardie inligting kan gebruik om jou seksualiteit op gesonde maniere te gebruik wat jou sal seën eerder as skade aanrig,” meen sy.

Die Bybel- en huwelikskenner Rich Murphy sê indien fantasieë nie deel is van julle sekslewe nie, kan dit gebeur dat julle in ’n groef beland en verveeld raak met seks – julle kan selfs van mekaar begin wegdryf. Ons mag oor ons man of vrou fantaseer. Ons kan deur die loop van die dag dink aan dinge wat ons graag daardie aand in die bed saam met ons eggenoot wil doen. Ons mag selfs fantaseer oor “lawwe” dinge wat ons nooit regtig sal doen nie, soos seks op ’n parkbankie!

“Ons huwelike moet hoofstukke by hooglied kan voeg,” sê Dewaldt de Kock, leraar in Stellenbosch. “Om jou maat se fantasieë uit te leef, kan baie woema en pret in julle huwelik sit. Jy wil mos jou maat se diepste begeerte wees. Begin deur jou maat die middelpunt jou fantasieë te maak. dit vir hom of haar. Gebruik die volgende stamsin om jou te help: ‘Een manier waarop jy my fantasieë laat waar word, is wanneer jy dít doen of wanneer jy dát gedoen het.’ Laat jou maat jou oor sy of haar fantasieë vertel. Dit sal jou verbaas om te hoor wat jou maat se fantasieë is!”

Hy sê voorts: “Hierdie openheid skep ook veilige kommunikasie om oor nuwe fantasieë te praat. Dit gebeur maklik dat jou maat, wat seks betref, voel asof hy of sy nie goed genoeg is nie. In so ’n geval sal dit ’n groot verskil maak as jy jou maat vertel waaroor jy met hom of haar fantaseer. Dit kan ’n heerlike gesprek afgee en help om mekaar beter te verstaan en mekaar se behoeftes te vervul. Maak ’n bucket list en maak seker dat julle die detail van julle onderskeie fantasieë goed bespreek. Onthou: jou maat is ’n misterie wat jy oor en oor kan ondek. Geniet mekaar ten volle.”

Nee, seksuele fantasieë is verkeerd

Vir Elna Goosen* het haar man se seksuele fantasieë – wat die produk was van pornografie op die Internet, byna hul huwelik vroeg-vroeg al vernietig. “Hy het vir my gesê ek moet maar net daarmee deal, hy gaan nie daarmee ophou nie. Hy kon géén kwaad daarin sien nie. Vir hom was dit so onskuldig soos videospeletjies of om aanlyn koerant te lees. Ek het net geweier om daarmee te kompeteer. Ons het baie daaroor baklei en dit het ’n diep kloof tussen ons veroorsaak, maar uiteindelik het hy dit oorwin.”

Die verhoudingskenners dr Gary Smalley en Ted Cunningham waarsku in hul boek Die taal van seks teen die roofdier genaamd fantasieë. As jy jouself toelaat om te dink hoe dit in iemand anders se arms sal wees en hoe die persoon byvoorbeeld klein dingetjies sal raaksien wat jou maat nooit eens raaksien nie, beweeg jy op baie dun ys. Dit raak soos ’n dwelm waarvan jy later net meer en meer wil hê. Seksuele versoekings is volop, maar jy moet leer en daaraan werk om jou gedagtes te beheer.

Tjaart van der Walt, ’n kliniese sielkundige van Mosselbaai, sê alhoewel fantasieë nie noodwendig sleg of verkeerd is nie, kan dit soms ’n negatiewe uitwerking op jou, jou lewensmaat of jul verhouding hê. “So byvoorbeeld kan ’n aangename fantasie met verloop van tyd nie meer stimulerend genoeg wees nie en moet dit dan al meer uitgebrei word om seksuele begeertes te bly bevredig. Dikwels oorskry dit dan die grense van aanvaarbaarheid en begin skuldgevoelens ontwikkel, wat uiteindelik die teenoorgestelde uitwerking het van wat oorspronklik met die fantasie beoog is. Verder kan fantasering vir sekere mense net nie meer genoeg wees nie, en hulle kan die verbeelding omsit in werklikheid – met tragiese gevolge.”

Hy sê voorts: “Persone met ’n geskiedenis van seksuele trauma kan vind dat pogings om te fantaseer, geneig is om ou traumatiese gebeure spontaan weer te herroep en dan te herbeleef, spesifiek indien dit nog nie in psigoterapie verwerk is nie. Soos die meeste aktiwiteite wat plesier en afleiding bied, kan fantasieë ook verslawend wees. Jy sal weet as dit die geval is wanneer jy eenvoudig net nie kan ophou nie en dit ’n negatiewe impak op jou of jou verhouding het. Jaloesie kan natuurlik ook by lewensmaats ontlok word indien jou verbeeldingsvlugte gedurig ’n spesifieke ander persoon betrek. Hulle kan verwerp voel en twyfel of hulle in jou oë goed genoeg is.”

