Die versluierde spasie tussen fantasie, realiteit en die virtuele ruimte kan ’n huwelik laat verdwaal in die onderwêreld van ’n kuber-affair. ’n Geskeide man vertel hoe ’n virtuele verhouding hom sy huwelik gekos het. Maar daar kan ook lig aan die einde van die tonnel wees.

Promosie

Johan* (48) en Louise* (45) was hoërskool-verliefdes en het regdeur hul universiteitsjare vas uitgegaan. Kort nadat Johan klaar gestudeer het, het hulle saam ingetrek. Johan was 27 en Louise 25 toe hulle getroud is.

Skaars twee jaar later het hulle hul eersteling verwelkom – ’n onbeplande verassing. Louise wou ’n groot gesin hê, maar Johan wou eers ’n paar stempels in sy paspoort versamel. Tog het hy ingestem en is vier kinders uit die huwelik gebore.

Te midde van die oënskynlike mooi sprokiesverhaal het Johan egter gevoelens van frustrasie en verveling gekoester. “Ek is liewer vir my kinders as enigiets of -iemand in die wêreld,” getuig hy.

Promosie

“Maar ons huwelikspaadjie het net té vinnig té voorspelbaar geword. Ek wou nog die wêreld gaan sien saam met Louise, wegglip saam met haar na eksotiese plekke. Jy weet, soos daardie liedjie Cocomo.” ’n Bittersoet verlange is in sy stem hoorbaar. “Maar ons was grootliks Mamma en Pappa.”

“Sy is net ’n werksvennoot . . .”

Johan was vir ’n week uitstedig vir ’n werkskonferensie. “Ek werk vir ’n multinasionale organisasie. ’n Nuut-aangestelde kollega uit Amerika, wat in dieselfde departement as ek werk, het haarself voorgestel.” Hulle het onmiddellik gekliek en mekaar uitgesoek tydens groepwerksessies. In hul gedeelde professionele belangstellings het hulle mekaar boonop goed aangevul.

Ná die week is sy terug na hul Amerikaanse hoofkantoor. Johan het onmiddellik haar profiel op Skype opgesoek. “Ek het myself wysgemaak dat alles above board is – ons is immers net kollegas wat saam moet werk.” Tog het Johan ’n flikkering van belangstelling gevoel wat hy nie aan homself wou erken nie. Die vonke het gespat en die veldbrand van ’n kuber-affair het met Johan begin weghardloop.

Van lighartig na intiem

Aanvanklik was die trant van hul kommunikasie lighartig. Maar soos wat Johan se frustrasie met sy huweliksomstandighede gegroei het, het hul gesprekke al hoe meer intiem begin raak. Johan het ure voor die rekenaar of op sy slimfoon deurgebring en vir Louise laat glo sy aanlyn-maat is ’n kollega wat saam met hom aan projekte werk. “Dit was natuurlik net ’n halwe waarheid,” erken hy.

Op die kruin van die kuber-verhouding het hulle telefoonseks gehad. “Ek het geweet dis nie reg nie, maar omdat ek nooit fisies aan haar geraak het nie – sy was aan die ander kant van die aarde – het ek myself wysgemaak dat ek nie eintlik iets verkeerd doen nie.”

Tog was Johan baie versigtig dat Louise nie moes uitvind nie. “Ek het my foon omtrent aan my lyf gedra soos wat ’n FBI-agent sy pistool onder sy baadjie wegsteek. Ek het nooit my skootrekenaar onbewaak gelos nie.” Dit het vir byna ’n jaar so aangehou.

Eendag het Louise onverwags vir Johan by sy kantoor gaan verras. Sy wou hom uitneem vir middagete. Hy was in ’n vergadering en sy skootrekenaar het oop op sy lessenaar gestaan. Louise was verpletter. ’n Paar maande later is hulle geskei.

Tree terug na die werklikheid

“Uit die aard van die saak is ’n kuber-affair ’n perd van ’n ander kleur as ’n ‘gewone’ affair,” sê Carien du Toit-Joubert, sielkundige en gespesialiseerde huweliksterapeut in ’n privaat praktyk. “Maar die skade wat dit aanrig, is beslis nie minder nie.”

Carien sê dis maklik om in die lou water van ’n kuber-affair te dryf sonder om agter te kom hoe die virtuele verhouding stadig maar seker kookpunt bereik. “’n Aanlyn-verhouding kom aanvanklik heel onskuldig voor, en word dalk gebore uit verveling en nuuskierigheid.

“Maar die oënskynlike onskuldigheid bly selde behoue, veral as een of beide persone tot mekaar aangetrokke voel. En die psigiese energie wat jy eintlik veronderstel is om aan jou maat te wy, loop stadig maar seker uit jou huwelik uit – en in ’n ander mens se inbox in!”

Carien sê dat talle mense wat hul maats virtueel verneuk, dit nie aan hulself wil erken as ’n affair nie. “Hulle interne selfspraak klink dikwels só: ‘Ek is mos tuis by my man of vrou, doen nog my deel en kom my verantwoordelikhede na. Ek slaap nie saam met iemand anders nie . . . ons gesels dan net!’ Ongelukkig is die realiteit veel anders omdat die ‘vriendskap’ ’n emosionele exit uit jou huwelik bied en ’n agterdeur oophou.”

Boonop is dit maklik om in ’n fantasiewêreld te leef saam met ’n persoon wat nie die fisiese realiteite van ’n verhouding in die gesig hoef te staar nie. “Jou aanlyn-maat hoef nie saam met jou doeke skoon te maak of die stukkende yskas te hanteer nie. Julle leef in ’n fantasie – en hoe kan enige régte verhouding daarmee meeding?”

Die kuber-affair ontwikkel en groei dan in die privaatheid van jou eie psige omdat daar geen manier is om te verifieer of die idee van die mens wat jy in jou kop opmaak, met die werklikheid strook nie.

“Die toppunt van kuber-verneuk is wanneer jou maat in die troebel water tussen realiteit en fantasie trap, en (virtuele) seksuele kontak met die aanlyn-maat maak. Dit kan gebeur deur byvoorbeeld telefoonseks of sexting. Die gevare hiervan is duidelik.”

’n Huwelik kán wel ’n virtuele affair oorleef – en floreer, sê Carien. Eerstens moet julle saam gaan kyk na die leemtes in die verhouding wat die probleem veroorsaak het. “Julle sal afsonderlik, en ook saam, moet gaan kyk na die kern van die probleem. Dalk het julle verhouding gestagneer. Dalk is een, of beide van julle, verveeld met die status quo van julle huwelik.”

Tweedens, sê Carien, sal julle die vertrouensband moet herstel deurdat geen geheime vir mekaar gehou word nie. Gooi die ou struikelblokke uit. “Om bloot jou maat se foon of rekenaar te polisieer is nie die antwoord nie, want dit weerspieël nie vertroue in mekaar nie.”

Laastens sal dit help om te onthou dat daar geen “perfekte” maat bestaan nie. “Bring eerder die fantasie en speelsheid na die veilige spasie van jou huweliksverhouding.”