Wanneer ‘n huwelik ‘n affair oorleef, is een ding beslis ter sprake: Emmers vol genade. Die herstelpad daarna is nie maklik nie, veral nie as die slagoffer deur twéé van sy naastes verkul is nie…
Natalie het Derek deur ‘n vriendin ontmoet. Sy het op vyftienjarige ouderdom saam met ‘n vriendin na ‘n familie-naweek in Bloemfontein gegaan, waar sy haar vriendin se neefs en niggies leer ken het. “Toe ek hom sien, het ek dadelik geweet dit is die man met wie ek gaan trou.” ‘n Jaar later het hul paaie weer gekruis en nog ‘n paar jaar later, in 2002 is hulle getroud.
Natalie het bagasie gehad. Haar ouers is geskei toe sy ‘n baba was en sy het in ‘n enkelouer-huis grootgeword waar haar ma voltyds gewerk het om hulle aan die lewe te hou. Die herinneringe wat sy van haar pa gehad het (in dié tye wat hy wel daar was) was negatief. Drank, geweld … vir vyf jaar lank het hy net verdwyn en een dag uit die bloute skielik weer opgedaag. “My pa het al my ma se goed verkoop om geld vir drank te kry.”
Afgesien van ‘n afwesige pa, het Natalie nóg ‘n berg gehad om oor te klim: Die verwerking van ‘n verkragting vroeër in haar lewe. “Al die gevoelens rondom seks en die verkragting het ná ons twee kinders se geboortes na die oppervlak gekeer en ons moes hulp vir ons huwelik gaan soek. Aan die begin was selfs net die idee rondom seks moeilik, maar ná ‘n lang pad van vergifnis, kon ek dit agter my plaas en op my huwelik fokus.”
Wrywing en die begin van alles …
Natalie en Derek het later hul eie sake-onderneming gehad, maar dit het beteken dat Derek meer by die werk as tuis was. “Wanneer hy saans vir die swaarvoertuie gewag het om in te kom, het hy sy tyd verwyl deur te drink. Hy het geweet dit is vir my ‘n probleem, omdat my pa ook ‘n alkoholis was, maar hy het dit in daardie stadium nie as ‘n probleem beskou nie, omdat hy nie by ‘n kroeg gaan drink het nie. Maar net die reuk van drank alleen het my gewalg.”
Intussen het een van Derek se neefs, Tom, tydelik by Derek se ouers ingetrek. “Ons het van werk hier in ons dorp gehoor en ek het dadelik aan hom gedink. My man ken die eienaar waar ons vir hom die werk gekry het en het hom gekontak. Ek het gevoel ek moet Tom help om hulp te kry, want ek het gesien watter effek drank op my pa se lewe gehad het.” Sy kon nie haar pa help nie, maar was vasberade om vir Tom te help.
Wat egter as hulp begin het, het in ‘n affair ontaard. Derek was min by die huis en Natalie het Tom se geselskap verwelkom. Sy het hom oor haar verlede en die afwesigheid van haar pa vertel. In dié stadium het hy by sy ma, in ‘n klein Vrystaatse dorpie, gewoon. En die eerste keer wat hulle mekaar ontmoet het, het sý vir die kamer betaal.
“Ek het só skuldig gevoel en Tom het die volgende dag gesê hy is spyt oor wat gebeur het.” Die naweek het Natalie na ‘n vriendin gevlug en Derek het onraad vermoed. Toe hy haar konfronteer het sy bely dat daar iemand anders in haar lewe is (maar sy het nie verklap wie dit was nie).
Min het sy geweet dat Derek daardie selfde aand wat sy die nuus gebreek het, ‘n ontmoeting met die Here gehad. Hy het tot insig gekom oor sy drankprobleem en dit daar en dan gelos. “Hy het besef ons is albei verantwoordelik vir wat gebeur het en my gesmeek om terug te kom.”
Emosionele en fisieke mishandeling
Op pad huis toe het Natalie egter weer by Tom aangegaan. Hy het haar verlei met sy gevoelens vir haar en die affair het voortgeduur. Kort daarna is hulle vir ‘n naweek weg (sy het vir alles betaal). “Die rooi ligte het begin flikker toe hy my vra vir geld. Hy het gesê dat Natalie en sy ma tog nie iets moet oorkom nie, want hoe gaan hy dan oorleef?” Hy het ook gedurende dié naweek aggressief teenoor haar opgetree. “In ‘n stadium het hy my hand probeer breek, maar hy het gelukkig net my nael afgegbreek. Hy het gespot en gesê: ‘Hoe sal jou gesig teen die kas lyk as ek jou daar vasslaan?’ Ek dink ek wou hom so graag help, daarom het ek dit verskoon, maar die ongemak het gebly.”
