Die tien kommunikasiewette in jou huwelik! (en vyf kommunikasie-tools wat jou huwelik kan red)
Is jy bekend as julle huwelik se chatterbox (die een met die 50 000 woorde per dag) en is manlief die mompelaar wat sy woorde beperk tot 50 per dag (met “ghmpf” as een van hulle)? Julle dink dalk dat julle mekaar verstaan en dat julle jul gesprekvoering onder die knie het, maar die misverstande tussen julle is onverklaarbaar . . . of is dit? Kommunikasie kan die verskil beteken tussen ’n huwelik wat werk en ’n paartjie wat voortdurend koppe stamp.
Hier is tien kommunikasiewette wat julle slaafs behoort te gehoorsaam:
1. Luister eers klaar vóór jy terug antwoord. En in ’n hittige argument, tel tot drie as jy kan . . . Dit is baie algemeen vir mense om te dink aan wat hulle wil antwoord terwyl die ander persoon nog praat. Soms is dit opgewondenheid om jou “ek ook-ervaring” te deel en soms slaan jy die tennisbal terug uit selfverdediging, en met mening. Onder Amerikaanse Indiane is daar ’n tradisie wat behels dat jy ’n “praatstok” vashou in raadsvergaderings. Jy mag slegs praat wanneer jy die stok vashou – die res moet luister tot hulle die stok in die hande kry. Probeer die volgende tegniek deur David Levin wat kommunikasieghoeroe, dr Alan Zimmerman, op sy webtuiste deel: Erken éérs die ander persoon se woorde en die feit dat jy geluister het, vóór jy terug antwoord. Doen dit deur te sê: “Liefie, as ek reg verstaan, sê jy ek raak deesdae vergeetagtig?” Of: “Jy het ’n punt beet, maar . . .” Hy vertel ook van Bob Parson se drie-sluk-tegniek. In plaas daarvan om dadelik terug te antwoord, neem hy drie slukke water (wat basies op drie sekondes neerkom). Dit gee hom tyd om te dink en die persoon wat terugvoer verwag, besef dat hy ’n deurdagte antwoord kry. Met dié tegnieke stuur jy ’n boodskap wat wys jy gee om, jy respekteer die ander party en jy het begrip vir wat jou maat gesê het.
2. Vermy kras woorde wat met emosie belaai is. Daar is sekere woorde en sinsnedes wat liefs vermy moet word. Jy wéét wat hulle is sonder dat ons hulle hier hoef te lys, maar veralgemenings soos “altyd” en “nooit” is deel hiervan. Wanneer julle in ’n vurige argument betrokke is, is dit hierdie woorde wat jy wil rondslinger om jou maat seer te maak en af te breek (soos Satan dit graag wil hê! Daarom plant hy hierdie woorde sommer heel voor in jou gedagtes sodat hulle maklik bereikbaar is). “Jy luister nóóit wanneer ek praat nie.” Of: “Hoekom sukkel ek altyd om tot jou deur te dring?” ’n Ander taboe is: “Jy is só kinderagtig, kom oor jouself!” Of: “Ek is só moeg vir jou vet, lui, logge lyf op ons sitkamerbank!” Of: “As jy meer van ’n man was, sou jy hierdie ding kon hanteer.” Dit is woorde wat diep seermaak en jul vertroue en intimiteit skend. Dit is ook woorde wat nooit teruggeneem kan word nie, so hou Pandora se kis dig gesluit. Stap weg as jy sukkel om jou tong te beheer.
3. Jy kan nooit te veel vrae vra nie. Die groot bron van misverstande is aannames. En ’n mens is geneig om ’n aanname te maak wanneer jy nie genoeg beskikbare inligting het nie. Daarom kan jy nooit genoeg vrae vra nie. Dit is iets wat ons ons oë laat rol wanneer ons jong, nuuskierige ontdekkertjies in die huis het, maar wat ons ons tieners en kinders op universiteit later (wanneer hulle in hul doppe kruip) aanraai om te doen! “Maak seker jy verstaan, vra genoeg vrae.” Dit is veral handig wanneer jy en jou maat reëlings tref. Wanneer hy sê dat hy jou na ’n uur by die inkopiesentrum se ingang sal kry, vra: “Van watter inkopiesentrum praat jy? Nommer drie? Die een met die matwinkel by die ingang?” Só nie, wag hy iewers anders en jy raak rooiwarm om die kraag. Wanneer sy vir jou vertel dat sy seergemaak voel omdat jy haar kar halfleeg in die garage gelos het, vra hoekom dit haar seermaak en nie kwaad maak nie. Hierdie beginsel is van toepassing op enige situasie – prakties én emosioneel.
