Soms flikker die gevaarligte in jou kop. Ander kere flikker daardie einste gevaarliggies – op jou selfoon… as jy gedink het elektroniese flirtasies is skadeloos, dink weer.
Jy sien die liggie op jou selfoon flikker – jy het ’n boodskap. Jy kan nie wag om te loer of dit Henk is wat reageer op jou vorige boodskap nie. Jy het gestuur: “Ja, jy kan maar vra – ek sal jou sê as dit té persoonlik is.” Alles nog net ’n lekker veilige geselsie oor ditjies en datjies van die lewe. Jy lees sy boodskap en word rooi in jou gesig: “Wat wil jy hê moet jou lover aan jou doen?” Jy voel ook sommer dat jou onderlyf warm word sonder dat jy dit kan keer. Só lanklaas het enigiemand anders as jou eie man of vrou jou só laat voel. Jy tik jou antwoord…
Die magdom plekke van versoekings
In ons moderne lewe het elektroniese kommunikasie absoluut deel van elkeen van ons se lewens geword. Ons het allerhande apparate – selfone en rekenaars waarop ons enige tyd van die dag of nag ’n klokkie hoor lui of ’n liggie sien brand wat beduie dat daar nóg ’n boodskappie van ’n mens êrens is wat gelees kan word. Dit maak dit só maklik om aan die gesels te raak – en die geleenthede duik in allerhande vorms oral op: Geselsplekke (chat rooms) met kitsboodskappe, date rooms, advertensies (wat onverwags opduik) van individue wat wil gesels of wat eensaam is, WhatsApp, sosiale netwerke…
Al hierdie vorms van kommunikasie is dinge wat ons in elk geval wel in ons lewens het en wat ons ook gebruik om met al die belangrike mense in ons lewens te kommunikeer – ook met ons mans of vrouens – daar is niks met dié vorm van kommunikasie verkeerd nie! Ons gesels op hierdie manier met mense wat belangrike rolle speel in ons lewens, ou of nuwe kennisse en soms met vreemdelinge.
Langafstand-seks
Mense wat in huwelike is waar een van die partye dikwels weg van die huis af moet werk, sal vertel dat elektroniese kommunikasie soms die wonderlikste manier is waarmee hulle ook op ’n seksuele vlak kommunikeer – video call vir liefie en wys hom/haar jou lyf, tik vir hom/haar die een na die ander boodskap op die foon totdat hy/sy laat weet: “Ek kan dit nie meer hou nie – my hele lyf begeer jou nou só! Jy laat my ’n orgasme kry en jy is nie eens naby my nie.”
Natuurlik kan paartjies sulke metodes gebruik om wel ’n mate van romantiese en selfs seksuele kontak met mekaar te behou wanneer hulle fisies nie naby mekaar is nie. Die sleutel hier is getrouheid aan die ooreenkoms wat julle met mekaar het. Gewoonlik kom getroude paartjies ooreen dat hulle getrou sal wees aan mekaar – dit beteken gewoonlik getrouheid aan die verhouding. Dit beteken vir die meeste mense dat hulle nie die verhouding sal blootstel aan dinge wat vir die verhouding riskant kan wees nie. Gewoonlik beteken dit ook dat hulle onderneem om net met mekaar seks te hê, net vir mekaar te wys dat hulle belangstel in mekaar en dat hulle lojaal sal wees teenoor die verhouding en teenoor die ander party – al is daar versoekings om ontrou te wees.
Hoekom werk dit?
Die mens se seksuele reaksie hang baie af van wat in jou brein aangaan. Hoe duideliker die prentjie is wat ons in ons koppe vir onsself kan indink, hoe warmer raak die omgewing, hoe meer pulseer die onderlyf…
Die gehalte van ’n kuberseks-ervaring hang af van die vermoë van die een party om vir die ander een ’n baie duidelike, gedetailleerde, stimulerende prentjie te skets van ’n seksuele gebeurtenis. Die prentjie wek julle albei seksueel op en een of beide kan masturbeer terwyl hierdie prentjie voortduur.
