Ons dink maklik aan gesondheid as iets fisies. Ons praat oor wat ons eet, hoe gereeld ons oefen, en hoeveel ons slaap. Partykeer dink ons aan ons hart.
Maar min van ons dink doelbewus oor ons brein.
En tog raak dit alles. Hoe jy dink, hoe jy reageer, hoe jy besluite neem, hoe vinnig jy herstel ná spanning, en selfs hoe jy liefhet.
Dit is juis hoekom hierdie gesprek ook in ’n huwelik hoort.
’n Huwelik is nie net twee mense wat ’n lewe deel nie. Dit is twee mense wat mekaar help. Twee is beter as een, nie net prakties nie, maar emosioneel, geestelik… en selfs in hoe ons dink en groei.
Ek het onlangs geluister na ’n podcast van Caroline Leaf, wat al vir dekades werk in die veld van kognitiewe neurowetenskap en veral bekend is vir haar werk rondom neuroplastisiteit — die brein se vermoë om oor ’n leeftyd te verander en aan te pas.
Wat my getref het, is hoe sy een van die grootste mites oor veroudering aanspreek: dat ons brein onvermydelik agteruitgaan met tyd.
Die navorsing wys iets anders.
Ja, daar is verandering met ouderdom. Maar die brein verloor nie net vermoë nie, dit reageer op stimulasie, emosionele patrone, gewoontes, hoe ons leef en selfs hoe ons oor veroudering dink. Studies oor neuroplastisiteit wys dat nuwe neurale verbindings oor die hele leeftyd kan vorm, veral wanneer daar nuutheid, betrokkenheid en betekenisvolle stimulasie is.
“Ageing is biological, decline is not.”
Ons liggame verouder, maar dit beteken nie ons is bestem vir agteruitgang nie. Ons het meer invloed as wat ons dink.
Caroline wys op sewe eenvoudige gewoontes wat jou brein jonk en lewendig kan hou. En as jy getroud is, hoef jy dit nie alleen te doen nie.
Jy kan dit saam in jou huwelik leef.
En wanneer julle dit saam leef, gebeur iets besonders — jou brein word gevoed… en jou huwelik ook.
1. Kies nuut en anders
Een van die sterkste temas in Caroline se werk is die rol van nuutheid. Sy beskryf hoe die brein reageer wanneer ons iets ervaar wat nie deel is van ons gewone patrone nie. Dit aktiveer nuwe neurale paaie en help die brein om lewendig en ontvanklik te bly.
Die interessante deel is dat dit nie groot verandering hoef te wees nie. Navorsing wys dat selfs klein nuwe ervarings in jou omgewing of roetine — genoeg is om die brein te stimuleer. Wanneer alles voorspelbaar raak, begin die brein minder aktief reageer. Nie omdat dit nie kan nie, maar omdat dit nie hoef nie.
En dieselfde gebeur in ’n huwelik.
Liefde verdwyn nie, maar alles begin dieselfde voel. Ons beweeg op outomatiese patrone. Ons reageer dieselfde. Ons gesels dieselfde.
Nuut bring lewe terug — vir jou brein én vir julle verhouding.
Probeer dit saam:
- Gaan ontdek saam ’n nuwe plek: ‘n nuwe dorp of nuwe area in julle eie dorp, ’n koffiewinkel, of bestel iets op die spyskaart wat jy nooit sou bestel nie
- Kies ’n nuwe ding per maand om saam te leer, byvoorbeeld ’n musiekgenre wat julle nie ken nie. Gebruik hulpmiddels soos ChatGPT om dit maklik en lekker te maak: “Ons wil meer leer oor verskillende musiekgenres. Vra ons drie vrae om te bepaal wat by ons sal pas.”
- Luister saam na iets buite julle gewone belangstellings, dalk ’n podcast oor plantegroei in Italië.
- Vra mekaar nuwe vrae wat julle nog nooit gevra het nie. Julle kan selfs AI gebruik:
“Gee vir ons 10 vrae wat ons moontlik nog nie vir mekaar gevra het nie — ’n kombinasie van diep en lawwe vrae.” - Skep ’n “eerste keer lys” — dinge wat julle nog nooit saam gedoen het nie, en kies een elke maand.
