Chantal Malan (31) het ’n moeilike pad met liefde gestap voor sy eindelik haar ridder ontmoet het. Vandag vertel sy van hul storieboek ontmoeting, maar ook van die moeilike pad wat hulle moes stap om vandag ’n verhaal van inspirasie te kan deel . . .“Voorheen het ek liefde op die verkeerde plek gesoek. Ek het verlief geraak op mans wat die verkeerde intensies gehad het en ek het hulle baie vinnig vertrou,” vertel sy. Die gevolg was dat sy dikwels seergekry het. “Ek het ook my foute gemaak en was nie ’n engeltjie nie,” bieg sy. Sy was egter gereed vir settle, al het sy dit nie self besef nie en het een dag vir haar vriendin gesê: “Sien, ek is nou maar net een van daardie mense wat nooit liefde sal vind nie. Kyk wat gebeur keer ná keer. Ek is moeg vir seerkry.” Haar vriendin het haar probeer oortuig dat sy verkeerd is. En Chantal het gebid: “Here, as dit U wil is, stuur asseblief vir my ’n man wat U vir my kies want my eie keuses is swak.”
’n Kort rukkie later het Chantal oudergewoonte deur haar Facebook-blad gegaan. Op ’n blad vir sjefs het sy ’n ou gesien met die naam Alewyn, wat met haar wou gesels. “Ek het eers nie veel daarvan gemaak nie en nie eens terug geantwoord nie, maar hy het bly boodskappe stuur tot ek ingegee het. En was dit ’n lekker chat! Ons het baie in gemeen gehad, ons albei was voormalige sjefs. Ons het ook dieselfde voertuie gery. Ek en my pa verjaar op dieselfde dag. En hy en sy ma ook. Eers het ek gedink hy sê hierdie dinge net om my aandag te kry, maar toe ons eers begin praat, was dit fantasties . . . ” Ná ’n week se kuberruim-geselsies, het Alewyn gevra of hy maar vir Chantal kon bel. “En toe begin airtime ’n fortuin kos!” lag sy.
Drie maande later het hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet. “Ja, ek weet daar is ’n klomp weird mense daar buite en ek was versigtig, maar dit het gevoel of ek hom al jare lank ken en of hy my toekomsmaat is.” Omdat Alewyn in Aliwal gebly het en Chantal in Johannesburg, het sy die ses-uurlange reis aangepak, maar sy was nie teleurgesteld nie. Die naweek was ’n fees. “Ons het gaan visvang, ons het gaan dans en hy het vir my die lekkerste kos gemaak! Ek was so bederf en hy het by almal met my gaan brag.” Gou het die vriendskap in ’n verhouding ontwikkel en hulle het langafstand begin date. “Ons het mekaar een keer in elke vier weke gesien (ná elke pay day!). Alewyn het iemand ontmoet wat ’n restaurant in Grahamstad wou uitverhuur. Dit is ʼn droom dorpie, so mooi soos jy kán kry! Ek het die groot stap geneem en daar gaan woon. Wow, dit was great! Maar toe breek die resessie aan . . .”
Skielik het finansies begin knaag. En om alles te kroon het Chantal uitgevind sy is swanger. Nie met een nie, maar met ’n tweeling! Die nuus was vir haar ’n skok, maar Alewyn het dit goed hanteer. Dit het haar ’n paar maande geneem om gewoond te raak aan die nuus en sy was baie bang vir watter finansiële implikasies twee babas sou inhou. Toe sy vier maande swanger was, het hulle getrou (hulle het binne twee weke die troue gereël!) “Die dominee was laat, maar selfs dit kon my nie pla nie. Ek was kalm en het vrede in my hart gehad dat ons die regte besluit neem.”
Maar finansieël was daar spanning. Boonop het sy met haar swangerskap op ses maande, siek geword en baie pyn begin ervaar. Daar waar hulle woon, was dit baie afgesonder. Die naaste dokter was twee ure weg en die naaste hospitaal vier ure. Sy moes opgeneem word en het in vroeë kraam gegaan weens ernstige brongitis. Die dokters het gewaarsku dat sy na aan die hospitaal moes bly vir ingeval die kleintjies kom. Die mees logiese plan sou wees dat sy tydelik by haar ouerhuis intrek sodat sy naby die hospitaal kon wees en met ’n seer hart het sy die skuif gemaak. Maar alles het goed uitgewerk en op 5 Oktober is die tweelingseuns gebore. “Alewyn was van die begin af ’n ongelooflike pa! Hy het doeke geruil en winde uitgeslaan en tot vandag toe kyk hulle op na hul pa. Hy het soveel liefde vir ons.”
Maar, soos enige huwelik, was daar tawwe tye. Finansieël is hulle getoets tot hulle later oor amper alles baklei het. “As ons mekaar gesien het, was daar drama.” Hulle moes Oos-Rand toe trek vir ’n beter toekoms en hiervan wou Chantal niks weet nie. “Ek wou skei . . . dan kon hy doen wat hy wil en ek doen wat ek wil,” vertel sy.
Maar een Sondag het haar skoonma hulle gevra om saam met haar kerk toe te gaan in Kempton Park. “Ek wou niks weet nie en het nog so dikbek in die kerk gesit toe die Heilige Gees my kom aanraak het. Ek het vir twee jaar lank met chroniese rugpyn gesukkel en deur gebed was ek genees. Toe het ek vir die eerste keer besef hóé magtig ons God is. My man het dadelik sy rol as hoof van die huis ingeneem en seker gemaak ons volg God.”
Dit is ook daardie keerpunt wat ’n ommeswaai in hul huwelik veroorsaak het. “Mens sal altyd deur toetse en storms gaan, maar met God is dit soveel makliker. Ons is sterker en vandag hoop ons om ander te inspireer. ’n Paar maande gelede het ’n familielid van ons geskei en mense het na my toe gedraai en gesê: ‘Ons sou gedink het júlle sal skei, nie hulle nie.’ Dit het my hart gebreek. Satan sal enigiets doen om die sterk band tussen man en vrou te breek, maar deur God se wil en genade is ons vandag sterker en kan ons huweliksmaats inspireer om vir mekaar te bid en op God te fokus.”
Vandat hulle God in fokus het, het die dinamika tussen Chantal en Alewyn ook verander. “Ons kom so goed oor die weg. Ek is vinnig om ‘jammer’ te sê want dit gaan nie meer oor my eie sin nie. Ek besef dit is óns huwelik en nie myne nie.” Chantal het vandag haar besigheid (sy maak prag-koeke!) en Alewyn is die uitvoerende sjef vir ʼn vierster venue in Midrand. “My man is vreeslik rustig. Hy word so selde kwaad en ek dink eerlikwaar ek is die enigste een wat hom kwaad maak! Hy smile altyd en is lief vir die lewe. Ons vierjarige tweelingseuns, Jonathan en Aidan, is twee woelige mannetjies!”
En twee sjefs kóók seker in die kombuis? “O ja, ons werk ongelooflik lekker saam,” vertel sy. “Ons het geleer dat as ons altwee vooraf besluit wie doen wat, stry ons nie en kry die lekkerste kos op die tafel! My man is dalk nie die perfekte man soos wat boeke ’n ‘perfekte man’ beskryf nie, maar in mý lewe is hy perfek. Ek dank die Here elke dag dat hy vir my so ’n stunning maat gekies het.”
Enige raad vir ander paartjies? “Gee jou geliefde ’n kans. Hou hande vas en bid hardop vir mekaar. En vergewe mekaar die verlede. Dit is verby en ’n bitter alleen plek om by vas te haak . . .”
Artikel deur ANNELIZE STEYN