Die gevare van elektroniese kommunikasie
Die moeilikheid met enige vorm van elektroniese kommunikasie is dat dit unieke eienskappe het waaroor ons moet dink en van bewus moet wees sodat ons met oop oë kan kies waarby ons betrokke wil raak.
As dit kom by elektroniese kommunikasie, kan jy met vreemdelinge gesels, jy kan met jou kollegas na-ure kommunikeer, jy kan maak of jy iemand anders is en jy kan dit ook waag om enige iets te sê, want jy is anoniem agter die skerm en het dalk so ’n klein bietjie meer waagmoed as wat jy sou gehad het in ’n persoon-tot-persoon situasie.
Jy mag op ’n baie onskuldige manier begin gesels met iemand op ’n elektroniese vlak en dit kan geleidelik in ’n meer ernstige, selfs romantiese of seksuele verhouding ontaard. Dit kan kommunikasie bly wat net op ’n elektroniese vlak plaasvind, maar dit gebeur ook dikwels dat mense naderhand moeite doen om mekaar wel fisies te ontmoet en die verhouding dan fisies voortsit. Dit mag ontwikkel in ’n intense emosionele verhouding – al is dit net elektronies – en dan is jy dalk al oor ’n lyn met jou hart, al is jou lyf fisies nog nie oor daardie lyn nie. Dis dikwels vir mense moeilik om te sien presies wanneer steek hulle die lyn oor na die kant van skadelik toe.
Die rooi vlaggies
As jy met iemand anders as die persoon aan wie jy getrou wil wees (en wie jy wil hê moet aan jou getrou wees) gesels op enige plek in die elektroniese wêreld van kommunikasie, is daar ’n paar dinge wat ’n rooi vlag in jou gemoed behoort te laat opgaan:
- Wanneer die geselsies ’n seksuele agenda het. As jy met ’n ander persoon as jou maat oor seksuele behoeftes en moontlikhede gesels, is jy baie naby daaraan om met jou hart oor ’n streep te trap wat jou verhouding met jou man/vrou in gevaar stel.
- Wanneer jy weet dit waaroor jy en die ander persoon daar gesels/getik het, sal nie vir jou huweliksmaat aanvaarbaar wees nie of dit sal hom/haar seermaak.
- Wanneer jy agterkom jy kan nie wag om weer van die ander persoon te hoor nie of jou hart bons wanneer jy sien dit is wel hy/sy.
- As jy dit oorweeg om goed te doen wat voorheen vir jou onaanvaarbaar was.
- As jy agterkom dit verg baie van jou tyd, jy is preoccupied, of jy dink onmiddellik daaraan wanneer jy wakker word in die oggend of saans nie aan die slaap kan raak nie omdat jy fantaseer oor die persoon met wie jy gesels.
- As jy of die persoon met wie jy gesels, begin flirt. Flirt beteken gewoonlik dat een persoon vir die ander persoon wil wys dat hy/sy beskikbaar is en belangstel in die ander persoon. Dis ’n belangrike lyn waaroor jy hier trap – al klink die boodskappie vir jou onskuldig.
- Wanneer dit ’n belangrike deel van jou persoonlike behoeftes bevredig. Ondersoek jouself baie eerlik as jy agterkom dat jy dinge met hierdie persoon deel wat jy nie met jou man deel nie of dat hierdie persoon dele van jou verstaan wat jy voel jou man/vrou nie verstaan nie.
- Wanneer jy met die ander persoon praat oor probleme in jou verhouding met jou huweliksmaat of oor dinge wat hy/sy doen wat jou pla.
- As ’n vriendin of familielid van jou agterkom jy spandeer baie tyd aan hierdie geselsvriend en hul kommer daaroor uitspreek.
- As jy agterkom jy dink verskonings uit, rasionaliseer dat dit regtig okay is of regverdig jouself op allerhande maniere. “Dis net onskuldige geselsies” of “Hy/sy is mos ver – hoe sal dit nou ooit in iets meer ernstig ontwikkel? Ek kan maar gesels, dit sal nie skade doen nie.”
