Kom ons wees nou eerlik: Ons haat die manier waarop vrouens onder mekaar se velle inkruip. En hiermee bedoel ek die manier waarop hulle só ingestel is op mekaar dat hulle basies altyd in kompetisie met mekaar is – ek verwys na klere, naels, hare, Botox en basies alles wat “gelig” kan word.

Promosie

Ander vrouens se menings is BELANGRIK . . . en dit kos jou geld en tyd – dink maar aan hoeveel kere jy “geduldig” moes wag terwyl stel op stel klere aangepas word. En dan natuurlik die talle beradingsessies wat jy moes aanbied as iemand anders dieselfde rok of skoene by die spesiale funksie aangehad het.

Die afgelope tyd het ek dit egter gewaag om my pelle waar te neem – manspelle – natuurlik nie myself nie, want dis so effens ontstellend! Groot was my verbasing om te sien dat ons manne, selfs al wil ons dit nie erken nie, eintlik meer as vrouens ingestel is op wat vir “die manne” belangrik is.

Kyk, groepsdruk is eintlik van kleintyd af ons swakpunt – seker dié dat ons so ’n obsessie met “superheroes” het. Ons moet altyd net so effens beter wees, selfs al moet ons ons stories so effens aandik . . . net sodat daardie vis dié grootste was en ek die bal die verste geskop het. Ek noem dit die pous-indroom. Ons manne hou van pronk! En ’n pou wat pronk, is gevaarlik!

Promosie

Net om dit so ’n klein bietjie makliker te maak, skets ek graag ’n paar pronkpoue. Eerstens is daar die stywenek-pronkpou – die een wat ten alle koste voor sy pelle wil wys dat hy in beheer is. Dis nou die een wat skreeu en sy spring, sodat daar geen twyfel is wie die meester in die verhouding is nie. Hy doen niks, want hy laat haar goed verstaan sy moet die grond aanbid waarop hy loop. Hy sien nie na haar behoeftes om nie, hiet en gebied haar om drankies te skink, op te skep en selfs die kar te pak. Hy het die alleenreg om te pronk en sy pelle twyfel nie daaraan dat hy in beheer is nie.

Tweedens is daar die nekpikker-pronkpou – die een wat voel dat hy in statuur voor sy pelle erken word as hy negatief en afbrekend teenoor sy vrou reageer. Hy is normaalweg nogal ’n ou “grapgat” en kom met die beste kwinkslae oor haar gewig en ouderdom en klere vorendag . . . maar die motief is allesbehalwe humoristies. Hy weet wat haar teer punte is en hy pik onverpoosd voort. Sy glimlag baie kere saam, maar hier diep binne breek haar hart.

En dan is daar natuurlik die Jannie-jammer-tog-ek-leef pronkpou. Moet nou nie vir ’n oomblik dink hy is nie in beheer nie. Kyk, hy het die kuns vervolmaak om haar soos ’n marionet voor sy pelle te hanteer – as sy nie doen wat hy verwag nie en nie die hele tyd sy veertjies poets nie, dan krimp hy skaam-skaam inmekaar. En sy weet sy is die oorsaak . . .  hy laat haar boet daarvoor deur haar te ignoreer en met sy stilswye by te kom.

Die laaste pronkpou waarna ek wil verwys, is die ADHD-pronkpou. Kyk, hierdie mannetjie is nou die een wie se pronkvere opspring as enige vrou in die geselskap net lyk of hulle hulp nodig het. Dis asof sy persoonlikheid verander en hy skielik skinkborde dra, in die kombuis help, skottelgoed was . . . En sy wyfie se bek hang basies op die grond – sy het hom nog nooit so gesien nie en wonder wat sy moet doen om dieselfde reaksie te kry.

Die probleem is nie ’n pou wat pronk nie. Die probleem is ’n pou wat sy vrou en sy pelle met mekaar verwar. Een wat pronk om sy pelle te beïndruk en sy manlikheid voor hulle te bewys eerder as om háár te betower.

Jy sien, pronk gaan nie oor die pou self of oor sy pelle nie. Pronk gaan daaroor dat die aandag totaal en al na haar verskuif. Sy, en sy alleen, word die middelpunt van die aandag en hy sal alles doen om haar in die kollig te plaas. Tussen sy pelle behoort sy soos die belangrikste pouwyfie in die heelal te voel – ook weg van sy pelle.

So deur die jare het ek geleer dat my ewige stryd om “in” by my pelle te wees na net mooi niks lei nie. As ek my vrou van 25 jaar nie onder alle omstandighede, en voor alle mense, soos die belangrikste persoon in die wêreld laat voel nie, het ek gefaal in my manwees.

Ek het geleer dat manwees se sterkte juis daarin lê om nie sterk voor jou pelle te wees nie, maar juis in swak wees voor jou beste pel – om raad te vra, om teenoor jou vriend te bely as jy gefouteer het, om saam te bid en juis jou pel in te roep om jou verantwoordbaar te hou, sodat jy nooit om enige ander rede sal pronk as oor jou eie vrou nie.

 

Deur Etienne Piek