Om ’n mens se lewensmaat te verloor is vir die meeste van ons ondenkbaar. Stel jou voor jy het geleef in die 16e eeu, was geheel en al afhanklik van jou man (finansieel en emosioneel) en skielik sterf hy… en los jou, ’n swanger weduwee agter.
Argeoloë het ’n wonderlike werk. Hulle ontdek grepe uit die geskiedenis wat vir die meeste van ons slegs ’n raaisel kan bly… en waarvan ons ’n klein bietjie meer te wete kom, juis danksy hulle. So het argeoloë wat besig was om ’n antieke graf in Andong City, Suid-Korea, op te grawe, ’n vonds gekry wat hulle sprakeloos gelaat het, wat hulle geroer het en wat ons vandag weereens laat besef dat liefde tydloos is. Dat mense deur die eeue heen gevoel het wat ons voel en wat ons waarskynlik oor vierhonderd jaar steeds sal voel.
Hulle het die kis van ene Eung-Tae Lee, ontdek toe die stad van Andong grafte begin skuif het om plek te maak vir huise. Hy was ’n sestiende-eeuse man wat dood is op die ouderdom van 30. Tot en met sy dood op die ouderdom van 30, was hy ’n lid van die antieke Goseong Yi stam. Volgens die voormalige direkteur van die Andong Nasionale Universiteitsmuseum, het hy ’n donker snor gehad. Ook in die graf, langs sy kop (hy was nou ’n mummie), was ’n paar sandale. Nee, dit was nie sommer enige sandale nie… dit was sandale wat geweef is uit die bas van hennep (hemp) en sy vrou se hare. Sy vrou – wat stukkend was van die seer ná sy haar man verloor het. Saam met dié sandale was daar ’n brief wat op sy bors gelê het en oorvertaald lees die brief só…
Aan Won se pa, 1 Junie 1586
Jy het altyd gesê: “Liefste, kom ons bly by mekaar tot ons hare grys word en dan sterf ons op dieselfde dag.” Hoe kon jy sterf sonder my? Na wie moet ek en ons klein seuntjie luister en hoe moet ons lewe? Hoe kon jy voor my uitgaan?
Hoe het jy jou hart vir my gebring en hoe het ek my hart vir jou gebring? Wanneer ons saam gelê het, het jy altyd vir my gevra: “Liefste, koester ander mekaar so en het hulle mekaar so lief soos ons mekaar het? Is hulle regtig soos ons?” Hoe kon jy dit alles agterlaat en voor my uitgaan?
Ek kan net nie sonder jou lewe nie. Ek wil net na jou toe gaan. Asseblief neem my saam na waar jy is. My gevoelens teenoor jou kan ek nie in hierdie wêreld vergeet nie en my hartseer ken geen perke nie. Waar sal ek my hart nou insit en hoe kan ek lewe met die kind wat jou mis?
Kyk asseblief na die brief en vertel my in detail, in my drome. Want ek wil in detail na jou luister in my drome. Ek skryf die brief en sit dit in. Kyk mooi van naby daarna en praat met my.
Wanneer ek geboorte gee aan die kind in my, vir wie sal hy ‘pa’ sê? Kan engiemand begryp hoe ek voel? Daar is geen tragedie soos dié onder die hemelruim nie.
Jy is net op ’n ander plek en nie in soveel rou soos ek nie. Daar is geen perke en einde aan my hartseer wat ek rofweg beskryf nie. Kyk asseblief na hierdie brief en kom na my toe in my drome en wys jouself in detail en vertel my. Ek glo ek kan jou in my drome sien. Kom in die geheim na my toe en wys jouself. Daar is geen einde aan wat ek wil sê nie en ek sal hier stop.
Saam met die brief is sowat 130 ander items soos komberse en klere ook gevind. Vanweë die skryfstyl en gebruik van titels in die brief, is geglo dat die skrywer uit die aristokratiese Goseong Lee familie gekom het. In die brief het sy verduidelik haar man is dood ten spyte van al haar pogings om hom te genees – insluitende die weef van die sandale.
Twee novels is gebaseer op die verhaal – ‘Seeing the Light after 450 Years’ en ‘A Trumpet Creeper’. Die Andong Nasionale Universiteit se dansgeselskap het ook ’n uitvoering gelewe met eersgenoemde titel in 2000 en vyf jaar later is ’n musikale komposisie, genaamd ‘To Won’s Father’ vrygestel. Vandag staan daar ’n standbeeld van die ‘weduwee’ daar waar die graf was. Die brief en ander oorblyfsels uit die graf is nou by die Andong Nasionale Universiteitsmuseum in Korea. Koreaanse en Japanese toeriste het al derduisende kopieë van die brief gekoop. Park Chang-gun, ’n professor en regisseur van ’n opera oor die paartjie sê: “Dis ’n tydlose stuk wat mense steeds laat huil…”
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: lettersofnote.com; Archaeological Institute of America, via John Johnnson; Image of Sandals via withoutwax.org