4. Vermy negatiewe vergelykings soos die pes. Jou maat is ’n individu, uniek geskape. Om haar met iemand anders te vergelyk, kan haar diep seermaak, veral as sy haar bes probeer om nié so te wees nie of tevergeefs daarna streef om soos die persoon te wees met wie sy vergelyk word. “Jy is net so negatief soos jou ma,” is ’n lae hou. Só ook: “Hoekom kan jy nie meer soos jou sussie wees nie? Sy is altyd game vir enigiets!” As jy só iets kwytraak, voel jou maat waardeloos. Dit klink ook of jy aan die ander persoon gedink het, wat gevoelens van jaloesie by jou maat kan ontketen.
5. Ryg al jou empatie uit jou sakke. Sommige mense het meer empatie as ander. Jy word dalk daarmee gebore en sekere lewensituasies help jou om meer hiervan te kweek. Vir sommige mense verg dit meer moeite om empatie te toon, maar dit is iets wat jou ver kan bring as dit kom by kommunikasie in jou huwelik. Wanneer jou maat ’n hartsaak met jou bespreek, plaas jouself in haar skoene. Soms is ’n eenvoudige “Sjoe” of “Wow” genoeg. Eggo haar gevoelens terug deur emosies te gebruik. Sê: “Sjoe, ek kan hoor jy is platgeslaan deur die ontnugtering. Jy moet baie teleurgesteld wees.” Of: “Wow! Jy voel seker só trots op hierdie terugvoer – en met rede, jy verdien dit!” Wanneer jy jou maat laat verstaan dat jy nie net hoor nie, maar ook saam vóél, neem julle reuse-treë in die kommunikasie-afdeling.
6. Luister soms na jou maat se hart en nie na sy woorde nie. Sommige mense is doeltreffender met kommunikasie as ander. Ander is lomp met woorde en kan baie ondeurdagte dinge kwytraak. Wanneer ’n woordstruikelaar en ’n Sannie Sensitief met mekaar getroud is, kan groot moeilikheid ontstaan. Jy moet ’n toespraak vir jou kollegas voorberei en ná jy dit klaar voorgelees het, antwoord manlief: “Ek dink jy klink baie hard.” Hard? Soos ’n klip, sonder emosie? Niemand gaan na ’n harde vrou luister nie? Dit maal alles deur jou gedagtes. Wanneer jy egter wet nommer een gevolg het en by manlief uitgevind het wat hy werklik met sy woorde bedoel, sou jy uitvind dat die woord waarna hy op soek was “ferm” is. Maar jy het toegeslaan en sy opmerking as snedig afgemaak. As jy egter na sy hart geluister het, sou jy geweet het dat hy jou ’n kompliment probeer gee het en net nie mooi geweet het hoe om dit te doen nie . . .
7. Jou lyftaal spreek ’n duisend woorde. Soms hoef jy niks te sê nie – jou maat lees alles in die manier waarop jy vir hom kyk, jou lyf van hom af wegdraai of jou arms vou. Ons lywe kommunikeer ons diepste gevoelens. Negatiewe lyftaal kan skade aanrig. As jy jou vuiste bal of geïrriteerd op die tafel tik, begin julle nie op goeie voet nie. As jy egter aan jou maat se arm raak, jou kop knik wanneer hy praat en warm oogkontak maak, is die kanse soveel beter dat julle ’n probleem sal oplos, want jou maat hoef nie vanuit die staanspoor uit selfverdediging op te tree nie.
8. Leer jou maat se unieke bedrading verstaan. Hoe is jou maat gemaak? Is jou maat ’n ouditiewe, visuele of gevoelspersoon? Ouditiewe mense wil graag woorde hoor. As jy met só iemand getroud is, moet jy gereeld woorde van liefde en omgee uiter. ’n Visuele persoon wil nie bloot net die woorde hoor nie, maar dit in praktyk sien. Vir só ’n mens moet jy dus woord by daad voeg (mans is visueel ingestel). ’n Gevoelspersoon maak weer staat op nie-verbale boodskappe om die atmosfeer te ontsyfer. Natuurlik is dit ook noodsaaklik om jou maat se liefdestaal te verstaan. Gary Chapman het bepaal dat daar vyf liefdestale is en dat elke persoon een liefdestaal het wat effens sterker is as die res. Jou liefdestaal bepaal nie hoe jy kommunikeer nie, maar hoe jy graag liefde wil ontvang.
9. As jy iets wil hê, vra daarvoor. Jou maat kan nie jou gedagtes lees nie, so moet dit nie van hom/haar verwag nie . . . Wat ons só geneig is om te doen, is om te skimp. Skimpe het egter die potensiaal om verlore te raak of om heeltemal verkeerd geïnterpreteer te word. ’n Ander fout wat ’n mens dikwels maak, is om heeltemal stil te bly en te hoop ons maats weet waarna ons smag. As hulle dit nie regkry om ons gedagtes te lees nie, is ons teleurgestel. “Wat wil jy vir jou verjaardag hê?” vra hy. “Ag nee wat, niks nie, liefie,” antwoord jy. Hy behoort tog te weet dat jy lankal daardie pêrelring begeer waarby julle so gereeld stilstaan en wat jy deur die winkelvenster begeer. Jou verjaardag breek aan en wat het hy vir jou gekoop? Niks. Jy voel verwerp, jy voel ongeliefd en jy voel misverstaan. En dít terwyl hy jou presies gegee het wat jy gevra het. Dis onregverdig – na beide kante toe.
