UIT HAAR PERSPEKTIEF:
Ek en Retief was eenmaal saam by ’n troue waar die jong bruid met groot entoesiasme aan haar bruidegom belowe het: “Liefie, ek sal nooit iets leliks teenoor jou doen nie, ek sal nooit iets leliks vir jou sê nie en ek sal nooit eers iets leliks van jou DINK nie.”
Die bruid se oupa het die seremonie behartig en nadat die beloftes afgelê is, het hy in ’n gewigtige stem gesê: “Dan wil ek nou . . .” Op hierdie punt dink ons almal hy gaan hulle nou aankondig as man en vrou, maar hy gaan voort: “. . . met ’n dankbare hart sê dat ek in 53+ jaar van getroude lewe myself nog NOOIT só vas belowe het nie!”
Op ’n mens se huweliksdag, met sterre in die oë, is julle meestal lief vir mekaar “as gevolg van”. Julle is lief vir mekaar as gevolg van die ander een se persoonlikheid, voorkoms, sin vir humor ens. Later wys die huwelik ons egter dat niemand van ons perfek is nie. As ons dan kies om mekaar te vergewe en lief te wees ten spyte van ons swakhede, of te midde van dit wat die moeilike tye in ons huwelike uitbring, kies ons vir ware, dieper, sterf-in-jouself liefde. Dit is ’n liefde wat kies om ons huweliksmaats se harte op die hande te dra ten spyte van die ander een se foute.
Vir baie mense is hierdie tipe liefde net te moeilik en is dit een van die grootste dinge wat ons weerhou van ware geluk in die huwelik.
Ek het al by só baie vroue gehoor: “Dis onmoontlik vir my man om opreg jammer te sê.” Die teendeel is egter ook waar: Ons as vroue glo soms dat ons altyd reg is en as ons mans net ons standpunt sal insien, sal alles beter gaan! Maar ons almal fouteer en ons almal se harte het ’n Redder nodig.
Lewis B Smedes het gesê: “To forgive is to set a prisoner free and to discover that the prisoner was you.”
Die punt is dat ons eintlik net onsself en uiteindelik ook ons huwelike daaronder laat ly as ons weier om ons huweliksmaats te vergewe. Ons is gevangenes van ons eie negatiewe emosies: Woede, selfbejammering, verwyte en bitterheid, en dit word ’n bose kringloop in die huwelik.
Kom ons kies om mekaar te vergewe en opreg jammer te sê wanneer ons mekaar seergemaak het. Met die Here se hulp en genade is só ’n sterf-in-jouself liefde moontlik. Ons harte en gedagtes sal soveel vryer wees en ons huwelike sal vlerke kry!
Deur Isabel Burger
- Isabel is gelukkig getroud met Retief Burger en die bevoorregte mamma van ’n pragtige seuntjie. Sy dien saam met Retief op die leierskap van die Every Nation-gemeente in Lynnwood. Sy bestuur haar eie arbeidsterapie-praktyk en is betrokke by die opleiding van studente. Sy is passievol oor die Here, Afrika, die lewe, mense, om ’n verskil te maak, nuwe avonture, donderstorms, sonsopkomste, driekamp, cappuccino en donker sjokolade!
OOR “AS” EN “DAT”… UIT SY PERSPEKTIEF:
Só kom ek en my vrou een aand terug van ’n lekker braai saam met vriende, maar daar is “iets” in die lug. Daardie “iets” wat die meeste van ons mans doodeenvoudig mis oor wat verkeerd geloop het. Wat sou volg, is een van die diepste taal-en-vergifnis-openbarings wat ek ooit sou hê. En alles het te doen met twee klein woordjies: “As” en “dat”.
Ná ek en Isabel oor die aand gesels het, gee ek ’n halfhartige “Jammer as ek jou seergemaak het”-antwoord. Tot my ontsteltenis werk my “belydenis” nie. Net oor daardie woordjie “as”. Jy sien, ons mans is soms net te trots om regtig jammer te sê. “As” beteken ek is nie heeltemal oortuig ek was verkeerd nie en ek neem glad nie eienaarskap van my fout nie. Ek is meer jammer dat ek uitgevang is en het nie ware berou nie! Met ander woorde, ek vra nie regtig om vergifnis nie.
Ons gesprek eindig toe mooi toe ons saam ontdek hoe ’n nederige en opregte “Jammer dat ek jou seergemaak het” die deur wyd ooplaat vir vergifnis en versoening. Jy sien, “dat” impliseer ons is regtig jammer en erken ons skuld. Dit is ook só in ons verhouding met die Here. Hy soek opregtheid diep in ons harte en dit is juis daar waar ware sondebelydenis begin. En dit is die pad na ware vryheid.
As man van die huis glo ek dat God my die leier gemaak het, maar in teenstelling met baie menings hieroor verstaan ek “leier” eerstens as “dienaar”. Iemand wat eerste moet dien. Soos Jesus gelei het en sy lewe vir ons afgelê het, só moet ek ook eerste as leier jammer sê en versoening soek. En soos Christus eerste as leier vergifnis aan ons bewys het, só moet ek dit ook aan my vrou gee.
Intimiteit groei altyd wanneer ons jammer sê en vergifnis uitdeel. Verhoudings versterk en konflik word ’n geleentheid vir genesing, mits daar versoening is. En ware versoening staan altyd op die tweeling-pilare van skuldbelydenis en vergifnis.
Ek het daardie aand die krag van opregte vergifnis en jammer-sê geleer. Kry ek dit altyd reg? Nee, maar met die Here se genade groei ek. Mag ons as mans sagte harte hê om ons vrouens te dien, vergifnis vrylik uit te deel en ook die geheim van “dat” jammer-sê leer ken.
Deur Retief Burger
- Retief het ’n passie vir Jesus, sy gesin, aanbidding en dissipelskap. Hy is gelukkig getroud met sy jarelange vriendin Isabel en hulle het een sprankel seuntjie. Hy is senior leier by Every Nation Lynnwood gemeente in Tshwane en bedien ook landswyd in lofprysing en aanbidding. Hy is lief vir sport, braai, jag, grappies maak en om nuwe plekke te ontdek. . .