Is dit ’n grys area?

Dr Christa Benadé-Thom, algemene praktisyn en pastorale versorger van Durbanville, verduidelik dat seksuele fantasieë ’n baie gekompliseerde kwessie is. “Hoe haal ’n mens druppels uit water? Hoe haal ’n mens drome/verbeelding/ fantasieë uit die mens? Die prys sou wees: Dorheid, ’n gebrek aan kreatiwiteit en verveling op alle vlakke van menswees. In seksuele en intieme verhoudings is die vermoë om te fantaseer noodsaaklik om geur te gee aan die oorbekende en die onbekende veilig te verken. Ons sou dit die brein se speelgrond of oefenveld kon noem vir die speelse/ligte en wilde/donker kant van ons erotiese bewussyn.

“Wanneer die inhoud van fantasieë gekoppel word aan emosies of gedrag wat die self, die ander of die verhouding verneder/skend of vernietig, kan fantasieë toksies raak. Verwydering in verhoudings kan volg as gevolg van totale uitsluiting van die maat (seks met die fantasie, masturbasie ten koste van die maat) of die afbreek van gerespekteerde grense. Die keuse lê dus by die inhoud van fantasieë en die uitspeel daarvan in seksuele gedrag – ’n keuse wat ongelukkig soms gekaap word deur die brein se intense reaksie op pornografie. Dopamienpieke (so vinnig soos die kliek van ’n rekenaarmuis) en die vorming van nuwe neuronnetwerke kan lei tot gedrag wat verslawend is en vernietigend kan inwerk op verhoudings.”

Hoe fantaseer jy op ’n gesonde manier?

Self-erkenning: Die eerste slagyster waarin ons dikwels trap, is om te maak asof ons geen seksuele fantasieë het nie. Jy kan egter nie aan ’n kwessie werk of waak teen die gevare daarvan as jy nie kan erken dat dit bestaan nie. Skuif eers die skuldgevoelens en vrese opsy. Hierdie tipe gedagtes is menslik – wat jy daaromtrent dóén, is wat saak maak.

Praat met jou maat daaroor: Hê ’n oop en eerlike gesprek met jou maat oor julle albei se fantasieë. Is dit iets wat julle graag sal wil probeer? Voel julle dat dit in julle huwelik hoort? Moenie jou maat veroordeel of verkleineer nie – soek positiewe en veilige maniere om jou sekslewe interessant te hou.

Stel gesonde grense: Hoe ver is julle bereid om julle fantasieë te laat gaan? Watter van die fantasieë wil julle uitleef en watter nie? Dit is belangrik dat julle grense moet hê sodat jy nie dinge doen wat jou maat ongelukkig of seer maak nie. Respekteer mekaar se limiete en, belangrik, moenie jou opruk as jy nie jou sin kry nie.

Beperk jou fantasieë tot jou maat: Fantasieë oor vreemdelinge – mense wat nie bestaan nie of ’n bekende persoonlikheid – is gevaarlik. Maar fantasieë oor mense wat jy wel ken (vriende, kollegas of die buurman) is selfs nóg gevaarliker en moet heeltemal vermy word. Só ’n fantasie kan ’n deur oopmaak vir ’n potensiële affair. Vermy dit ten alle koste!

Onderskei tussen realiteit en fantasie: Hetsy julle dit by dagdrome hou of julle fantasieë fisies uitleef, onthou altyd dat dit nie realiteit is nie. Dit is iets wat bloot tydelike plesier gee. Moenie dat dit ’n obsessie raak nie, anders kan dit veroorsaak dat jy meer uit jou fantasie wil hê as wat goed is vir jou huwelik.

Vertrou jou instink: Wat is reg en wat is verkeerd wanneer dit by seksuele begeertes en die uitleef daarvan kom? Ons het elkeen ’n klein stemmetjie in die binnekant wat vir ons sê wanneer ons besig is met verkeerde dinge. Luister as daardie stemmetjie praat. En as jy voel dat jou seksuele fantasieë jou lewe verwoes, klop dadelik aan by ’n seksuoloog of berader vir hulp.

 

Deur die INTIEM Redaksiespan

Addisionele bronne: marriage.about.com, www.todayschristianwoman.ccom, www.maranathalife.com, www. crosswalk.com.