10. Moenie kommunikasie soos ’n strafstelsel gebruik nie. Net so hard soos wat jy met jou woorde kan slaan, só seer maak woorde wat weerhou word. Dink ’n bietjie hoe dit vir jou sal voel as jy vir jou maat vertel hoe lief jy hom het en hy nie ’n woord terug sê nie. En selfs goeie huweliksmaats maak hulle soms skuldig aan koue oorlogvoering wanneer “the silent treatment” in ’n konfliksituasie as straf gebruik word. Jy is kwaad vir jou maat en besluit om jou woorde te weerhou (ons moet erken, dit is ’n bietjie moeiliker vir die Evas as vir die Adams . . .). Dit het egter geen positiewe uitwerking nie. Gebruik eerder jul kommunikasievermoë om verskille op te los en julle huwelik te versterk. Kommunikasie is kragtig. As julle dit doeltreffend gebruik, kan julle enige struikelblok wat oor jul pad kom, oorkom.
Gebruik die volgende vyf kommunikasie-waarhede as kragtige instrumente teen konflik:
1. Jou reaksie bepaal die uitkoms. Selfs al sê jou maat iets wat jy glo net gesê word om jou uit te lok, hang alles af van hoe jy daarop reageer. Jou maat kan nie op sy eie baklei nie, hy het ’n teenstander nodig. Spreuke 15:1 sê: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam.”
2. Daar is krag in aanraking. Wanneer julle ’n moeilike gesprek moet takel, sorg dat julle aan mekaar raak. Rob Flood skryf op Familylife hy het gevind dat wanneer hy en sy vrou by mekaar op die bank sit en mekaar aanraak, daar verandering plaasvind sodra die gesprek vol konflik word. Hulle het besef hulle het twee keuses: Hulle kan ophou om mekaar aan te raak, sodat hulle kan aanhou baklei. Of hulle kan ophou baklei sodat hulle mekaar steeds kon aanraak. “Wanneer ons argumenterend raak, is ons fisieke verwydering ’n visuele en fisieke leidraad dat ons gesprek God nie meer verheerlik nie. Ons het dit raakgesien en kon weer op koers kom.”
3. Kies jou tyd reg. Die sukses van ’n gesprek tussen paartjies hang dikwels af van tydsberekening. Jy is dalk lus om ’n onderwerp in diepte te bespreek, maar jou maat is doodmoeg na ’n harde dag by die werk. Rampspoedig. Of jy voel besonder emosioneel omdat dit ’n sentimentele datum is en jou maat besluit om ’n irritasie te noem – nie ’n goeie idee nie. Wees meer strategies as dit kom by die gesprekke wat jy beplan om te voer.
4. Soms vra die situasie vir afstand. Die webtuiste imom.com deel die volgende, genaamd die STOP-instrument. Dit is ’n handige instrument om te gebruik wanneer die gesprek buite beheer raak:
STOP: Staak dadelik die gesprek as dit voel asof julle beheer verloor.
“TIME OUT”: Skep fisieke ruimte en afstand deur “time out” te neem vir 60 minute sodat julle kan kalmeer.
“OWN your own part”: Wanneer julle weg is van mekaar af, moenie dink aan die maniere waarop jy jou maat nou gaan konfronteer nie, maar dink eerder aan jou eie aandeel in die probleem of misverstand.
“PEACE OFFERING”: Ná julle tyd afsonderlik spandeer het, kom terug met ’n belofte om sekere gedrag te verander of sê iets positiefs vir jou maat.
5. Gee positiewe bevestiging met intervalle. Elke mens het ’n behoefte daaraan om waardevol en erken te voel. Maak seker jou maat voel belangrik deur gereeld positiewe dinge uit te lig wat jou maat doen, sonder dat hy/sy vir jou erkenning hoef te vra. Alledaagse dinge soos: “Sjoe, ek kan sien jy kom deesdae gereeld by die gym uit.” Of: “Dankie dat jy my stukkende bedliggie reggemaak het. Ek waardeer dit.” Jou positiewe gedagtes moet met intervalle uitgedeel word. Nie sóveel dat dit impak verloor nie en nie só min dat ’n mens nie eens die uitwerking daarvan kan agterkom nie, meen dr Danielle Forshee op haar webtuiste.
Doeltreffende kommunikasie kom nie vanself nie. Dit is iets wat jy moet inoefen, verbeter en verskerp. As jy sukkel in dié afdeling, maak ’n studie van goeie kommunikasie – kort voor lank het jy dit onder die knie.
www.drzimmerman.com, www.artofmanliness, “The ten commandments of marriage” deur Ed Young, www.famifi.com.