2. Oefen emosionele aanpasbaarheid
Caroline beklemtoon dat emosionele rigiditeit, om vas te sit in dieselfde emosionele reaksies, ’n groter rol speel in veroudering as wat ons besef. Dit is nie die emosies self wat die probleem is nie, maar die gebrek aan beweging daarin.
Navorsing oor “cognitive reappraisal” wys dat wanneer ons ’n situasie anders begin interpreteer, ander neurale netwerke geaktiveer word. Met ander woorde, die manier waarop ons oor iets dink, beïnvloed hoe ons brein dit verwerk.
Wanneer ons emosioneel kan verander, van frustrasie na nuuskierigheid, van verdediging na begrip, bly ons interne wêreld meer oop. En ’n oop interne wêreld hou die brein jonk.
In ’n huwelik is dit krities. Want die verskil tussen groei en stagnasie lê dikwels nie in wat gebeur nie, maar in hoe lank ons daarin bly vassteek.
Probeer dit saam:
- Vra doelbewus: Wat kan nog waar wees hier? Ons eerste interpretasie is nie altyd die enigste een nie. Dalk is daar moegheid, spanning, of iets anders wat jy nie sien nie. Hierdie een vraag maak jou wêreld oop, en help jou om nie in een storie vas te sit nie.
- Gee vir mekaar ruimte om te kalmeer en terug te kom. Nie elke gesprek hoef dadelik opgelos te word nie. Partykeer is die gesondste ding om te sê: “Kom ons vat ’n breek en praat later verder.” Wanneer emosies sak, kom wysheid terug.
- Noem ook die goeie emosies, nie net die moeilikes nie.
Ons praat maklik oor wat verkeerd is, maar min oor wat reg is. Sê dit hardop: “Ek waardeer jou.” “Ek is trots op jou.” “Ek het dit raakgesien.” Dit bou veiligheid en maak moeilike gesprekke ook sagter. - Gaan ná konflik terug en verstaan mekaar se harte. Moenie net “aangaan” nie. Gaan terug en vra: “Wat het jy in daardie oomblik gevoel?” Baie keer lê die ware storie onder die reaksie, en dit is waar ons nader aan mekaar groei.
- Lag weer saam ná spanning. Dit help om die emosionele vloei te herstel.
3. Rus meer
Volgens die navorsing wat Caroline aanhaal, is rus ’n noodsaaklike proses waardeur die brein herstel, organiseer en weer in balans kom.
Gedurende slaap, en selfs tydens stil, ongestimuleerde oomblikke, vind daar belangrike prosesse plaas soos geheuekonsolidasie en neurale herstel. Wanneer hierdie ritmes versteur word, begin kognitiewe helderheid afneem, nie omdat die brein nie kan nie, maar omdat dit nie kans kry om te herstel nie.
Ons leef egter in ’n wêreld waar ons selde werklik rus. Ons rus met skerms. Ons rus met geraas. Ons rus sonder om stil te raak.
En dit raak nie net jou brein nie — dit raak jou huwelik. Want moeë mense is ongeduldige mense.
Probeer dit saam:
- Skep doelbewus ’n rustiger einde van die dag, nie net “ons kyk nou TV” nie, maar iets wat regtig help jou brein afskakel. Demp die ligte, sit sagte musiek aan, maak tee, sit langs mekaar. Selfs net 10 minute waar die dag tot ruste kom, maak ’n verskil aan hoe julle slaap én hoe julle die volgende dag begin.
- Gaan drentel saam ná aandete. Dit is goed vir vertering en vir gesels! Die Italianers noem dit la passeggiata — ’n rustige aandstappie, sonder haas. Mense stap stadig, hande dikwels agter die rug, en die dag word eenvoudig sag afgesluit.
- Gee vir mekaar toestemming om te rus, sonder skuldgevoel. Nie elke aand hoef produktief te wees nie.
