“Egskeiding is nie ’n vloed nie — dit is baie klein druppels.”

Promosie

Ek het onlangs geluister na ’n diep, eerlike gesprek tussen Mel Robbins en James Sexton — ’n egskeidingsprokureur wat al jare lank mense sien wanneer hul huwelike begin uitmekaar val.

Dis nie ’n maklike gesprek nie. Dis nie romanties of sag nie. Dis eerlik. Rou. Prakties. Die tipe gesprek wat jou nie noodwendig laat goed voel nie… maar jou laat dink.

En tog, tussen alles wat hy sê, lê daar iets verrassends eenvoudig:

Promosie

Ons weet hoe om lief te hê.
Ons vergeet net om dit elke dag te doen.

Druppels van teleurstelling

Ons dink dikwels ’n huwelik breek in een groot oomblik. ’n Groot fout. ’n Groot krisis. Maar volgens hom gebeur dit amper nooit so nie. Hy beskryf dit as ’n vloed wat nie skielik kom nie, maar stadig opbou — druppel vir druppel.

Dis die klein dinge wat ophoop.
’n Oogrol wat nie aangespreek word nie.
’n Sug wat meer sê as woorde.
’n Foon wat belangriker raak as die mens langs jou.
’n Gesprek wat wag tot later… en later kom nooit.

Dis nie dramaties nie. Dis stil. Dis stadig. Dis amper onsigbaar. Tot dit nie meer is nie.

En dalk is dit presies hoekom dit so gevaarlik is.

Watter water?

Een van die beelde wat my die meeste bybly, is dié van visse in water. As jy vir ’n vis vra: “Hoe voel die water?” sal hy waarskynlik vra: “Watter water?” Want hy is so gewoond daaraan, hy sien dit nie meer raak nie.

En is dit nie presies wat met ons gebeur nie?

Ons raak gewoond aan mekaar. Ons raak gemaklik. Ons begin glo liefde is iets wat net… daar is. Iets wat vanself sal bly.

Maar liefde werk nie op autopilot nie.

Dis nie iets wat jy een keer kry en dan hou nie. Dis nie ’n ring wat jy aansit en dan is dit klaar nie. Dis iets wat jy leef. Elke dag. Soos asemhaal.

Jy kan nie besluit jy het gister asemgehaal, so jy hoef nie vandag nie.

Wat my diep geraak het, is hoe hy liefde beskryf: nie as ’n gevoel nie, maar as ’n daad.

Ons wêreld sê vir ons liefde moet maklik wees. Dit moet natuurlik vloei. Maar die waarheid is, liefde is dikwels die keuse wat jy maak lank nadat die gevoel stil geword het.

Dis die besluit om te sê: Ek sien jou. Ek hoor jou. Ek kies jou. Selfs nou. Weer vandag.

Vyf van die belangrikste woorde

“Jy is my gunsteling mens.”

Stel jou voor jy kan aan die einde van jou lewe na jou maat kyk en dit steeds bedoel. Nie omdat alles altyd maklik was nie, maar omdat julle gekies het om aan te hou. Om te groei. Om mekaar te vorm. Om mekaar te dra.

Daardie tipe liefde gebeur nie per ongeluk nie. Dit word gebou in klein oomblikke — die tipe wat niemand anders sien nie. Dit word vasgehou as die seisoen droog en moeilik is. Dit word elke dag gekies en prakties geleef.

Afdwaal paaie

Hoekom dwaal mense af in hul huwelike? Hoekom bestaan daar iets soos ontrouheid?

Dis nie net fisiese aantrekking of “iets wat verkeerd geloop het” nie. Dis dikwels baie dieper.

Mense raak verlief op hoe iemand anders hulle laat voel. Gesien. Bewonder. Interessant. Weer soos hulle beste self.

En dit laat jou besef hoe belangrik dit is om daardie ruimte binne jou eie huwelik te beskerm. Om mekaar nie net te hê nie… maar mekaar te sien. Om met gesonde grense te leef en te weet die vyand soek ‘n geleentheid om te steel en te verwoes. En ook om te weet Jesus bedoel ook vir ons, in ons huwelike, die lewe in oorvloed!”

‘n Stukkie herstel

Om weer nader aan mekaar te beweeg kan verbasend maklik lyk en is so prakties dat julle sal wonder hoekom julle dit nie meer doen nie.

Vat tien minute. Net tien. Een keer ’n week.

Sit saam en vra:
Wat het ek hierdie week gedoen wat jou geliefd laat voel het?
En waar het ek jou gemis?

