Voel jy of romanse en intimiteit ‘n verlangse herinnering in jul huwelik is? Asof jy en jou maat maande laas werklik kontak met mekaar gemaak het op ‘n betekenisvolle vlak? Dit hoef nie so ‘n uitdaging te wees nie.
In die perfekte wêreld sou jy en jou maat elke aand saam ‘n glas wyn drink, terwyl die baba-oppasser die kinders deur die bad jaag. Julle sou laatnag-seks hê omdat julle eers tienuur soggens begin werk en jul persoonlike assistente sou alle administrasie liasseer en elke stressituasie ontlont.

Promosie

Julle sou weekliks ‘n date night hê, elke maand vir ‘n naweek weggaan en jaarliks ‘n romantiese, luukse maandelange vakansie iewers op ‘n eiland of ‘n seiljag hê… maar ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie, en die realiteit is dat dit ‘n héngse uitdaging is om soms net skrams met jou maat skouers te skuur!

Wanneer boeke jou waarsku om op ‘n gereelde basis met jou maat te konnekteer, laat dit jou keel toetrek, want W-A-N-N-E-E-R moet jy dit doen? Julle is moeg, julle is gestrek so ver soos ‘n bolletjie Prestik kán strek en julle is méns…
ONTSPAN.

Gewoonlik is die eise wat ons aan onsself en ons huwelik stel só onrealisties dat teleurstelling onvermydelik is. Maar kenners sê dat ‘n mens moet ag slaan op die 5:1 reël, omdat hierdie eenvoudige beginsel selfs verder as daardie bolletjie Prestik in jou huwelik kan strek… vyf positiewe interaksies vir elke negatiewe interaksie. Navorsing toon ook dat ongelukkige paartjies (dié paartjies wat gewoonlik in die skeihof beland) nie eens één positiewe interaksie het vir elke negatiewe een nie.

Promosie

Moenie dat ons jou van voor af benoud maak nie. Jy het nie dramatiese liefdesgebare nodig om die reël na te kom nie. Dit hoef nie veel tyd, moeite of energie te kos nie. Ons gee jou elf maniere waarop jy in minder as een minuut met jou maat kan konnekteer. Doen dit gereeld en jy sal dit later kan aftiek sonder om te dink en só sal die negatiewe interaksies uitgekanselleer word asof met ‘n aftrek-order…

1. Vra jou maat elke dag een oorspronklike vraag. Elke mens wil belangrik voel en om jou maat elke dag een vraag te vra in plaas van die gebruiklike, gewoonte-vormende ‘Hoe was jou dag?’, kan wondere verrig. Dit wys dat jy nie sy (gebruiklike, gewoonte-vormende) antwoord verwag nie, maar werklik belangstel in wat hy vandag ervaar het. Dit hoef nie diep sielsvrae te wees nie, maar dit moet wys dat jy gedink het oor die vraag en werklik uitsien na die antwoord wat jy gaan kry.

2. Trek jou nagklere voor slaaptyd uit. Navorsing toon dat paartjies wat kaal slaap gelukkiger is met hul seks lewens as diégene wat van kop tot tone geklee is. As dit vir jou té uitdagend is, oorweeg om dit net een keer per week te doen.

3. Vóór elke besluit wat jy neem, vra jouself in jou stilligheid een vraag: Is dit goed vir my huwelik? En antwoord jou vraag intuïtief sonder om té veel daaroor te dink of dit te probeer regverdig.

4. As julle iets gedoen het waarop julle, as ouers, trots is, gee mekaar ‘n hi-five! Of dit nou is om boetie sover te kry om deur jul oorredings tegnieke sy broccoli te eet, en of dit jul jongste is wat pas leer lees het… vier die hoogtepunte van ouerskap deur ‘n eenvoudige hi-five, vet glimlag of stywe druk. Dit bevestig jul eenheid as ‘n span!

5. Vier een minuut van stilte in mekaar se geselskap. Makliker gesê as gedaan? Ons weet. In die harwar van kinders grootmaak, is daar nooit een minuut se stilte nie, tensy julle ‘n secret spot kan ontdek… die besemkas, die spens, die badkamer… kry ‘n wagwoord en wanneer dinge te veel raak, sê byvoorbeeld ‘Kode rooi! ‘en vlug vir net ‘n minuut lank na daardie geheime plek waar julle mekaar kan vashou, in stilte… voor julle terugkeer na die harwar!

6. Herleef ‘n herinnering. Sê so nou-en-dan vir jou maat: “Onthou jy die keer…?” en herleef ‘n spesiale oomblik deur ‘n herinnering te herroep.

7. Gaan slaap op dieselfde tyd. Miskien kan julle dit nie elke aand doen nie, maar probeer dit minstens ‘n paar dae van die week. Dit gee julle kans om net saam af te skakel en te gesels. Boonop skep dit ook die geleentheid vir seks.

8. Skryf ‘n mooi boodskappie op sosiale media oor hoe oulik jou maat is. Dit hoef nie ‘n liriese, digterlike stuk te wees nie, net iets eenvoudig wat die essensie van jou liefde vir jou maat saamvat.

9. Koop vir jou maat ‘n lotery-kaartjie en plak dit vas teen sy/haar rekenaarskerm.

10. Gebruik ‘n troetelnaam. Wanneer ‘n paartjie uitgaan, is hulle geneig om mekaar op ‘n liefdesnaam te noem… daardie gebruik vlieg baie gou by die deur uit wanneer saaklikhede afgehandel moet word. Gebruik jul ou troetelnaam vir jou maat of sommer ‘n splinternuwe een.

11. Gee jou maat ‘n stywe druk – nie om hallo of totsiens te sê nie. Sommer net vir geen rede nie…

Addisionele bronne: www.psychologytoday.com; www.rd.com; www.happyyouhappyfamily.com