- Maak julle slaapkamer ’n rustiger ruimte (minder skerms, sagter lig, minder chaos)
- Beplan doelbewus “leë spasie” in julle week, nie net aktiwiteite nie
4. Beweeg gereeld
Beweging bly een van die mees konsekwente faktore wat met breingesondheid geassosieer word. Caroline verwys na hoe selfs ligte, gereelde beweging die brein se suurstofvloei en biochemiese balans beïnvloed, wat weer help met fokus, geheue en denkvermoë.
Die sleutel hier is nie intensiteit nie, maar konsekwentheid en verskeidenheid.
Lang periodes van sit en oorstimulering kan die brein se fokus vernou. ‘n Bietjie beweging kan dit weer oopmaak.
Om as ’n paartjie saam te beweeg, en saam te oefen, is een van die wonderlikste idees.
Dit gaan nie net oor fiksheid nie. Dit gaan oor energie, ritme, en tyd saam. Wanneer julle saam beweeg, gebeur daar iets natuurliks, spanning verminder, gesprekke vloei makliker, en julle voel weer deel van dieselfde span.
Probeer dit saam:
- Stap gereeld saam, al is dit net om die blok.
- Bou klein bewegings in julle dag in. Staan op, maak koffie saam, rek bietjie, en doen ’n paar eenvoudige bewegings.
- Kry ’n aktiwiteit wat julle saam geniet. Fietsry, staproetes, swem, selfs dans in die kombuis. Maak dit iets waarna julle uitsien, nie iets wat julle “moet” doen nie.
- Gebruik beweging om spanning af te skud. Wanneer die dag swaar was, gaan beweeg eerder as om net te sit. Dit help jou liggaam én jou emosies om weer te herstel.
- Kies aktiewe tyd saam bo passiewe tyd langs mekaar. Dis maklik om langs mekaar te sit en elk op ’n skerm te wees. Maar wanneer julle saam beweeg, gebeur dinge!
5. Maak ruimte in jou kop
Een van die mees praktiese, maar onderskatte insigte uit Caroline se werk is hoe kognitiewe oorlading die brein beïnvloed.
Die bewuste brein kan net ’n beperkte hoeveelheid inligting op ’n slag hanteer. Wanneer dit oorlaai word met besluite, verantwoordelikhede, onafgehandelde gedagtes, begin dit minder effektief funksioneer. Fokus en kreatiwiteit verminder. Geduld verdwyn.
Dit is nie omdat die brein besig is om te “verouder” nie. Dit is omdat dit oorlaai is.
En in daardie toestand reageer ons anders — ook in ons huwelik.
Probeer dit saam:
- Hou ’n weeklikse “alles op die tafel” gesprek. Skep ’n veilige spasie waar julle kan afpak wat pla, wat druk, wat besluit moet word. Laat dinge in die lig kom. Julle hoef nie alles op te los nie, maar jy dra minstens nie meer alleen nie.
- Skryf dinge neer eerder as om dit net te probeer onthou. Ons breine is nie gemaak om alles vas te hou nie.
- Kies wat regtig belangrik is elke week. Kies saam ’n paar kernfokuspunte en gee julleself toestemming om nie alles te doen nie. Sê doelbewus “nee” vir dinge wat nie by julle seisoen pas nie.
- Verdeel verantwoordelikhede duidelik. Baie spanning kom nie van die hoeveelheid werk nie, maar van die onsekerheid oor wie wat moet doen. Wanneer dit duidelik is, kom daar rustigheid en verminder konflik.
- Raak ontslae van wat julle nie meer nodig het nie. Ons kaste raak vol. Ons huise raak vol. En uiteindelik raak ons koppe ook vol. Maak dit ’n gewoonte om gereeld te skenk, te vereenvoudig, los te laat. Minder goed beteken dikwels meer ruimte, nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Een kas op ‘n slag.
6. Bly betekenisvol verbind
Caroline beklemtoon ook die rol van betekenisvolle sosiale interaksie in breingesondheid. Wanneer ons praat, luister en subtiele seine interpreteer, word verskeie breinareas gelyktydig geaktiveer.