Dis nie ingewikkeld nie.
Dis nie groot nie.
Maar dit bring jou terug na mekaar toe.

Want uiteindelik kom alles terug na een ding:

Aandag.

Ons leef in ’n wêreld waar alles ons aandag wil hê. En as ons nie doelbewus kies nie, begin ons dit weggee — stukkie vir stukkie.

Sosiale media kan stilweg ’n afstand begin skep. Nie noodwendig deur iets dramaties nie, maar deur klein oomblikke van ontrouheid aan jou verhouding. Dit het so groot invloed dat die prokureur sê: “We as divorce lawyers owe the designers of social media a debt of tremendous gratitude because they gave us job security”

Hoe bestuur jy dit beter? Deur ’n eenvoudige vraag:

Sou ek hierdie gesprek hê, hierdie persoon volg, of hierdie boodskap stuur… as my maat langs my sit?

Dis nie ’n reël nie. Dis ’n maatstaf.

Bestuur konflik beter

Selfs in konflik gee hy iets wat ek dink elke paartjie kan help: die idee van ’n “time-out”.

Want ons almal weet — wanneer emosies hoog loop, sê ons dinge wat ons nie bedoel nie… of dalk erger, dinge wat ons presies weet die ander een sal seermaak. Dit is amper soos “kernwapens” in ’n verhouding. Jy weet presies waar om te slaan.

En daarom is dit so belangrik om te kan sê:
Kom ons stop.
Kom ons praat later.
Kom ons beskerm hierdie verhouding, selfs in ons verskille.

Kry spesifieke woorde om so ’n ‘time-out’ aan te kondig. Enige iets van “Hawermoutkoekies” tot “Blou sambreel”.

Onthou weer

Nog iets wat my geraak het, is hoe hy voorstel dat ons moet terugkyk.

Wie was julle toe julle begin het?
Hoe het julle gepraat?
Hoe het julle mekaar gesien?

Want soms is die pad vorentoe nie iets nuuts nie — dis net ’n pad terug. Om te onthou hoe lief julle mekaar eintlik het.

Ek het in ons eie huwelik begin raaksien hoe waar dit is.

Hoe klein goed saak maak.
Hoe aandag alles verander.
Hoe liefde groei wanneer dit aktief geleef word.

Ek het besef dat hoe meer ons lewe spreek, hoe meer ons liefde kies en wys, hoe meer ons saam bid en in genade leef — hoe ligter en voller raak alles. Nie net tussen ons nie, maar ook binne ons elkeen.

Ek glo met my hele hart dat ’n huwelik een van die mees geseënde verhoudings in ’n mens se lewe kan wees. Dis nie net iets wat gebeur nie — dis God se plan, God se ontwerp vir die mens en dit is ‘n voorreg. ’n Huwelik is nie altyd maklik nie, maar dis altyd ‘n ruimte waar liefde kan groei, waar jy gevorm word, waar jy kan gee en ontvang op ’n manier wat diep en werklik is. Dit vra beslis aandag, elke dag.

Dit vra sorg.Dit vra keuse. Dit vra dat jy wys… weer en weer.

As jy my gunsteling mens is… wys ek dit?

Wys jy dit in hoe jy opdaag? In hoe jy praat? In hoe jy luister? In die manier wat jy hulle sien — regtig sien?

Want die waarheid is: in die sterkste huwelike sou twee mense, selfs al vat jy die ringe weg en selfs al was daar geen kontrak nie, steeds kies om by mekaar te bly. Nie omdat hulle moet nie… maar omdat hulle wil.

Omdat hulle lewe beter is saam. Omdat daar iets is wat werk. Omdat daar verbinding is.

En dit… dit is iets wat die moeite werd is om voor te veg, om te bou en te beskerm. En om dit nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Die beste van alles is, diep binne ons weet ons reeds wat om te doen. Dis nie groot gebare nie. Dis nie ingewikkeld en duur nie.  Dis die tipe dinge wat jy reeds ken. Die tipe dinge wat, as iemand dit vir jóú sou doen – jy gesien, geliefd en belangrik sal voel.

Om lief te hê vra moed. Om jouself oop te maak, vra moed. Om aan te hou kiesselfs wanneer dit nie maklik is nie—vra moed.

Maar dit is ook een van die mooiste dinge wat jy ooit kan doen.

‘n Uitnodiging

So dalk is die uitnodiging vandag eenvoudig: Gee aandag. Leef liefde aspris. Kyk weer. Luister weer. Kies weer.

En sê dié vyf belangrike woorde gereeld:

“Jy is my gunsteling mens.”

 

– Deur Liezel van der Merwe