Daar is die goeie raad waarna jy moet luister. En dan is daar raad wat jy absoluut moet ignoreer. Kom dit by jou huwelik en by seks, moet jy ekstra versigtig wees vir wat jou “raadgewers” aan jou probeer verkoop.
Jy is terug van jou wittebrood en al wat jy wil doen, is om jou foto’s óór en óór deur te kyk en te fantaseer oor hoe ’n match made in heaven julle is. Jy wéét sommer jul huwelik gaan die toets van tyd deurstaan . . .
Maar dan gaan jy winkel toe om ’n paar basics vir die huis te kry (julle leef mos in elk geval op liefde en water) en loop vir tannie Siena raak. Dié is een van jou ma se vriendinne en al drie keer geskei. Om die een of ander rede voel sy genoop om jou te peper met die huweliksraad – sy was nie by jou troue of kombuistee nie en het nie dáár die kans gehad om haar eiertjies te lê nie.
“Sussie, laat ek jou nou vertel: Die pad na ’n man se hart toe is ’n lekker bord kos – genoeg vleis, rys en drie soorte groente. Nie daardie bokkos in jou mandjie nie! As jy sorg dat jou man lekker eet, kan jy seker wees jul huwelik sal slaag. En as dit nié werk nie, is skei altyd ’n opsie.” Sy knipoog, maar jy weet sy bedoel dit en jy snak na jou asem. Jy wil nie hierdie dinge hoor pas ná jy terug is van jou wittebrood nie!
Mense is lief daarvoor om raad uit te deel – selfs ongevraagd. Dit is belangrik om sekere raad ter harte te neem . . . en ander met ’n knippie sout. Om die kaf van die koring te skei, is natuurlik in die beginstadium van ’n huwelik nie so maklik nie! Wat vir jou ma gewerk het, gaan nie noodwendig vir jou werk nie, want ’n huwelik bestaan uit twee unieke mense.
Hier is wel ’n paar stukkies raad waarna jy beslis nie moet luister nie:
#1. “Trou vir geld – die liefde sal later kom”
Gits. Mense wat dié soort raad gee, het waarskynlik soveel finansiële swaarkry in hul lewens beleef dat hulle énigiets sal verduur behalwe armoede – selfs ’n ongelukkige huwelik! Vir ander is geld net bloot belangriker as liefde. “Skoonheid en liefde is verganklik, maar geld kan opmaak vir die verlies,” meen sommige mense.
Om te trou vir geld is een van die grootste foute wat jy ooit kan maak. Tog, in Amerika het ’n nasionale studie onder welgestelde paartjies gevind dat sowat twee derdes van die vroue “baie” of “uitsonderlik baie” gemotiveerd was deur geld om die knoop deur te haak.
As armoede by die voordeur inloop, loop liefde by die agterdeur uit, het die wyse gryses geglo. Wat as daar nie eens uit die staanspoor liefde was nie? Wat bly oor? Liefde is iets om aan vas te hou, selfs in die moeilike tye.
#2. “Sê ja en amen – ongeag van wat jy voel”
Vroeër jare het baie mense geglo dat jy moet doen wat jou man wil hê, ja sê vir alles wat hy vra en jammer sê – selfs al bedoel jy dit nie! Natuurlik is só ’n huwelik ’n uitgerekte leuen. In ’n huwelik moet elke party die vrymoedigheid hê om sy/haar hart (op ’n mooi manier) uit te spreek.
Oop kommunikasie en (soms) gevolglike konfrontasie is nodig om mekaar te leer ken en beter te leer verstaan. Ja, in die begin sien jy dalk meer oor as later, maar om jou eie beginsels en standpunte opsy te skuif om jou maat tevrede te stel is nie net onwys nie, dis ’n doodsteek vir jou huwelik!
#3. “Sorg vir ’n warm bord kos, ’n skoon-gestrykte hemp en goed gemanierde kindertjies”
Die ou tannies in jou familie sal waarskynlik dié raad uitdeel. Toe hulle in die fleur van hul lewens was (veel jonger as wat jy waarskynlik nou is!), het hulle by die huis gebly, basaarkoeke gebak, kunsvlyt gedoen en saans – voor Pappa huis toe gekom het – die kindertjies gebad en aangetrek sodat sy bord warm kos gereed kon staan as hy by die voordeur instap!