Hierdie tipe interaksie help om die brein geïntegreerd en aktief te hou.
Dit gaan nie oor hoeveelheid nie, maar oor kwaliteit.
En in ’n huwelik het jy daardie geleentheid elke dag.
Die vraag is net: gebruik julle dit?
Probeer dit saam:
- Sit elke dag, al is dit net vir ’n paar minute, sonder afleidings by mekaar. ‘n Kwaliteit oomblik elke dag wat sê: ek sien jou, ek hoor jou, ek is hier saam met jou. Met of sonder woorde.
- Deel iets wat jou laat dink het daardie dag. Dit kan iets klein wees soos ’n gedagte, ‘n Bybelvers, ’n gesprek, iets wat jy gelees of gesien het. Wanneer julle dit doen, nooi julle mekaar in julle innerlike wêreld in.
- Luister om te verstaan, nie net om te antwoord nie. Ons luister baie keer met ’n reaksie in ons kop. Maar wanneer jy regtig luister sonder om te onderbreek, sonder om dadelik reg te maak, gebeur daar iets sagter. Die ander persoon voel veilig.
- Maak oogkontak wanneer julle praat, dit verander alles.
- Maak ruimte vir ligte oomblikke saam.
7. Kies ’n groei-identiteit
Die laaste punt wat Caroline uitlig, is identiteit — hoe jy oor jouself dink.
Navorsing wys dat mense se oortuigings oor hul vermoë om te groei en te leer ’n direkte invloed het op hul gedrag, hul emosies en selfs hul kognitiewe funksionering.
Soos Henry Ford gesê het: “Whether you think you can, or you think you can’t — you’re right.”
Wanneer iemand glo hulle is oud, begin hulle so leef.
Wanneer iemand glo hulle kan groei, bly hulle leer.
En wanneer iemand glo hulle huwelik kan beter, begin dit verander.
Jy kan kies watter storie jy oor jouself glo.
Julle kan kies watter storie julle oor julle huwelik glo.
En uiteindelik is ons identiteit in Christus.
Wanneer jy weet wie jy in Hom is — geliefd, aanvaar, genoeg — hou jy op om jou waarde te soek in prestasie of selfs in jou huwelik.
Jy leef anders.
Vryer. Sagter. Sterker.
Probeer dit saam:
- Praat doelbewus oor wie julle nog besig is om te word. Hierdie tipe gesprek bring hoop en rigting, dit lig julle oë op van die alledaagse na die pad vorentoe.
- Gebruik taal van groei in julle huis. Woorde maak saak. Wanneer julle sê: “Ons leer nog… ons groei nog… ons is nie klaar nie,” skep dit ’n atmosfeer van genade en moontlikheid. Dit maak ruimte vir verandering.
- Herinner mekaar gereeld aan hoe julle al verander het. Dit is maklik om net te sien wat nog kort. Maar kyk ook terug. Waar het julle gegroei? Wat hanteer julle nou beter as ’n jaar gelede? Hierdie herinnering bou vertroue in jouself, en in mekaar.
- Vier klein tekens van groei. Die klein oomblikke tel: ’n beter reaksie, ’n sagter antwoord, ’n moeilike gesprek wat beter gegaan het. Wanneer julle dit raak sien en noem, versterk julle dit.
- Bid saam oor julle toekoms. Gebed bring perspektief. Dit herinner julle dat julle nie net op eie krag groei nie. Wanneer julle saam bid oor wie julle wil word, oor julle huwelik, oor die pad vorentoe, bou dit geloof en eenheid.
Wat my die meeste tref van hierdie sewe gewoontes, is hoe haalbaar dit is.
Klein keuses. Oor en oor.
En jy hoef dit nie alleen te onthou nie, julle kan mekaar help onthou.
En wanneer julle dit doen, bly nie net julle breine wakker nie, maar julle huwelik ook.
En dalk is dit presies waar nuwe lewe begin.
– Deur Liezel van der Merwe

