Die huwelikseenheid bestaan uit twee individue, met uiteenlopende belangstellings, begeertes en roepings. Hoe gemaak as julle roepings bots?
Lana het haar hele lewe lank geweet dat haar hart by kinders lê. Dat haar doel op aarde is om te belê in die lewens van minderbevoorregte kinders. Só het sy ’n kleuterskoolonderwyseres geword en tussen skole rondgeswerf tot sy vyf jaar later ’n pos in ’n minder gegoede deel van Johannesburg by ’n armoedige kleuterskool gekry het. Hier het sy haar roeping uitgeleef. Sy kon ’n verskil maak. Sy kon ’n instrument wees in die Here se hande, terwyl sy boonop doen wat sy nog altyd geweet het sy gemaak is om te doen.
Twee jaar later het Lana vir Ben ontmoet in haar soeke na borgskappe vir die skool. Ben was direkteur van ’n vinnig-groeiende IT-maatskappy en het dadelik ingestem om haar skool by te staan. Haar hart vir haar werk het hom aangegryp en hy het haar aangespoor om aan te hou doen wat sy doen. Sy het Ben se dinamiese gees en begrip vir haar roeping onweerstaanbaar gevind, en hulle is drie jaar later getroud.
Finansieel het dit goed gegaan en Ben het baie fondse in haar skool belê – en só ook in ander nie-winsgewende projekte. As jong seun het hy immers daarvan gedroom om eendag finansieel te floreer sodat hy sy rykdom in die uithoeke van die land (en later die wêreld) kon saai. Dit was sý roeping.
Maar die dag toe hy huis toe kom met die nuus dat hy die geleentheid gekry het om ’n nuwe tak in Australië te gaan open, het Lana se wêreld in duie gestort. Hulle sou minstens drie jaar in Melbourne moes gaan bly. Sy sou haar skool moes prysgee. Wat van die kinders? En haar roeping?
Hoewel Ben haar probeer paai het en gesê het dat daar oral in die wêreld ’n behoefte is en dat hy in Australië weer vir haar ’n kleuterskool sou koop, was dit vir Lana ’n seer gedagte dat sy die skool (waar sy geglo het haar roeping lê) ter wille van Ben se planne sou moes agterlaat.
Hoe gemaak as roepings bots?
Die blogger Dorcas Cheng-Tozu vertel op Christianitytoday hoe sy ’n paniekaanval in die munisipale kantoor in Shenzhen gehad het ná sy en haar man China toe verhuis het om sy besigheid daar op die been te kry. “Ek het my werk en vriende wat ek liefhet agtergelaat om sy droom te verwesenlik om sonkragprodukte vir die ontwikkelende wêreld te voorsien. Ek het myself oortuig dat dit my droom ook was.”
In die vreemde land was alles egter vir Dorcas ’n ramp. Sonder haar gemeenskap, haar loopbaan en haar emosionele gesondheid het sy nie meer geweet wat haar doel is nie en sy het haar man die skuld gegee omdat hý gesê het dit is waarheen God hulle geroep het.
Soos menige ander paartjies was sy gekonfronteer met die vraag: God het hulle saam geroep in die huwelik, maar watter roeping het hy vir elkeen van hulle? Hoe balanseer – en ondersteun – hulle mekaar se unieke gawes en doel? Veral wanneer een se roeping swaar opofferings van die ander een verg?
Verhoudingsafrigters Kobus en Linda Pauw sê dat die klem op “roeping” val. “Dit is iets wat die Here self in ons harte kom plaas het. Die paartjie moet ook weet dat as die Here dit daar geplaas het, dan sal Hy ook die plekke en tye skep waarin jy of julle dit kan uitleef. Ons kyk só baie keer met ons menslike oë na dinge en dan wil ons dit op menslike maniere uitsorteer. Ons moet besef dat as dit by ons roeping kom, dan is dit iets wat ons by die Here en met Sy hulp moet uitsorteer.”
Na selfondersoek en in haar donkerste uur het Dorcas die volgende besef: “Ek het geleer dat God nie van ons vra om te kies tussen om ons lewensmaat of ons eie roeping te ondersteun nie, maar dat Hy begeer om ons beide te gee. En in Sy oneindige kreatiwiteit kán Hy dit doen.”
Al voel dit of jy by tye jou maat se roeping eerste stel, kan jy rustig wees en vertrou in die wete dat God aan albei ’n lewe met ’n doel wil voorsien (soms nie op daardie onmiddellike tydstip nie, maar in Sy tyd). Selfs al val die oorhoofse fokus op jou maat se roeping, moet jy joune nooit onderskat nie. Jou maat se roeping kan joune selfs help vorm.
In Romeine 12:6 staan: “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.”
Die huwelik as roeping
In ’n artikel op die webtuiste van Relevantmagazine, skryf Jake en Melissa Kircher ’n paartjie moenie vergeet dat die huwelik ook ’n roeping is nie. “Na alles, as ’n roeping daaroor gaan om elke asem vir Christus te leef, dan het twee mense wat hul lewens aan mekaar toewy ’n Goddelike roeping om mekaar ten volle te eer. Hulle het ’n Goddelike roeping om mekaar lief te hê en te respekteer, saam deur konflik te werk, te vergewe en opofferings vir mekaar te maak.”
Soms skep geslagsrolle verwarring, veral wanneer die begrip “onderdanigheid” ter sprake kom. Is jy as onderdanige vrou verplig om jou man se roeping bó joune te stel? En as ’n man sy loopbaan-doelwitte opsy skuif ter wille van sy vrou s’n, beteken dit dat hy sy rol as “hoof van die huis” versuim?