Vandag lyk die prentjie ietwat anders en is die huwelik ’n 50/50-vennootskap. Vroue moet help om die geld tafel toe te bring, Woollies sorg vir die warm bord kos en die huishulp stryk die hemde, want julle het bloot nie genoeg tyd tot julle beskikking om daardie tradisionele rolle in te neem nie!
Inteendeel – as jy jou ná ’n voldag se werk nog moet afsloof voor die stoof, gaan dit waarskynlik net addisionele spanning teweeg bring – ’n ramp vir enige huwelik!
#4. “Moenie jou van verander nie/verander jou van”
Naby familie kan jou dalk aanraai om nie “jou man se van te vat nie” omdat jy kwansuis jou identiteit sal prysgee as jy wel sóú. Ander kan weer sê dat jy wel jou man se van moet aanneem om hom te wys jy is hart en siel in hierdie huwelik. Of dat dit die kinders sal benadeel as jy dit nie sou doen nie.
Moenie daarvan ’n emosionele besluit maak nie en volg jou eie kop. Daar is verskeie redes waarom ’n naamsverandering vir sommige mense sin maak en ander daarteen besluit. Dit is jou besluit en joune alleen!
#5. “Mense verander nie – maak vrede daarmee”
Dit is goed om in ’n huwelik in te stap met die idee dat jy moet tevrede wees met wie jy trou aangesien jy hom nie later sal kan verander nie. Dit is inderdaad goeie raad! Jy sal moontlik nie sy selfsugtigheid, nare drinkgewoontes en kort humeur kan verander nie. Kan jy daarmee saamleef?
Moet egter nie die fout maak om te glo die 19-jarige outjie wat jy leer ken het, gaan oor 20 jaar presies dieselfde dink en optree as die dag wat jy hom ontmoet het nie. Almal verander. Jou man ook. Soos julle huwelik deur verskeie fases gaan, gaan julle verander, ook jul verhouding.
#6. “Straf hom deur die slaapkamerdeur toe te hou”
Met hierdie raad word bedoel dat as manlief nie volgens jou pype dans nie, jy seks van hom behoort te weerhou. As hy in jou hand speel, oorlaai jy hom weer met aandag in daardie departement. Groot fout!
Mense wat dít doen, is besig met ’n magspel en seks word ’n wapen. Om te manipuleer, beteken om mense te oorreed jy sal iets doen in ruil vir iets anders. Vir ’n getroude paartjie moet seks sinoniem wees met liefde, omgee en iets wat nooit gekoop kan word nie. Wat gebeur as manlief dus nie kan betaal nie? Jy straf hom en weerhou seks. Só maak jy hom seer, kry wat jy wil hê en seks word ’n geldeenheid in jul verhouding.
Wat sê ons lesers op Facebook oor slegte raad wat hulle gekry het?
- “Dat pornografie nie sonde is nie en goed is vir jou huwelik. Dít vanaf ’n huweliksberader nadat jou eggenoot ontrou was en jy amper van jou verstand af!” – Esna
- “Onthou, ’n vrou mag nooit nee sê nie . . .” – Annari
- “Jy het nie nodig om jou man alles te vertel nie. Verkeerde raad! As iemand sê hulle het ’n geheim en dat ek niemand mag vertel nie, sê ek dat ek dan nie wil weet nie, want ek vertel my man alles.” – Louise
- “Dié raad is aan my vriendin gegee: Trou en as dit ná twee maande nie uitwerk nie, kan julle mos skei. Totaal belaglik!” – Juandri
Sommige raad is absurd. Daar is sekere stukkies raad waarvan die vervaldatum al lankal verstryk het. Ander soorte raad klink heel onskuldig en het dalk al in die verlede vir iemand gewerk, maar het die teenoorgestelde uitwerking op julle twee. Sif mooi en moenie julle ore té veel uitleen nie.
Deur Annelize Steyn