Ten spyte van hierdie skrikwekkende gedrag, was Natalie steeds aan hom verslaaf. “Ek was só deur hom gemanipuleer …” Hy het ‘n ruk lank met vakansie gegaan en het weer ‘n draai by Natalie kom maak – weer met die storie dat iemand sy beursie gesteel het en hy geld nodig het. Dié tyd was ‘n baie slegte tyd in haar huwelik en in haar lewe. Aan die een kant was daar Tom wat haar sleg behandel het, maar gemanipuleer het om sy sin te kry. Aan die ander kant was daar Derek wat die drank gelos het, sy hart vir die Here gegee het en haar gesmeek het om in die huwelik te bly. Vir ‘n buitestaander is die keuse vanselfsprekend, maar Natalie was deurmekaar.
Intussen het Derek uitgevind dat Natalie die affair met sy neef, Tom het. Hulle het elke dag gesels, maar hy het niks verklap nie. “My man was so lief vir my dat hy bereid was om my te laat gaan en al sou ek en Tom saam wees, sou hy dit aanvaar, omdat hy my gelukkig wou sien.” Een dag het Tom vir Derek vertel van die wonderlike vakansie wat hy gehad het en hoe hy verlief geraak het op ‘n vrou. “Dit was toe dat my man gesê het hy weet van ons verhouding. Hy wou weet of ek bewus is van die ander vrou en Tom het dit daardie selfde aand per whatsapp met my gedeel: ‘Sorry, ek het lief geraak vir iemand anders.’” Na die onthulling van sy ‘liefde’vir die ander vrou, het Natalie besef dit sou nooit kon werk nie. “Deur die loop van ons affair en veral ná sy onthulling het ek besef dat Tom nie goed vir my sou wees nie. Hy sou my nie net liggaamlik nie, maar ook emosioneel vernietig. Ek het skuldig gevoel teenoor my man wat alles net aanvaar het en my bygestaan het.”
Die dinamika het skielik wéér verander. Waar menige man hul vrou die trekpas sou gee, het Derek as vertrooster opgetree vir Natalie se liefdesteleurstelling! “Hy het getroos en die volgende dag gereël dat die kinders by sy ouers gaan kuier, sodat ek net in die bed kon bly. As ek gehuil het, het hy my vasgehou. Dit was vir my die ergste – die wete dat hy my oor Tom troos.”
Die emosies bly draal …
Uiteraard was dit die einde van die affair. En ook die einde van Tom se verhouding met sy neef. Hulle het nooit weer gepraat nie. Tom se nuwe meisie het hom gelos en ná dit alles het hy homself met drank verwoes, vertel Natalie. “Aan die begin was dit baie moeilik vir my om myself te vergewe vir die seer wat ek my man aangedoen het. Ek het myself eintlik gehaat – hoe kon ek toelaat dat so iets gebeur?” Toe die affair stopgesit is, wou Natalie steeds nie in die huwelik bly nie. “Want wat as ek my man weer so seer maak?” Sy het een oggend ‘n Vrouebybelstudie byewoon waar iemand oor Danny Silk se program, “Keep you Love On”, gepraat het. Daar sê die Here toe duidelik vir my dat ek moet bly. “Dit was in Februarie 2015.”
Dit is vyf jaar later en dit was nie ‘n maklike pad nie. Aanvanklik was Derek baie besitlik teenoor Natalie. “Hy het oral saam met my gegaan wanneer ek dorp toe is. Ons moes weer leer om te vertrou en te glo.” Een keer per maand het hulle ‘n huweliksberader besoek. Hy het verduidelik dat daar ‘n verband was tussen haar behoefte aan ‘n afwesige pa en die affair. “Ek het gesmag na my pa se liefde en het dit op Tom geprojekteer. Omdat hy ook ouer was en dieselfde probleme as my pa gehad het (alhokol en aggresiwiteit), het ek my pa in hom raakgesien.”
Die affair en die herstelproses het hul geloof beslis versterk. “Ons leef nader aan Vader en volg Sy stem in alles wat ons doen. Ons sou dit nie kon oorleef as dit nie vir vergifnis en genade was nie.” Vandag staan die huwelik sterker as ooit.”
Dit het egter harde werk gekos. “”n Mens moet leer om weer jou maat te vertrou en te glo dat dit nie weer sal gebeur nie. Nie almal kry ‘n tweede kans nie en ons het dit gemaak werk. Was dit maklik? Nee. Want twyfel kruip tog in en wanneer dinge nie reg verloop nie, hardloop jou gedagtes dadelik weer met jou weg. Dis egter net die vyand wat vir jou jok.”
Hulle het sekere dinge in plek gestel om te verhoed dat dit weer gebeur. “Ons deel alles met mekaar en wanneer iets nie reg voel nie, praat ons daaroor. Gebed is een van die dinge waarmee ons aanvalle van die duiwel beveg. Want ja, hy gooi soms die verlede voor jou kop, maar jy moet leer om jouself te vergewe en God aan te gryp.”
Artikel deur Annelize Steyn
***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!