Kobus en Linda verduidelik: “In hierdie geval moet gekyk word na die feit dat die man die hoof van die twee is en dat hy as die leier van die twee ’n ingeligte besluit moet neem, wat hy ook natuurlik deurgebid het. As leier moet die man besef dat hy nie net aan homself en sy eie roeping moet dink nie, maar hy sal moet besef dat sy vrou ook ’n roeping het en dit is hierdie twee roepings wat hy voor die Here se voete moet gaan neerlê.
“Ons glo dat as die man dit gedoen het en sy vrou saam met hom in hierdie proses is, die Here hulle sal lei op grond van die verbond wat in hulle verhouding is en ook op grond van die eenheid waarvoor en waarin hulle staan. As hulle die situasie op hierdie manier benader, sal albei van hulle bereid wees om op te offer.
“Die Here sal die roeping wat op daardie oomblik ‘opgeoffer’ word, uitwys en dit sal weer op ’n ander geleentheid verder geneem kan word. Roepings gaan nie dood nie. Dit word egter nie altyd op ons terme en in ons tyd of seisoen uitgeleef nie.”
Hulle sê ook: “Omdat ’n roeping God-geïnspireerd is, moet dit ten alle tye daardie gewig en kleur behou. Ons moet altyd daarteen waak dat ons nie ons eie idees, behoeftes en verwagtinge in die proses van ons roepings inbring nie. Hierdie tipe roepingsbesluite kan glad nie sonder die inspraak en leiding van die Here self geneem word nie. As dit geneem sou word sonder die Here se inspraak, is die kans baie goed dat die keuses wat geneem gaan word verwydering en ook verwyte sal meebring.
“Indien die besluit geneem word met wedersydse onderdanigheid aan mekaar, in eenheid van gees en hart, en met die leiding van die Heilige Gees, sal die een wat die ‘opoffering’ moet maak van sy of haar roeping dalk net vir ’n gegewe tyd (seisoen) van hul huwelik met vrymoedigheid, begrip en vreugde die stap kan neem. Dit kan juis dan groter konneksie, liefde, eenheid en nabyheid tot gevolg hê.”
Volgens hulle moet die goue vraag altyd wees: Bring dit ons nader aan mekaar? Is daar eenheid en begrip vir mekaar? Het ons albei vrede daaroor? Glo ons dit is die Here se perfekte wil vir ons huwelik en toekoms? “Ek glo beslis nie die Here sal vir een maat totaal iets anders sê as vir die ander een nie. Die Here werk in eenheid, harmonie en liefde!”
Is julle in ’n soortgelyke dilemma? Oorweeg die volgende:
INTIEM: Wat is God se plan met jou roeping binne die huwelik?
Kobus en Linda: Die idee wat God met jou roeping binne die huwelik het, is dat jy dit ten volle moet kan uitleef. Jou maat moet weet wat jou roeping is en ook weet wat die plan is om dit tot uitvoer te bring. Die paartjie moet dan weet hoe hulle in die huwelik moet optree om mekaar te ondersteun om hulle onderskeie roepings doeltreffend uit te leef. Die belangrike element is dat die roepings duidelik moet wees en gekommunikeer moet word. Die paartjie moet ook weet hoe hulle mekaar daarin moet ondersteun.
INTIEM: Is een party se roeping meer belangrik as die ander party s’n?
Kobus en Linda: Die kort antwoord op hierdie vraag is beslis “nee”. Die seisoene waarin ’n huweliksverhouding is, bepaal egter baie keer of daar aan albei roepings gelyk gewerk kan word. Dit beteken egter nie dat die een belangriker as die ander is nie. Dit sal egter ook goed wees om te kyk of die twee verskillende roepings wel mekaar kan aanvul. Indien wel, moet die paartjie planne beraam om dit saam uit te werk.
INTIEM: Hoe gemaak as jy dink julle situasie kan nie albei roepings ondersteun nie?
Kobus en Linda: As dit opduik, moet die paartjie heel eerste gaan kyk hoekom hulle so sê. Baie keer is dit slegs omdat daar ’n spesifieke seisoen in die huwelik aangebreek het, soos die grootmaak van klein kindertjies. Die klem lê op die uniekheid van die situasie. Wees bewus daarvan dat situasies kan verander en dat die roeping dalk net vir daardie kort tydjie op ys gesit moet word. Die Here is baie bewus van hierdie veranderende situasies. Wees bewus daarvan dat Hy met niks onkant betrap word nie. Hy sal ook die planne wat Hy met ons lewens het, volbring.
INTIEM: Hoe benader ’n mens hierdie situasie in jou huwelik sonder dat verwyte seëvier?
Kobus en Linda: Deur van die begin af te besef dat dit God-geïnspireerd is en dat Hy aan die stuur van die roeping staan. Dat Hy áltyd die Een is waaroor die roeping gaan. Hy sal nooit teen die eenheid in ’n huwelik werk nie. Hy sal nie tussen ’n man en ’n vrou kom as albei die Here ernstig soek en albei van hulle bereid is om die Here te dien, te gehoorsaam en mekaar in die proses by te staan en te dien nie. In só ’n situasie sal daar nie verwyte wees nie, net ondersteuning. Die paartjie moet egter daarop fokus om naby aan Hom te bly en Hom in alles te soek en te gehoorsaam.
Deur Annelize Steyn