Ek het begin agterkom dat my dogtertjie baie geslagsbewus word. Hoe hanteer ek dit? Hoeveel van die blommetjies en bytjies vertel jy vir ’n sewe-jarige?

Promosie

Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog antwoord:

Ek sou graag meer inligting wou hê om die vraag behoorlik te kan beantwoord en met min spasie tot my beskikking kan ek net die raamwerk van die kwessie aanraak. Sewe-jarige kinders is dikwels bewus daarvan dat seuntjies en dogtertjies asook mammas en pappas anders lyk. Hulle kan ook al self bewus wees van seksuele sensasies en selfs masturbeer.

Die nommer een ding van seksuele opvoeding is om eerstens seker te maak dat die ouers self gemaklik is met hul eie seksualiteit – dit maak dit net soveel makliker as grootmense na seksualiteit kan verwys of vrae van die kinders beantwoord of belangrike geleenthede vir gesels oor seksualiteit kan aangryp, eerder as om bloedrooi te bloos en die situasie te vermy. Begin dus hiermee – raak self gemaklik, dan sal jy makliker kan gesels daaroor.

Promosie

Antwoord ’n sewe-jarige volgens dít wat sy vra – jy hoef nie te veel inligting te gee nie, maar jy hoef ook nie weg te skram nie. Dit help as jy praat in ’n taal wat vir hulle verstaanbaar is of verwys na dinge wat in hulle kinderwêreld bestaan soos: “Hoekom sluit Mamma altyd julle kamer se deur wanneer Mamma en Pappa gaan slaap?” En: “Mamma en Pappa is beste maatjies, is groot mense en baie lief vir mekaar – daarom doen ons spesiale grootmens dinge saam. Ons hou daarvan om styf teenaan mekaar te lê in die bed, sonder dat iemand anders instap in die kamer sonder om te klop.” Jy kan byvoorbeeld die vraag, “Hoekom het boetie ’n penis?” antwoord deur te sê: “Seuntjies en dogtertjies is baie dieselfde, maar baie verskillend ook! Seuntjies moet ’n penis hê want hulle moet van kleins af met hul penissie piepie en wanneer hulle groot is, moet hulle ’n penis hê om ‘n babatjie mee te kan maak.”