Maak vir jou ’n spesiale juweelstukkie wat jy óf om jou nek óf om jou arm kan dra. Jy het die volgende nodig:
2 koppies meelblom
1 koppie sout
Koue water
Leerriempie
Klein ronde skakeltjie
Neem nou die eerste drie bestanddele en meng tot dit die tekstuur van speeldeeg het. Maak ’n klein sirkeltjie daaruit (die res kan jy vir jou kinders gee om mee te speel!)
Vra manlief om sy vingerafdruk op die sirkel te maak. Maak ook ’n gaatjie aan die bopunt waardeur jy die skakeltjie kan druk. Bak dit teen 120°C vir twee ure lank. Laat afkoel en sproei met metaalkleurige verf. Steek die skakeltjie deur en hang aan die riempie vir ’n hangertjie of armbandjie.