- Wanneer jy dit geheim hou. Die oomblik wat jy jou geselsery doelbewus geheim hou vir jou huweliksmaat of dit gou uitvee nadat dit gestuur is, moet jy jouself afvra: “Wat is ek eintlik besig om te doen?”
- As jou intensies verwronge is – jy bied dalk vriendskap aan vir die ander persoon, maar dink binne jouself dat jy die persoon lekker gaan mislei of jy jok doelbewus oor jou huwelikstatus sodat hy dink jy is eintlik beskikbaar, want dis vir jou opwindend om gejag te word.
- Wanneer jy vir die ander persoon moet jok oor iets – jou huwelikstatus, hoe oud jy is (hoeveel jy weeg!), of jy kinders het. Dit is al klaar ’n teken dat jy nie eens aan jouself getrou is nie. Jy trap êrens hier oor die lyn van ontrou wees aan die verhouding ook.
- Wanneer jy die ou/meisie wil ontmoet, is dit natuurlik ’n groot rooi vlag.
- As jou man/vrou ongelukkig raak oor die hoeveelheid tyd wat jy op jou foon of rekenaar met geselsery spandeer. Ondersoek jouself net so ’n bietjie van ’n afstand af en probeer vanuit iemand anders se oë sien hoe jou gedrag voorkom.
- As jy lus het om sexy foto’s van jouself te stuur of die ander persoon stuur vir jou foto’s van hulself. Vra jouself af of jy daarvan sou hou as jou man/vrou sulke foto’s van ’n vriendin/vriend van hom/haar ontvang?
- Wanneer jy minder behoefte daaraan het om te werk aan jou huwelik omdat die elektroniese geselsies vir jou genoeg bevrediging gee aan kontak met mense. Jy sal dan dalk agterkom dat jy al hoe minder emosioneel kontak probeer maak met jou eie maat.
- Wanneer jy na ’n geselsie of kontak met hierdie ander persoon effens vuil voel of skaam is oor wat gebeur het, of hoop die ander persoon herken nooit die deel van jouself wat jy blootgestel het nie.
- As jy enkellopend is en jy het nét met elektroniese ouens/meisies flirtasies en/of seks, kan jy jouself dalk ook ’n bietjie ondersoek of hierdie patroon goed is vir jou en of jy nie dalk hulp nodig het om te leer om emosioneel intiem te wees met mense nie.
Wat as jy vermoed jy het reeds oor die lyn getrap en wil omdraai?
- Volg jou intuïsie! As jou gut feeling vir jou sê iets wat jy doen is skadelik vir jou, vir jou maat of vir julle verhouding – hou kop en dink mooi daaroor.
- Laat weet die ander persoon jy wil onttrek en jy wil nie eens hoor wat hulle reaksie daarop is nie. Dis te maklik om weer teruggetrek te word met vleitaal of manipulasie.
- As jy net naby oor-die-lyn-trap is – deel dit met jou maat. Wys hom/haar wat die ander persoon vir jou getik of gevra het, maak dit oop. Wys dan ook dat jy vir die ander persoon ’n boodskap stuur wat sê jy wil ophou daarmee en dat jy dit met jou maat gedeel het.
- Kry professionele hulp as jy sukkel om op te hou hiermee – dalk het jy seergekry in jou lewe en hierdie elektroniese flirtasie is ’n ongesonde gewoonte waarmee jy nie kan ophou sonder professionele hulp nie.
Dis lekker om te gesels, dis lekker om vriende te hê en dis lekker om gevlei te word. Dit is ook maklik om baie geïnteresseerd te raak wanneer iemand anders, op die veilige elektroniese manier, belangstelling in jou toon! Wees oop oë hiervoor en moenie jouself bluf dat alles wat jy elektronies doen veilig is vir jou en vir jou verhouding met jou man nie. Jy trap dalk êrens oor ’n lyn en dinge kan buite beheer begin sneeubal totdat jy respek vir jouself verloor of dalk so ver van jou man/vrou af groei dat julle moeilik die skade kan herstel.
Deur Wilmé Steenekamp